Kommer oor wetsontwerp op klimaatsverandering se impak op ekonomie

Edna Molewa (Minister van omgewingsake) Foto: GCIS

AfriSake het vandag kommer uitgespreek dat ingryping in klimaatsverandering in die vorm van die nuwe Wetsontwerp op Klimaatsverandering van 2018 die risiko loop om Suid-Afrika se BBP-groeitrajek wat reeds swak is, selfs nóg verder te verswak.

Die sakebelange-organisasie is verder bekommerd dat die wetsontwerp se potensiële koste op die ekonomie nie behoorlik rekenskap voor gegee word nie in ’n gepaardgaande Sosio-ekonomiese Impakassessering (SEIA)-verslag wat deur die departement van omgewingsake gepubliseer is.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, is dit duidelik dat die SEIA-verslag baie relevante ekonomiese oorwegings nie in aanmerking geneem het nie. “Die SEIA wemel van bewerings, wat gesamentlik blyk om te kenne te gee dat die Suid-Afrikaanse ekonomie maklik die voorgestelde ingryping kan absorbeer met min addisionele koste. Dit is beslis nie die geval nie. Die veronderstelde voordele van die wetsontwerp sal waarskynlik beskikbaar wees teen hoë geleentheidskoste en verliese van ekonomiese doeltreffendheid.

“Indien die temperingstegnologieë, wat deur maatreëls in die wetsontwerp genoodsaak word, waarlik koste-effektief en doeltreffend was in vergelyking met bestaande alternatiewe, sou besighede na hierdie opsies oorskakel deur hul eie wilsbesluit met behoorlike oorweging van ware kostes en voordele. Deur sulke mandate afdwingbaar voor te skryf, selfs met die dreigement van tronkstraf, lei ’n mens onopsetlik geld, kapitaal en arbeid weg van die beheer van ondernemersoordeelkundigheid en na gesentraliseerde beplande regeringsbevel, wat dikwels duur en hoogs ondoeltreffend is,” voeg Le Roux by.

“Ingryping soos hierdie bring die waarskynlikheid mee om die handelskoste vir talle ondernemings te verhoog. Hoër koste beteken verliese van marginaal kompeterende ondernemings tesame met werksgeleenthede en ekonomiese produksie – iets wat Suid-Afrika met sy swak BBP-groeikoers en hoë werkloosheidsyfer kwalik kan bekostig,” sê Le Roux.

Heeltemal afsonderlik van die omvattende bewerings oor klimaatsverandering en die oorsake daarvan, bly AfriSake hoogs skepties oor die kostevoordeelanalise wat in die wetsontwerp se SEIA-verslag aangevoer word. Die organisasie se bewering is dat die koste van só ’n omvattende ingryping en die onopsetlike verhogings daarvan in die koste van regeringsburokrasie met ’n verdere las op die belastingbetaler veel groter sal wees as wat tans in die SEIA-verslag verkondig word.

“Ons glo ook dat welgestelde samelewings outomaties meer veerkragtig en aanpasbaar tot klimaatsverandering is. Ingryping wat die groei en doeltreffende funksionering van die ekonomie ondermyn, veral ’n ontwikkelende een soos in Suid-Afrika se geval, is beslis nie behulpsaam in daardie sin nie,” sluit Le Roux af.

AfriSake het sy lede aangemoedig om die waarskynlike addisionele kostes wat die wetsontwerp vir hulle eie werksaamhede inhou te evalueer en om toepaslik te reageer op die minister se beroep op kommentaar wat op 8 Augustus 2018 sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

O wee. En daar teken Suid-Afrika hulle sekfmoordbriefie. Hoekom nie hulle maatjies Indie en China se voorbeeld volg om baie geraas te maak oor die Parys verdrag maar die reg toe-eien om nog ongebreidelde groei te jaag tot ten minste 2030 toe nie?

Eish ·

Behandel die voorgestelde wetgewing in meer diepte asb. Ek het nie n koeken clue waaroor dit gaan nie.

Root ·

Dat klimaat verandering as gevolg van die mens se aktiwiteite is, is absolute bog!!!! Klomp narre wat pseudo wetenskap verkondig as die waarheid.

Geldmakery in die vorm van net nog belasting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.