Kommissie hoor oor Eskom se ‘ongewone’ steenkoolkontrakte

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, by die Zondo-kommissie van staatskaping. (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency)

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore Plc, het Woensdag aan die Zondo-kommissie gesê die koste-plus- model vir kontrakte wat Eskom met steenkoolmyne aangegaan het, was die beste model hoewel dit “nie normale transaksies was nie”.

Ephron het aan die kommissie agtergrond gegee oor die langtermynkontrakte wat Eskom met Optimum Coal Mine aangegaan het. Die kontrakte was om Eskom se Hendrina-kragstasie jaarliks van tussen 3 miljoen ton en 6,5 miljoen ton steenkool te voorsien op ʼn koste-plus- grondslag.

Dit was voordat Optimum deur Glencore oorgeneem is waarna die betaling na ʼn “vaste prys”-model oorgeskakel het – dié model laat die mynmaatskappy al die koste en verliese dra en neem inflasieaanpassings in ag.

Die Optimum-steenkoolmyn het aan Trans-Natal Collieries Limited behoort toe die 25 jaar lange kontrak in 1993 aangegaan is.

Ephron het gesê die voordeel van ʼn koste-plus- ooreenkoms vir Eskom was dat indien hulle die produksie beheer het, sou hulle altyd ʼn regverdige prys vir steenkool betaal wat nie afhanklik is van markpryse nie en dít het die volhoubaarheid van die myn verseker.

“Om dit in eenvoudige terme te stel, met die koste-plus- model was Eskom verantwoordelik vir al die koste ongeag wat hierdie koste was, plus ʼn vooraf ooreengekomde winsmarge vir die mynhuis. Met ʼn vaste prys is die myn ten volle verantwoordelik vir al die koste en sou die steenkool aan Eskom verkoop word teen ʼn vaste prys ongeag van die koste en winsmarge,” het Ephron gesê.

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, getuig voor die Zondo-kommissie van staatskaping. (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency)

Op ʼn vraag van adjunkhoofregter Raymond Zondo of dit standaard sakepraktyk is dat die kliënt verantwoordelik is vir die verskaffer se koste, het Ephron gesê die koste-plus- model is nie iets vreemd nie. “Wanneer ons praat oor koste-plus, was dit destyds ʼn normale ooreenkoms vir Eskom en het dit sin gemaak daardie tyd, weens Eskom se afhanklikheid van die myn en die feit dat steenkool daar reg by hulle was,” het Ephron gesê.

“Dit is nie ʼn gewone transaksie nie, maar as dit korrek bestuur word, glo ek dat dit sin maak, want jy bou ʼn kragstasie net daar by die hulpbron. Die koste-plus is nie vreemd nie … kyk eerder daarna as ʼn vennootskap. Eskom betaal deesdae baie meer as wat hulle sou as hulle by die koste-plus- myne gebly het.”

Ephron se getuienis het verder gehandel oor hoe Eskom-beamptes glo die Gupta-familie gehelp het om Optimum Coal Mine by Glencore oor te neem in ʼn ooreenkoms wat na bewering deur Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, georkestreer is.

Die Gupta-familie se Tegeta Resources het Optimum Coal Mine in 2016 by Glencore vir R2,15 miljard gekoop nadat Eskom ʼn twyfelagtige voorafbetaling van R586 miljoen vir steenkool aan die maatskappy voorgeskiet het. Dit was presies die bedrag wat Tegeta gekort het om sy aankoop van die steenkoolmyn te finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann cb ·

Eskom is nie net besig om Suid-Afrikaners op hul knieë te dwing nie, maar ons moraal te verwoes! Wanneer gaan ons weer bietjie goeie nuus kry?

Elsa ·

Johann CD, dit is goeie nuus dat alles oopgevlek word vir almal dit kan sien. Net soos moord, moet hierdie persone ook regtelik vervolg word. (Hul kan altyd uitgelewer word aan woedende publiek wat nou die gelag WEER moet betaal.)

Dries du Toit ·

Ja Johann dit begin nou ondraaglik pynlik raak. Die ordentlike Suid Afrikaners lei nou almal al aan maagsere en depressie.

Elsa ·

Johann CD, dit is goeie nuus dat alles oopgevlek word vir almal dit kan sien. Net soos moord, moet hierdie persone ook regtelik vervolg word. (Hul kan altyd uitgelewer word aan woedende publiek wat nou die gelag WEER moet betaal.)

Boet ·

Wonder wat sal eskom doen as almal so paar maande skip on te betaal want my moet jou krag opwekker mos afbetaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.