Kommissie hoor oor ‘ongerymdhede’ met Eskom-steenkool

Argieffoto: GCIS

Adv. Kate Hofmeyr, die getuienisleier in die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping, het Dinsdag ʼn oorsig aan die kommissie gegee van die bewyse van korrupsie in Eskom se steenkoolvoorsieningsooreenkoms met Gupta-familiebesighede wat deur ʼn nuwe getuie gelewer sou word.

Daniel Mashigo, waarnemende hoofbestuurder verantwoordelik vir primêre energie by die kragvoorsiener, het vandag in die getuiebank voor die Zondo-kommissie ingeskuif oor bewerings van kaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor, insluitend staatsinstansies.

Hofmeyr het gesê Mashigo sal aanvoer hoe Eskom in 2014 ’n tien jaar-steenkoolvoorsieningsooreenkoms ter waarde van R4,3 miljard met Tegeta Exploration and Resources, ’n Gupta-familie-steenkoolmynmaatskappy, aangegaan het om steenkool aan die Majuba-kragstasie vanuit sy Brakfonteinmyn in Mpumalanga te voorsien.

Sy het verder gesê dat bewyse wat vanaf Eskom-hardeskywe verkry is, toon dat baie druk op Eskom-werknemers geplaas was om dié ooreenkoms binne 48 uur te finaliseer.

Hofmeyr het gesê dié getuienis sal ondersteun word deur vier verslae wat tussen 2015 en 2018 deur die Nasionale Tesourie, Fundudzi Forensiese Spesialiste, en twee deur die ouditeursfirma PwC saamgestel is.

Dié verslae toon dat Eskom in Desember 2014 ʼn ooreenkoms met Tegeta aangegaan het voordat ’n ondersoek na finansiële omsigtigheid voltooi is. Dit is ook aangegaan sonder dat enige verbrandingstoetse op die steenkool wat verskaf sou word, gedoen is.

Hofmeyr het gesê nadat die ondersoek na finansiële omsigtigheid wel later in April 2015 voltooi is, is bevind Tegeta is nié in staat om ’n kontrak van dié omvang te hanteer nie.

Sy het verder verduidelik bewyse toon dat soos die kontrak verloop het, het die kwaliteit van Brakfontein se steenkool al meer verswak.

Op grond hiervan is monsters na ’n onafhanklike steenkoollaboratorium, Sibonisiwe Laboratories, geneem om getoets te word. Die helfte van die monsters het die gehaltetoets gedruip. Toe monsters van Brakfontein na die laboratorium van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) geneem is, het 29 uit die 30 monsters nie die toets geslaag nie.

Hofmeyr het gesê dat die wyle Mark van der Riet, Eskom se beste steenkoolspesialis ooit, destyds so bekommerd was oor dié verwikkeling dat hy ondersoek daarna ingestel het en ʼn besluit is geneem dat hy na Brakfontein sou reis om te sien hoe die steenkoolmonsters versamel word.

“Maar kort voor dit het mnr. Matshela Koko, uitvoerende hoof van Eskom, aan Van der Riet gesê om nié te reis nie. Dit beteken dat die monsters geneem is sonder dat enige Eskom-personeel teenwoordig was.”

Van der Riet het glo aan Eskom se uitvoerende hoofde gesê om versigtig te wees na wat met die Brakfontein-steenkool gebeur het.

“Hy het begin om ’n verslag op te stel vir Eskom, maar kon dit nie voltooi nie aangesien hy net die volgende week vir 32 maande geskors is,” het Hofmeyr gesê. “Vir die volgende twee jaar was Eskom sy dienste kwyt, maar hy is later vrygespreek en op 1 Mei 2018 weer aangestel.”

Hofmeyr het ook aan die kommissie gesê toe Tegeta in Augustus 2016 begin het om minder steenkool te voorsien as wat in die kontrak gestipuleer is, het Eskom die Nasionale Tesourie in 2017 genader om te versoek dat R2,9 miljard aan Tegeta toegestaan word sodat die kontrak tot 10,8 miljoen ton steenkool verhoog kon word.

Die Nasionale Tesourie het hierdie versoek afgekeur nadat hy van Brakfontein se substandaardsteenkool te hore gekom het.

Tegeta het voortgegaan met die verskaffing van steenkool, maar dit het egter begin daal en in November 2017 het die onderaanbodsituasie beduidend geword. In Februarie 2018 het Tegeta in sakeredding gegaan en kon die maatskappy sedertdien nie meer steenkool aan Eskom verskaf nie.

Volgens Hofmeyr beloop boetes wat Eskom aan Tegeta opgelê het nou R500 miljoen.

Mashigo het sy getuienis begin deur ’n agtergrond van sy werk te gee voordat die kommissie vir ’n teebreuk verdaag het. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

IK ·

Uit die berig lei ek af dat die steenkool se gehalte maar eintlik koko was.

SjN ·

Skerp IK, joune is beslis bo gemiddeld, ek met n baie lae IK weet wat jy bedoel.

Sjn ·

Wat beteken al die kommissies, korrupsie word uitgewys en erken en geen stappe verder word gedoen nie. volgens huidige finansiele wetgewing wat insluit , fica, fais, poca, geldwassery, ens hoort die hele parlement lewenslank in die tronk, begin optree of is tronke te klein.

Annie ·

Sjn – so n bek kort jam…. so jammer net ons mense kan tot hierdie ware gevolgtrekking kom.

Eugene ·

Kriminieële optrede. Waar kom mnr Zuma ek kie hier ter sprake !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.