Kommissie se verslag oor ‘wapenskandaal’ bekendgemaak

Gripen-vegvliegtuig Foto: gripen.com

Gripen-vegvliegtuig Foto: gripen.com

Die Seriti-kommissie se verslag na die sogenaamde multimiljoenrand-wapenskandaal is Donderdag deur pres. Jacob Zuma bekend gemaak.

Zuma het die kommissie op 24 Oktober 2011 aangestel onder leiding van regter Willie Seriti na bewerings van onbehoorlike invloed in die wapentransaksies. Die kommissie is aanvanklik twee jaar gebied en het R40 miljoen gekry om sy ondersoek te voltooi. Die ondersoek het egter langer as vier jaar geduur en meer as R110 miljoen gekos.

Die kommissie het sy verslag op 30 Desember verlede jaar aan Zuma oorhandig. Zuma het Donderdag tydens die bekendmaking van die verslag gesê 54 getuies het voor die kommissie verskyn, waaronder oudpres. Thabo Mbeki en van sy destydse kabinetslede. Hy het gesê lede van die kommissie het tydens die ondersoek na die Verenigde Koninkryk, Swede, Frankryk, die VSA, Switserland, Liechtenstein en Duitsland gereis om ondersoek in te stel na ernstige bewerings dat ondersoekers oorsee bewyse van beweerde onregmatige optrede bekom het.

Volgens Zuma het die kommissie bevind die rasionaal agter die wapentransaksies was geldig, aangesien die Suid-Afrikaanse Weermag die wapens en ander toerusting wat versoek is nodig gehad het om aan hul mandaat te voldoen. “Die kommissie het ook bevind dat al die wapens en toerusting wat aangekoop is, goed benut word.”

Zuma het gesê die kommissie het ook bevind dat die werksgeleenthede wat uit die kontrakte moes vloei, wel gerealiseer het en dat daar meer as 11 900 werksgeleenthede geskep is.

Die kommissie moes ook bepaal of enige persone, hetsy van die publiek of in die regering, onbehoorlik gebaat het by die transaksies en of daar regstappe teen hulle gedoen word. Volgens Zuma het die kommissie in die verband bevind dat daar geen onbehoorlike invloed was in die kies van die voorkeurbieërs nie.

“Die kommissie het wel daarop gewys dat die groot betalings aan konsultante die indruk geskep het dat die geld dalk bestem was vir die besluitnemers in die wapenaankoopproses en dat hulle dalk omgekoop is,” het Zuma gesê.

“Die feit dat sommige van die konsultante destyds senior politici in die regering geken of persoonlik mee kontak gehad het, is as bevestiging aangehaal. Die kommissie het op dié punt gemeld daar is nie ‘n enkele bewys gekry om daarop te dui dat enige van die geld wat deur enige van die konsultante ontvang is, aan enige van die amptenare wat by die verkryging betrokke was, betaal is nie.” Zuma het gesê dit was ook nie die geval met enige lede van die interministeriële komitee wat die proses gemonitor het of enige lede van die kabinet wat die finale besluit geneem het nie.

“Volgens die kommissie het die voorkeurbieërs bevestig dat die geld vir konsultante se dienste en niks anders was nie. Sommige van die individue wat betrek is by die bewerings het voor die kommissie getuig en het die bewerings teen hulle weerlê. Nie een van hulle is as getuie gediskrediteer nie.”

Zuma het gesê lede van die interministeriële komitee sowel as die tegniese spanne wat evaluasies gedoen het rakende al die aanbiedinge, het ook voor die kommissie getuig dat hulle nie onbehoorlik opgetree het of omgekoop is nie.

“Die kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen gronde is om nadelige afleidings te maak nie in die lig van die direkte en geloofwaardige bewyse wat aan die kommissie voorgelê is ten opsigte van alle wenslike aspekte van sy mandaat. Die regering was van mening dat enige bevindings wat gemaak is wat dui op onbehoorlik optrede, dit aan wetstoepassingsagentskappe oorhandig moes word vir verdere optrede. Daar is geen so bevinding gemaak nie en die kommissie het ook nie enige aanbevelings in die verband gemaak nie.”

