‘Kommerwekkende styging’ in talle distrikte – Mkhize

(Argieffoto: Ronny Hartmann / AFP)

Daar was die afgelope twee weke ʼn kommerwekkende styging in die getal Covid-19-infeksies in verskeie distrikte, met talle wat ʼn gemiddelde styging van 20% of meer die afgelope 14 dae aangemeld het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê gebiede in die Vrystaat, Gauteng, die Noord-Kaap en Noordwes is veral problematies, maar elke provinsie – met die uitsondering van Oos-Kaap – het minstens een distrik waaroor kommer bestaan.

In die Oos-Kaap is daar steeds nuwe infeksies, maar die persentasies bly op dieselfde vlak.

“Die Oos-Kaap het ʼn verwoestende tweede vlaag ondervind en was die eerste provinsie wat ʼn gedifferensieerde benadering gevolg het waar sekere metro’s en distrikte strenger regulasies as ander in werking gestel het toe dit nodig was,” sê Mkhize.

In hierdie stadium word talle streke deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) as “onder waarneming” aangedui weens die toename oor die laaste twee weke.

Mkhize sê hoewel sommige van die distrikte betreklik min gevalle het, is ʼn beduidende persentasieverskil ʼn wekroep.

Dié distrikte het ʼn gemiddelde styging van meer as 20%:

Limpopo:

  • Capricorn
  • Mopani

Vrystaat:

  • Mangaung-metro
  • Fezile Dabi
  • Xhariep
  • Lejweleputswa

Gauteng:

  • Johannesburg-metro
  • Sedibeng
  • Ekurhuleni-metro
  • Tshwane-metro

KwaZulu-Natal:

  • Ethekwini-metro

Mpumalanga:

  • Nkangala
  • Gert Sibande

Noordwes:

  • Ruth Segomotsi Mompati
  • Kenneth Kaunda
  • Bojanala Platinum

Noord-Kaap:

  • Pixley Ka Seme
  • ZF Mgcawu
  • Frances Baard

Wes-Kaap:

  • Kaapse Wynlande
  • Overberg

Variante

Mkhize sê hoewel B.1.351, die variant wat hoofsaaklik in Suid-Afrika aangetref word, meer mutasies as B.1.617 het – die variant wat oorwegend in Indië aangetref word – kon Suid-Afrika steeds die vlaag stuit.

“Ons hoef dus nie paniekerig te word oor die B.1.617 nie, omdat dit nes enige variant van die koronavirus behandel word en die voorkoming van die verspreiding daarvan ook dieselfde is.”

Mkhize sê wetenskaplikes is steeds besig om die monsters van pasiënte wat van Indië hierheen gereis het, te ontleed.

Een van die monsters wat van ʼn reisiger wat van Indië hierheen gereis het is klaar ontleed en daar is bevind dit is die B.1.351-variant, die stam wat oorwegend in Suid-Afrika in omloop is.

“Dit sê vir ons dat jy nie kan aanneem dat ʼn reisiger ʼn spesifieke variant dra nie en dit is hoekom ons daarop aandring dat ons deur wetenskap gelei word.

“Terselfdertyd deel ons die kommer van mense dat ons ʼn variant van kommer kan invoer wat nog ʼn vlaag kan veroorsaak.”

Die minister sê om dié rede oorweeg die nasionale koronavirusbevelsraad tans grensbeheermaatreëls. Die kabinet sal mettertyd ʼn finale besluit daaroor neem.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Connie

Maak al die grense nou toe, en geen vlugte van Indie of aansluit vlugte van Indie af nie, of wag julle nou eers tot op die nippertjie om te spring.

Hennie

Dis goeie nuus, in ‘n land waar daar derduisende gevalle per dag aangemeld word a.g.v die B.1.617 variant het die goeie ou SA B.1.351 variant geweet om op diè toeris te spring om terug te keer huis toe.

Pieter

En so hou die ANC sirkus aan darm verander hulle so nou en dan die narre

Dirk Mostert

So die variante het elkeen ook nog mutasies. As ‘n nuwe golf deur ‘n nuwe variant verwag word, beteken dit ons is reeds immuun teen die goeie ou Covid-19? Word ons nou geent vir Covid-19 of vir ‘n bepaalde variant? Is daar reeds verskillende toetse vir elke variant of mutasie?

Chris

Ek wonder soms of die minister rerig verstaan wat die medici vertel aangaande die verskillende variante. Ek betwyfel dit. ????