Kommer, woede na nóg ’n voorval in Hluleka-reservaat

‘n Argieffoto van die Hluleka-natuurreservaat in die Oos-Kaap. (Foto: wildcoast.co.za)

Groot kommer heers oor die veiligheid van besoekers aan die Hluleka-natuurreservaat naby Mthatha in die Oos-Kaap, nadat nóg ʼn misdaadvoorval die afgelope naweek daar aangemeld is.

Die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap (ECPTA) sê intussen hy het veiligheidsmaatreëls by sy reservate opgeskerp en dat veldwagters onder meer patrollies doen.

ʼn Week gelede is Karen Turner (33) ʼn dag ná haar verjaardag in ʼn chalet in die reservaat vermoor. Sy was boonop drie maande swanger.

Haar man, Matthew (34), is ernstig beseer toe aanvallers Dinsdag in die vroeë oggendure hul huisie binnegekom en hulle oorrompel het. Maroela Media het vroeër berig vriende van die Turners, wat in ʼn eenheid langs hulle tuisgegaan het, het ʼn beroering gehoor en gaan ondersoek instel.

Matthew Turner word steeds in ʼn hospitaal behandel. Hy is aangeval toe hy oënskynlik die aanvallers probeer verwilder het. Die egpaar se 23 maande oue seuntjie, Hayden, was ongedeerd.

ʼn Familie van Kokstad het nou, ná die jongste voorval, ook hulle vakansie in die reservaat kortgeknip omdat hulle vir hul veiligheid gevrees het, berig News24. Belinda Bennett het luidens die berig gesê hulle is beloof dat daar 24-uur‑patrollies by die akkommodasiegedeelte van die reservaat sou wees.

Hulle het Saterdagaand gebraai, maar deur die nag toenemend bekommerd geraak nadat verskeie lede van die groep vreemde geluide buite die chalets gehoor het.

Hulle het die volgende oggend agtergekom die noodwiele van twee van hulle voertuie is deur die nag gesteel.

Bennett het op Facebook geskryf hulle was boonop geskok deur die arrogansie en ongevoeligheid van die reservaat se bestuur.

Denise Adams, wat ook deel van die groep was, het op sosiale media gesê die bestuur het aan hulle gesê hulle is welkom om die reservaat te verlaat, sou hulle onveilig voel. Hulle het dit inderdaad ook gedoen.

Die inskrywing op sosiale media oor die jongste voorval. (Foto: Facebook)

Kapt. Dineo Koena, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ʼn klagte van diefstal aanhangig gemaak is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Koena het ook gesê niemand is nog in verband met die aanval op die Turners aangekeer nie en dat die ondersoek voortduur.

Vuyani Dayimani, uitvoerende hoof van die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap (ECPTA), het gesê die agentskap werk nou saam met die polisie ná die voorval op die Turners. Hy het ook sy medelye met die gesin se familie betuig.

“Bedreigings aan die veiligheid en sekuriteit van besoekers aan die Hluleka-natuurreservaat, asook bedreigings van hulle eiendom, sal nie geduld word nie,” het Dayimani gesê.

“Besoekers aan natuurreservate verwag ʼn vreedsame en rustige ervaring en die onlangse gebeure het die tradisionele goedhartigheid, warm gasvryheid en die vriendelike aard van die sogenaamde avontuurprovinsie ondermyn.”

Dayimani het gesê toerisme is ʼn groot dryfveer van die provinsie se ekonomie, ontwikkeling, werkskepping en opheffingsprogramme. “Dit sal tragies wees as besoekers, plaaslik of internasionaal, die hele provinsie as onveilig beskou.”

Dayimani het gesê die agentskap werk saam met private sektor, die toerismebedryf, asook veiligheidsmaatskappye om die provinsie se talle uiteenlopende toerismebestemmings te beveilig.

“Die ECPTA het veiligheidsmaatreëls in al sy reservate verskerp en veldwagters doen patrollies. Ten spyte van dié maatreëls, word besoekers steeds gemaan om waaksaam te bly.”

Dayimani het ook gesê die agentskap en familielede van die slagoffers werk nou saam met die polisie en wetstoepassingsagentskappe om die oortreders aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Cherokee ·

Eintlik moet Suid Afrika se deure toegemaak word (met ons aan die buitekant daarvan).

Ernst Kotze ·

Ek stem saam.
Hulle is besig om hulself te benadeel. As daar nie noodsaaklike onderhoud gedoen word nie en nog boonop daardie houding het sal ek niemand aanraai en self ook nie besoek. Veiligheid eerste. Hulpvaardige personeel tweede. ????

Lindie De Lange ·

Met die bestuur se ongevoeligheid nadat daar reeds ‘n tragedies afgespeel het, en jy as kliënt nie veilig voel nie, moes nog ‘n tragedies afgespeel het voordat hulle sal Ag slaan? Dit vir seker net dat ek nooit my gesin daarheen sal neem nie.

Jaap ·

Punt is dit is onveilig.
Niemand wil dood gemaak word by n vakansieplek nie.
En dit is die hele Suid Afrika.
CR en sy slap Polisie brigade moet of moes lankal iets gedoen het.
Gaan nooit regkom nie.
Dit is die onveiligste plek in wereld -Suid Afrika.
Kyk maar dit gaan oral gebeur in n kort tyd.

LB ·

Die plek klink maar presies net so power soos die res van ons land wat deesdae gehul is in moord en misdaad. Ook die “bestuur” van ons land gee gladnie om wat met ons mense gebeur nie.

