Kommissie moet taxigeweld in Gauteng ondersoek

Die taxi waarbinne die slagoffers doodgeskiet is. (Foto: AP Photo)

Die Gautengse premier David Makhura het ʼn kommissie van ondersoek aangestel om minibustaxigeweld, sterftes en onbestendigheid in die bedryf te ondersoek, het die provinsiale regering Sondag gesê.

“Die ondersoek gaan die onderliggende oorsake en mense agter die voortslepende moorde in die provinsie se taxibedryf ondersoek.”

Die kommissie word gelei deur regter Jeremiah Buti Shongwe. Rudolph Lungile Mabece en Hlula Msimang is die ander kommissielede. Dimkatso Mamiki Selesho is as sekretaris aangestel.

Makhura het in Julie, tydens die tweede Gautengse taxiberaad, onderneem dat ʼn spesiale kommissie aangestel gaan word om die bedryf te ondersoek. Die Gautengse regering was bekommerd dat die taxibedryf “verswelg word deur geweld”, wat ondanks wetstoepassers en staatsdepartemente se beste pogings net vererger.

Die taxibedryf vervoer meer as 75% van alle pendelaars gedurende spitstyd en is dus die gewildste manier van vervoer vir pendelaars in die provinsie, het die verklaring gelui.

Die kommissie is aangestel om vrae te stel, ʼn ondersoek te doen, bevindings te maak, verslag te lewer en aanbevelings te doen oor spesifieke kwessies. Dit sluit in: die onderliggende redes vir die geweld, die bedrywighede van operateurs (wettig en onwettig), asook die model waarop die bedryf geskoei is.

Die kommissie het ses maande om sy werk af te handel en sy skriftelike aanbevelings te doen. Hy mag diegene wat betrek word, waar nodig, ook na wetstoepassingsagentskappe vir verdere ondersoek of vervolging verwys.

Enigiemand met tersaaklike inligting word gevra om die kommissie se sekretaris te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elna ·

Meeste van die taxi base ontduik belasting ek wonder of die regering dit weet.

Pogie ·

Dis die een kommissie na die ander een en nooit hoor mens die uitslag nie . En word daar werklik iets gedoen omtrent dit ?

leser ·

kommisies na kommisies, kommisies na kommisies,kommisies na kommisies, en so gaan dit aan, nog meer geld vir swakkelinge wat niks kan doen en net geld wil he
alweer nepotisme so ver as wat ons gaan

SjN ·

Nog n kommissie, geldmors, lieg en bieg en niks verder gebeur nie, stel die Sapd aan om hulle werksaamhede te monitor, hulle is goed daarmee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.