Kommissie gaan 28 maatskappye vervolg vir ‘kartelgedrag’

Die Mededingingskommissie het Dinsdag gesê 28 maatskappye, insluitend die SAUK, is na die tribunaal verwys vir vervolging op aanklagte van die beweerde vasstelling van pryse en handelsvoorwaardes.

Die saak hou verband met ʼn ondersoek wat in 2011 van stapel gestuur is en bevind het dat verskeie mediamaatskappye, deur Media Credit Co-Ordinators (MCC), ingestem het om soortgelyke afslag en betalingsvoorwaardes aan advertensieagentskappe te bied wat advertensies plaas by lede van MCC.

Die kommissie het gesê MCC- geakkrediteerde agentskappe is afslag van 16.5% aangebied, terwyl nie-lede 15% afslag ontvang het.

Dit is dieselfde oortreding waarvoor DStv Media Sales ingestem het om ʼn boete van meer as R22,2 miljoen te betaal, terwyl Caxton & CTP Publishers and Printers ingestem het om meer as R5,8 miljoen te betaal, en Independent Media twee weke gelede meer as R2,2 miljoen betaal het nadat hulle skuld erken het.

Die kommissie het ook bevind dat die betrokke maatskappye, deur MCC, ʼn tussenganger genaamd Corexalance aangestel het om risikoassesserings te doen oor advertensieagentskappe om ʼn afslagstruktuur en voorwaardes vir advertensies saam te stel.

Die kommissie het bevind dat die praktyk kompetisie beperk onder mededingende maatskappye, aangesien die afslag nie onafhanklik bepaal is nie en die prys is gevolglik vasgestel – in oortreding van die Mededingingswet.

Deur die saak na die tribunaal te verwys vir vervolging, wil die kommissie ʼn bevel bekom wat sal verklaar dat die maatskappye die wet oortree het en boetes kragtens die wet moet betaal.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, het in ʼn verklaring gesê dit is een van die mediapraktyke wat die instelling van die Mededingingswet in Suid-Afrika oorleef het. “Dis ʼn probleem, want dit konsolideer die bedrywighede van ʼn paar mediahuise wat saamspan teen hoofsaaklik kleiner advertensieagentskappe,” het Bonakele gesê. “Dit is bemoedigend dat sommige mediahuise geskik het en sal direk ʼn bydrae lewer tot die bevordering van klein en swart advertensieagentskappe.”

Die mediamaatskappye is:
1. SAUK
2. Media 24
3. Primedia
4. Mail & Guardian
5. Avusa Media
6. Mtv Networks Africa
7. Media 24 Magazines
8. Primedia Outdoor
9. Cinemark
10. Comutanet
11. Conde Nast Independent Magazine
12. The Citizen
13. Spark Media
14. Apurimac Media
15. Provantage Media
16. Radmark
17. Carpe Diem Media
18. Rodale And Touchline
19. Mandla-Matla Publishing
20. Ramsay Media
21. Lugan Investments
22. Associated Media
23. Associated Hearst
24. Capro
25. Trudon
26. United Stations
27. Continetal Outdoor
28. Media Credit Coordinators

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sotheid ·

Dis standaard praktyk om afslag aan konglomerate aan te bied. Jy word ‘n lid van ‘n organisasie en met hulle “Rewards” program, kom jy in aanmerking vir beter pryse.
Die mededingings kommissie is besig om die land oor te reguleer & die bietjie ekonomiese aktiwiteit wat nog oor is . . . aan bande te lê
Wonder wié is die begunstigdes van die boetes?

Piet Pompies ·

Prys vasstelling is nie goed vir die ekonomie… net die hoof van die besigheid baat daarby, nie sy werkers. My werkgewer kry optiese vesel internet en onbeperkte data teen die beste spoed vir ‘n vaste prys van R800. Ek woon 3 minute se ry van die werkgewer af, optiese vesel data in nie beskikbaar, slegs ‘n selfoon sein. My diens is R1200 met ‘n beperking van 6Gig, en die spoed….stadig. Gee die verdiende boetes maar uit, die publiek betaal vir daardie gunsies..

Vat alles! ·

Vat alles deur onteiening, dan kan dit mos nie weer gebeur want die staat het dan die sê en alle mag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.