
Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris (Foto: ANA)
Genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het met “absolute ontsteltenis” kennis geneem van ʼn fopnuusberig waarin beweer word hy het gesê “hy glo nie plaasaanvalle bestaan regtig nie”.
Genl.maj. Sally de Beer, nasionale woordvoerder van die polisie, het gesê die storie het op die ooglopende fopnuus-webtuiste [email protected] verskyn en is glo deur ʼn ene Samantha van Zyl geskryf.
“Die storie beweer verkeerdelik en kwaadwillig dat die kommissaris gesê het hy glo nie plaasaanvalle bestaan regtig nie en boere hou net van die aandag,” het De Beer gesê.
Die berig lui onder meer dat Sitole gesê het die media oordryf net die kwessie van plaasmoorde. “Wit mense probeer net om die polisie te laat sleg lyk. Ek glo nie plaasaanvalle bestaan regtig nie. Ek is eintlik meer bekommerd oor mense wat deur wit boere vermoor word,” word Sitole in die berig aangehaal.
Die berig beweer verder dat Sitole gesê het boere is ryk en kan privaatsekuriteit aanstel as hulle oor hul veiligheid bekommerd is.
“Die kommissaris weerlê hierdie bewerings in die fopnuusartikel, want dit is vals en misleidend. Dit is duidelik met kwaadwillige bedoelings gepubliseer om paniek te saai en ontevredenheid onder gemeenskappe te veroorsaak,” het De Beer gesê.
De Beer het bygevoeg die kommissaris is toegewyd daaraan om ʼn veiliger omgewing vir alle inwoners te verseker, insluitend landelike gemeenskappe wat ʼn belangrike rol speel om voedselsekuriteit na Suid-Afrika te bring.
De Beer het verder gewaarsku dat mense wat vals inligting deur sosiale media versprei wat daartoe lei dat misdade gepleeg word en staatshulpbronne vermors word, ondersoek en siviel vervolg sal word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Ek glo die Kommissaris. Maar hy het al die hulpbronne. Soek en rook die skuldiges uit.
Ek hoop van harte hierdie is net fopnuus anders wag daar ń moeilike toekoms op ons boere.
So Kommissaris. As jy SO vinnig en passievol kan reageer oor wat jy NIE sê en dink nie…wat van jy SÊ en WYS wat jy rerig dink oor ons land se mense wat uitgemoor word op plase?
Die ding het soos n veldbrand deur die sosiale platforms beweeg. Iemand sal die dame moet aantree. Die goed doen ongelooflik skade aan die reeds plofbare helhool atmosfeer.
Toe ek dit per W/App ontvang, het ek dadelik besef dis fopnuus. Hierdie man is nie so dom om sulke uitlatings te maak nie.