Kommissie gaan Topbet-voorval ondersoek

Topbet se Germiston tak. Foto: www.grandgaming.co.za

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) het gesê hy neem met “diep kommer” kennis van mediaberigte oor die beweerde seksuele teistering en menseregte-oortredings by die Topbet SA-dobbelonderneming se tak in Germiston.

Die kommissie het gesê hy sal na aanleiding hiervan sy ondersoek na die voorval van stapel stuur. Die KGG kan ingevolge die grondwet enige geslagsverwante kwessies uit hul eie of na aanleiding van ʼn klagte ondersoek.

Die kommissie het ook die media geloof vir hul deurlopende dekking van oortredings teen vroue en geslagsregte.

Maroela Media het vroeër berig ʼn saak van seksuele aanranding word ondersoek ná vrouewerknemers van die Topbet-dobbelonderneming glo gedwing is om hul klere by hul werksplek uit te trek om deursoek te word. Twee mense is sedertdien in hegtenis geneem in verband met die voorval.

EWN het berig sowat 20 vrouewerknemers is by die onderneming se Germiston-tak ondersoek omdat daar glo ʼn klein hoeveelheid menstruele bloed in een van die personeelbadkamers aangetref is.

Dominique Luden, een van die direkteurs van Topbet, het Maandag aan Maroela Media bevestig die kwessie is in Februarie, twee dae ná die voorval, deur ʼn senior werknemer onder hul aandag gebring.

Volgens haar is daar onmiddellik ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

“Die ondersoek het daarop gedui dat dié onmenslike en vernederende ondersoek deur een van ons vroueskoonmakers uitgevoer is in opdrag van een van ons vrouetakbestuurders, sonder die kennis of magtiging van die Topbet-bestuur,” het Luden gesê.

Sy het beweer ouer en swanger vroue is nie deursoek nie. EWN het egter berig dat ʼn 52-jarige werknemer glo gesmeek het om nie deursoek te word nie omdat sy reeds deur die menopouse is, maar toe wel deursoek is.

Die KGG het in ʼn verklaring gesê hulle sal ingevolge die grondwet poog om enige geskil reg te stel deur bemiddeling, versoening en onderhandeling.

Die twee verdagtes wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, sal op 29 Maart weer in die Germiston-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marous ·

Waarom moet ‘n kommisie dit ten koste van die reeds bankrot belastingbetaler
ondersoek ? Daar is reeds straf sake of vertrou hulle nie die Polisie nie?

PJC ·

Deesdae hoor ń mens van allerhande snaakse goed maar ek moet sê hierdie vat die koek.

snoefie ·

“menstruele bloed, mind you, nie bloot net bloed nie. watter kenner het bevestig dis menstruele bloed nie neus od ambeibloed nie?

Alida ·

Sies dit is walglik en behoort nie op TV te wees of in koerante nie. Doen dit intern ons stel nie belang nie.

Yvonne ·

Ek verstaan daardie bestuurder se frustrasie. Ek is ‘n office manager en wat ons al gevind het in die dames badkamers is skokkend. Kan nie glo vrouens is so vuil nie.
Take note… wat die bestuurder gedoen het was verkeerd. Ons roep maar ons dames gewoonlik bymekaar en dan het ons “bathroom etiquette” geselsies en hoop maar dit werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.