‘Kommerwekkende’ styging in plaasaanvalle in die Vrystaat

(Argieffoto: Maroela Media)

Die landbougemeenskap in die Vrystaat is bekommerd oor die styging in plaasaanvalle en -moorde in 2019 en 2020.

Vrystaat Landbou (VL) het gesê hulle het die plaasaanvalle en -moorde wat verlede jaar in die Vrystaat aangemeld is, ontleed en sal in Maart ʼn volledige verslag bekendstel. Sover is dit volgens dié ontleding duidelik dat die aantal aanvalle en moorde van verlede jaar meer is as dié wat in 2019 aangemeld is – en dit ten spyte van drie maande se strawwe inperking en die aandklokreël.

In 2020 was daar 60 plaasaanvalle en 12 moorde, terwyl daar in 2019 in totaal 52 plaasaanvalle en 11 moorde aangeteken is. Dit is ʼn algehele toename van 12,5% – agt aanvalle en een moord meer as in 2019.

In die boerderygemeenskappe is 37 dorpe deur hierdie tipe misdaad geraak. Hoëmisdaadgebiede is as kleinhoewes om Bloemfontein en plase in die omstreke van Hobhouse, Marquard, Odendaalsrus, Theunissen en Virginia geïdentifiseer. Amper 30% van plaasaanvalle en -moorde het in boerderygemeenskappe in die omgewing van grensdorpe naby die Lesotho-grens plaasgevind.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, was altesaam 100 mense in 2020 slagoffers van plaasaanvalle, van wie 13 vermoor is. Verder is 30 werkers, 23 produsente, drie opkomende boere, vyf mense woonagtig op plase of kleinhoewes en 10 vrouens of seuns van produsente en/of werkers aangeval en/of vermoor. “Dit is vir die VL veral kommerwekkend dat kinders in vyf aanvalle ook onder die slagoffers getel het.”

Volgens die ontleding was daar in hierdie aanvalle gewoonlik ongeveer drie tot ses aanvallers betrokke. In meer as ʼn derde (37%) van hierdie aanvalle en moorde is vuurwapens gebruik.

In 11 van die aanvalle en moorde kon aanvallers nie daarin slaag om enige items te buit nie. Dit is danksy die vinnige reaksie van slagoffers en/of die teenreaksie wat hul ondersteuningsbasis gebied het, waarna aanvallers op die vlug geslaan het.

Buys meld dat 25 plaasaanvalle in 2020 voorkom is deurdat inligting vooraf vanaf boerderygemeenskappe ontvang is. Verder het die optrede uit polisiegeledere tot inhegtenisnemings gelei waar gewapende persone op pad was om aanvalle uit te voer. “Die feit dat werkers dreigemente wat aan hulle gemaak word, sowel as ander inligting betyds deurgee, het ook gehelp dat polisie en misdaadintelligensiestrukture inligting suksesvol kon opvolg. Sodoende is die aanvalle afgeweer.

“Kommunikasie en die deurgee van inligting is van kardinale belang om proaktiewe optrede teen misdaad in misdaadomgewings daar te stel,” sê Buys.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, sê boerderygemeenskappe moet hul waaksaamheid en weerbaarheid verhoog wanneer hulle hul plaaswerf of woning nader, aangesien meer as die helfte van aanvalle en moorde buite wonings gepleeg word.

“Boere moet ook daarop bedag wees dat aanvallers plase onder valse voorwendsels betree, deur hulself byvoorbeeld voor te doen as veekopers of selfs as amptenare verbonde aan sekere staatsdepartemente. In dié verband kan kamera-netwerke op plaaspaaie en by wonings voorkomend aangewend word,” sê Le Roux.

“Boere word ook versoek om deel te word van ʼn veiligheidstruktuur en -plan in hul onderskeie gebiede, soos om by ʼn boerevereniging en by VL in te skakel.”

Le Roux versoek ook boeregemeenskappe en veral gesinne om hulself deurlopend te bemagtig deur opleidingskursusse in huis-en-haard-beskerming te doen. Hy raai hulle ook aan om gereelde skietoefeninge met gelisensieerde vuurwapens by te woon, wat deur private sekerheidsmaatskappye in landbouverenigingverband aangebied en deur VL ondersteun word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Praat gaan ons nerens bring nie mense ons moet standpunt in neem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.