Kommissie gevra om Guptas se e-posse as bewyse toe te laat

Die embleem van die kommissie van ondersoek na staatskaping.

Die kommissie van ondersoek na staatskaping se regspan wil hê die Gupta-familie se e-posse wat aan die media uitgelek is en staatskaping aan die lig gebring het, moet as bewyse toegelaat word.

Paul Pretorius, die kommissie se regshoof, sê die bewyse is in die vorm van data op hardeskywe. “Die aansoek word gedoen namens Terence Nombembe, die kommissie se hoofondersoeker.”

Die Sunday Times het op 28 Mei 2017 die sogenaamde Guptaleaks gepubliseer. Kort voor lank het verslaggewers van onder meer die Mail & Guardian se onderafdeling, amaBhungane, uittreksels en ontledings van die data begin plaas.

“Al dié data kom oorspronklik van ʼn hardeskyf, wat die kommissie in veilige bewaring hou,” sê Pretorius. “Dit is waarna nou verwys sal word as die oorspronklike hardeskyf.” Hy het bygevoeg dit het aan die Gupta-beheerde Sahara Computers behoort.

ʼn Deskundige in Europa het ʼn “forensiese beeld” van die hardeskyf gemaak. Nog twee hardeskywe is duplikate van die oorspronklike, wat beskadig is, sê Pretorius.

“Die gevaar bestaan as ʼn leek dié hardeskyf hanteer, kan dit onherstelbaar beskadig word. Net deskundiges behoort met die oorspronklike te werk. Die drie hardeskywe bevat inligting wat relevant vir die kommissie is.”

Pretorius sê dit hang van Sahara Computers af of hulle die gebruik van die hardeskywe as bewyse wil teenstaan, maar die kommissie se opdrag is om alle bewyse te ondersoek en hy word nie in sy taak beperk nie.

“ʼn Dilemma kan Sahara Computers in die gesig staar as die e-posse reeds deur die media in die openbare domein is,” meen Pretorius.

Pretorius het aan die ondersoekkommissie gesê die hardeskyf het beland in die hande van twee fluitjieblasers, wat verkies om anoniem te bly en wat sal getuig, verkieslik in Julie volgende jaar. Die twee het op die data afgekom en die prokureur Brian Currin gevra om die inligting te hanteer omdat hulle nie die kennis gehad het wat sulke opspraakwekkende inligting verg nie.

Prerorius sê die twee getuies het vir hul veiligheid gevrees en die land verlaat. Currin sal na verwagting Dinsdag getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.