Kommissie hoor Mdluli ‘is beskerm’

Richard Mdluli.

ʼn Senior aanklaer het Donderdag aan die Mokgoro-kommissie van ondersoek gesê adv. Lawrence Mrwebi het Richard Mdluli van vervolging beskerm deur sake terug te trek selfs toe daar prima facie-bewyse teen hom bestaan het.

Adv. Jan Ferreira het Donderdag voor die kommissie getuig wat deur pres. Cyril Ramaphosa op die been gebring is om ondersoek in te stel na advv. Nomgcobo Jiba en Mrwebi, die geskorste spesiale direkteur van openbare vervolging, se geskiktheid om hul amp te beklee.

Ferreira het getuig hoe Mrwebi aanklagte teen Mdluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie, teruggetrek het wat verband gehou het met twee BMW’s wat hy bekom het deur middel van ʼn lening van Atlantis Nissan, die maatskappy wat voertuie vir misdaadintelligensie voorsien.

Hy het gesê van die redes wat Mrwebi aangevoer het hoekom die aanklagte teen Mdluli teruggetrek moes word, was dat die polisie nie geregtig was om die saak te ondersoek nie en dat dit deur die inspekteur-generaal van intelligensie hanteer moes word.

Ferreira sê hy het nie met dié siening saamgestem nie. “Die polisie is grondwetlik verplig om misdaad te ondersoek. Hulle is geregtig om enigiemand vir enige bewyse te dagvaar.”

Hy het gesê al die partye het geglo die polisie moet die saak ondersoek, onder wie aanklaer en voormalige Valke-hoof, Anwa Dramat.

Ferreira het gesê hy en voormalige aanklaer Glynnis Breytenbach het ʼn memorandum in dié verband geskryf.

“Ons het geglo daar was ʼn prima facie-saak teen Mdluli en ons was bekommerd dat hy beskerm is teen vervolging,” het hy gesê.

Mrwebi se besluit om die saak teen Mdluli terug te trek, is hersien en ter syde gestel. Tot dusver is die saak egter nooit weer op die rol geplaas nie.

Ferreira sê daar is talle aanklaers wat glo daar is ʼn sterk saak teen Mdluli, maar nou weier die nasionale polisiekommissaris om sekere dokumente te deklassifiseer.

“Daar is geen rede hoekom hy dit nie moet deklassifiseer nie,” het Ferreira gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alida ·

Genade ek dog hy is lankal in die tronk!! Maar niemand van die ANC gaan tronk toe nie dit is mos algemene kennis. Hulle word net ryker en ryker.

LV ·

Ek vermoed ons het nog nie die volle verhaal van Mdluli gehoor nie,hierdie ou was net te magtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.