Zorro ·

As dit die houding van die veldwagters / bestuur is, moet hulle tot die lys van verdagtes gevoeg word.

Liezl ·

Ek stem saam met jou, Zorro. Klink vir my dit is ‘n interne gedoente. Kyk maar na wie is onlangs by die reservaat in diens geneem? Of is daar iemand wat ‘n verhoging gesoek het en dit nie gekry het nie? Of is iemand afgedank en kom hy nou terug om wraak te neem sodat plek ‘n slegte naam kry?

Swartwolf ·

Stem saam. Gewoonlik interne staf wat informasie vir ‘n deel van die buit aan die kriminele verkoop. Bly weg, boikot die oord. Tot hul die “wekkes” moet afle agv geen inkomste. Watookal jy voor betaal in SA dit befonds een of ander kriminele network.

Leon ·

die enigste manier om sekuriteit te hê, is om soldate met masjien gewere en soekligte te hê wat deur dei nag soos ‘n militêre basis opereeer.
Die kriminele val jou aan met AK-47s wat hulle nog oorgehou het van die sognaamde “stryd” en wat hulle van hulle pêlle kry oor die grens en wat die regering en polisie gladnie wil beperk nie. Inteendeel party dae lyk dit of die regering onwettge wapens eitlikaanmoedig.

Niklaas ·

Sulke plekke moet dan maar vermy word. Dan sal ons sien hoe vinnig word sekuriteit opgeskerp as eienaars dit aan hul sakke begin voel . Dis nogal merkwaardig hoe snel die verbeterings dan toegepas word aan gaste veiligheid , sodra die plek op die rand van bankrotskap is.

Nugter ·

Ek wonder of van die personeel nie dalk van die skuldiges is nie. Begin by die bestuur.

ES ·

Mense moet dan maar net wegbly – die bestuur het mos nou bewys dat hul nie omgee nie.
As hul nie meer okkupasie het nie, dan kan hul deure nie oopbly nie.

Blommie ·

Die arogansie van sekere mense in beheer maak my siek vir ons land en die kom al meer voor, ek het die mag en jy sal WAG of sukkel en PUNT.
Sulke mense op allevlakke moet verantwoordelik gehou word vir hulle dade, dis hartseer dat n jong mamma haar lewe moes verloor en niemand wil verantwoordelikheid aanvaar nie. Gaan mos NET oor GELD in die land en mens se lewe beteken niks nie.

Mariaan ·

Bestuur is net werkers..en soos in die res vd land VOEL HUL VERE vir diens of wins…maar brand die plek af as hul hul werk verloor….pateties!

DT ·

Boikot die plek dmv Facebook. Plaas dit ook op Hello Peter.Slaan dit waar dit die seerste maak nl sny inkomstebron af TOTDAT bestuur luister!!

Joke! ·

Met n houding van leave if you feel unsafe sal ek mense aanraai om eerder nie soontoe te gaan nie!

Waarheid ·

Versprei dit ook oorsee aan Buitelandse toeriste.
Die plek is gevaarlik.
Bly weg en sluit die deure

Nettie ·

Eerstens: Hluleka is geleë in …………………….. die Oos-Kaap, een van die mees-verarmde, agtergeblewene provinsies van die land en tweedens is daar vir seker ‘n uiters hoë werkloosheidsvlak. Waar jy verarming, agtergeblewendheid en hoë werkloosheid het, het jy ‘n resep vir misdaad. Derdens: Hluleka Nature Reserve word bestuur deur die inkompetente Oos-Kaapse Parke en Toerisme Agentskap (m.a.w. die regering), wie se lede julle-weet-wie is. Gevolglik is gevalle soos hierdie te verwagte. Wat kan ons daaromtrent doen? “Name & shame them” en verder: boikot die plek, want sonder toeriste, is die plek gedoem om sy hekke/deure te sluit – PERMANENT.

Dries Moolman ·

Dayimani moet wakker skrik, ek bly in die Oos-Kaap, in ‘n dorp, en ek en my gesin voel al jare onveilig. Hou ons huisdeure permanent gesluit wanneer ons tuis is, en snags sluit ons ook ons slaapkamer deur.

capitan ·

Sal nie soontoe gaan nie, klink soos interne probleem, die wagte dalk self betrokke.

ChrisE ·

Die polisie het glo aan die LUR van Toersime in die streekstaal (Xhoza) verduidelik dat dit slegs ‘n huismoles voorval was. Wat meer kan mens sê.

Hanlie ·

Dis so tragies dat alles ten gronde moet gaan as gevolg van swak bestuur en geen belangstelling in hulle werk nie. Hulle wag net vir die einde van die maand om salaris te ontvang. Ek sal beslis nie daai plek gaan besoek nie.

johan II ·

Dit is vreeslik..en om nou iets te verander is bietjie laat is dit nie. Lyk my hulle kan net reaktief optree…was anderdag inie kaap (“ooskus”), die kaap is net 20jaar agter die res van ons, hul is in vir nog baie probleme. En armoede is geen verskoning nie, die hele Afrika is arm en dit gaan nie oral so nie.

Merinda ·

Ek kan dae lank bespiegel. Mnr Turner gaan vir die res van sy lewe in ongemak leef, die aanval was net te erg, so glo ek hy is onskuldig. Inside job? (Eintlik altyd nê) Land claim? Dalk….. Of net die gewone, wat elke dag in hierdie land plaasvind…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.