Kommissie sal Phiyega se optrede ondersoek

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Riah Phiyega. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Dinsdag aangekondig ʼn raad van ondersoek is aangestel om die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, se geskiktheid om in haar pos te dien, te ondersoek.

“Die raad sal ondersoek instel na bewerings van wangedrag deur die nasionale kommissaris en/of haar gedrag om haar amptelike pligte doeltreffend uit te voer,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Regter Cornelis Claasen is die voorsitter van die raad. Hy word bygestaan deur advokate Bernard Khuzwayo en Anusha Rawjee.

Die presidensie het gesê Zuma het aan Phiyega verduidelik wat die omvang van die ondersoek behels en haar tot 28 September kans gegun om te verduidelik waarom sy nie geskors moet word hangende die uitslag van die ondersoek nie.

Phiyega se optrede op 16 Augustus 2012, toe 34 myners tydens ʼn gewelddadige staking by Lonmin se Marikana-myn in Noordwes dood is, is skerp veroordeel deur die Farlam-kommissie van Ondersoek.

Zuma het in Junie ʼn die Farlam-kommissie se verslag vrygestel. Die kommissie het aanbeveel dat ʼn raad van ondersoek Phiyega se geskiktheid om in haar amp te dien, sal ondersoek, nadat hulle die polisie se “taktiese plan” oor hoe om die stakers te hanteer, veroordeel het.

Intussen het die Vryheidsfront Plus die aanstelling van die kommissie oor Phiyega se geskiktheid verwelkom. “Daar kan gevra word hoekom dit die president so lank geneem het en dui op swak administrasie in sy kantoor,” het Pieter Groenewald, woordvoerder van die party, in ʼn verklaring gesê. “Phiyega moet egter geskors word, aangesien sy reeds bewys het dat sy nie skroom om in te meng met ondersoeke nie. Haar beïnvloeding van die provinsiale kommissarisse om hulle steun en lojaliteit aan haar in die media te verklaar is een bewys. Die feit dat sy ook bereid was om R3 miljoen aan die Valke-baas in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Johan Booysen, te gee om die diens te verlaat is, ʼn verdere bewys.”

Groenewald sê die kommissie moet so gou moontlik sy werk afhandel sodat ’n finale besluit oor Phiyega geneem kan word. “Die onsekerheid of sy gaan aanbly of nie, skep onsekerheid onder die Polisiebestuur en is sleg vir die moreel van die Polisiediens.”

Die Demokratiese Alliansie en die Ekonomiese Vryheidsvegters het ook die aankondiging verwelkom.

Die EFF bevraagteken egter waarom Phiyega alleen aanspreeklik gehou word vir die Marikana-slagting.

Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, het Zuma se besluit om Phiyega nog kans te gun waarom sy nie dadelik geskors moet word nie, veroordeel. “Sy moet dadelik geskors word sodat sy nie haar magtige posisie kan misbruik om in te meng in die ondersoek nie. Dit is onverklaarbaar waarom sy nog nie geskors is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stefaans ·

En die uitslag is: Sy is uiters geskik vir die pos en kry ‘n aansienlike salarisverhoging (terugwerkend natuurlik)

Johann Marx ·

En wie het haar aangestel? Hoekom word hy nie ondersoek nie? OOooo neeeee…..hy MAG nie ondersoek word nie…..

Jan maak n Plan ·

Tannie hiers vir jou n Golden Handshake en dan moet jy tata gehoor.

Ben ·

Die feit bly staan: Sy is ‘n “square-peg in a round hole.” Die vraag is egter, hoeveel geskikte “round-pegs” is daar in hierdie land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.