Kommissie hoor oor ‘verdagte’ vergadering met Moyane

Die Nugent kommissie van ondersoek. Foto: ANA

Die besturende vennoot van die konsultasie-agentskap Bain and Company het Vrydag die Nugent-kommissie van ondersoek geskok toe daar onthul is dat hy met Tom Moyane, die geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), vergader het om die inkomstediens te bespreek – reeds ʼn jaar voordat Moyane kommissaris geword het.

Vittorio Massone het aan die kommissie gesê die vergadering met Moyane voordat hy kommissaris geword het, was nie buitengewoon nie, aangesien hy glo Moyane het toe reeds ambisies gehad om die hoof van die inkomstediens te word.

Massone het gesê nadat hy ʼn oproep van Moyane ontvang het, het hulle ʼn paar dae bestee om ʼn dokument saam te stel. Massone het gesê hy het ʼn voorlegging vir Moyane saamgestel wat hy uit die media, webtuiste en ander data wat vrylik beskikbaar is saamgestel het. Hy sê hy is nie vir dié werk betaal nie.

Bain se bedryfsmodel is gekritiseer dat dit noodsaaklike eenhede in die SAID verdeel het, en hul vermoë om belastingnakoming te monitor en onwettige finansiële vloei en hoëprofiel-ondersoeke te hanteer belemmer het.

Solly Tshitangano, ʼn adjunk-direkteur-generaal en waarnemende hoofverkrygingsbeampte by die nasionale tesourie, het vroeër aan die kommissie gesê Bain is nie behoorlik aangestel nie, en die proses wat tot die firma se aanstelling gelei het was gebrekkig, met verskeie waarskuwingstekens wat geflikker het.

Tom Moyane (Foto: ANA)

Tshitangano het gesê die tendertydperk vir ʼn verskaffer vir die SAID se omdraaiplan was baie kort, net ongeveer ʼn week. Dit was minder as die 21 dae wat gewoonlik van toepassing is vir staattenders.

Hy het gesê die tesourie het nooit ʼn brief van die SAID ontvang om te verduidelik hoekom die tendertydperk tot ʼn week verkort is nie en gesê daar was ʼn aantal aspekte van die tender wat vreemd was. Bain het ʼn bod ingedien teen 50% afslag wat dit net-net onder die bod van sy naaste mededinger gesit het.

Regter Dennis Davis het aan die kommissie gesê hy het nooit verstaan hoekom die inkomstediens geherstruktureer moes word nie. Hy het gesê hy het net sommige van die planne gesien voordat die veranderinge geïmplementeer is.

“Mnr. Moyane wou ons nie enige [planne] gee nie. In baie gevalle kon ons nie syfers sien nie. Ons inligting het opgedroog; ons moes werk sonder enige samewerking van die SAID,” het hy gesê.

Davis het gesê alles wat nou voor die kommissie aan die lig kom, is nie nuwe inligting nie. Dit was bekend, maar beamptes was te bang om enige iets te sê omdat hulle bang was hulle sal hul werk verloor.

Hy het gesê beamptes het wel privaat met hom oor hul probleme gepraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ellisras ·

Logiese denke sê vir my dat daar geen, maar geen manier is wat Zuma al die goed self kon uitdrink nie. Nie met sy beperkte kennis nie. Ons weet steeds nie wie is die meester brein nie. Zuma het ook nie sigbaar finansieel gebaat nie. Hy moes geld leen vir Nkandla.

1+1 ·

Die hele Zuma-tebakel en die rede waarom hy as president aangestel is word al hoe duideliker. Hy was die slagoffer van intelektuele individue wat hom van die begin af as ‘n sagte teiken gesien het, Dit sou maklike wees om te doen wat hulle wou.

Koos de Meyer. ·

Dit help nie om zumpie se part te vat nie. Hy is so slim soos die houtjie van die galg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.