Die regering het onder andere in 1999 tydens die multi-miljardrand-aanskaffingstransaksie 26 Gripen-vegvliegtuie en 24 Hawk-vegvliegtuie vir die lugmag, en fregatte en duikbote vir die vloot aangekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Maddox ·

Ja-nee, wonder hoeveel bottels Jik het hulle gebruik om die verslag te “white wash”… ..

Pieter dp ·

Ja nee as ek my self moed ondetsoek dan is daar geen ongerymdhede nie. Wie bluf hy net hom self

Paul ·

Hierdie sogenaamde kommisie was van die begin gedoem. As u reg onthou het daar hoeveel van die kommisielede geloop voordat dit begin het. Aan die einde het net Sereti oorgebly en het hy baie selektief getuies gekies. Nee wat, gladnie legitiem nie. Sal net Zuma en sy kronies wees wat dit glo.

Anoniem ·

Wag maar….daar gaan nog iets uitkom wat nie reg is nie…Niks waar regering betrokke is is waar nie…………….Gaan seker net weer skouers ophaal en se…Ag ek het nie geweet nie……………………………………………………….almal doen dit mos……

Frederik ·

Die kommissie het bevind dat al die wapens en toerusting wat aangekoop is goed benut word. Zuma sal Sereti in die verband glo, maar nie die publiek nie.
13 Gripen vegvliegtuie het ” verdwyn ”
Een duikboot het ‘n sandbank getref en is sederdien buite aksie.
Nog een is aan die verkeerde elektriese toevoer gekoppel en dit het veroorsaak dat die elektroniese stelsel opgeblaas het. Die een is ook sederdien buite aksie.
Ek kan raai dat daar tans meer van die wapentuig buite aksie is, maar volgens Zuma se verklaring word alles goed benut.

Loeis ·

Jaaaa….. Zuma is self onder verdenking, en hy is die een wie die kommissie aangestel het. Heel toevallig en ‘n lekker soustreinrit later het hulle toe presies bevind wat Zuma eintlik wou gehad het hulle moes bevind. Iets wat ek jare gelede reeds voorspel het…

Nou wonder ek wat sou gebeur het as Thuli Madonsela die storie ondersoek het.

Nic ·

Daar is van opposisie se kant gevra dat Thuli die ondersoek moet doen, maar die versoek is van die hand gewys omdat dieselfde senario as met Nkandla sou plaasvind. Onthou,die Speaker van die parlement is mos deur die ANC aangestel om Zuma en sy trawante teen hierdie soort ondersoeke te beskerm!

André ·

En die ondersoek kos ons ‘n verdere R140 Mil. Hoeveel werksgeleenthede kon hulle nie daaruit skep nie.
Sirkus van ‘n land.

Koos1 ·

En nie te lank gelede nie het twee kommissies bevind dat al die opgraderings by Nkandla veiligheidsverband was. En dat die Paashaas weer volgende jaar aandiens is nadat hy verdere opleiding by Kers Vader gaan kry het, en dat perdedr*lle, truksvye is, en dat Superman aangestel is as kommisaris van Polisie, en, ag kom ons los dit, julle weet wat ek wil sê. In Engels se hulle: “Follow the money.”

Lance ·

Natuurlik is dit nou die verslag …so voorspelbaar …. Intussen kan ons nie eers die branstof bekosting om die goed te vlieg nie ….die man is SO skelm !!!

Casper ·

Laat ons dit vir die mens op straat in gewone taal vertaal. Blah blah blah Die skuldige stel die kommissie saam,lieg lieg lieg. Die tuie staan in stoor en is nie gebruik nie blah blah blah. Ek is die korrupste president nog in die geskiedenis en ek dink almal is n klomp dom ape en almal glo my. blah blah blah

Roy ·

Frederik ons almal in Suid Afrika weet dat alles wat nie werk nie word goed benut, kyk net na die mense wat werkloos is , Beamptes in staatsdiens noem op

Gertjie ·

As almal dan nou so onskuldig is hoekom is die een maaitjie(Sheick) dan tronk toe gestuur????? Dan was hy mos ook onskuldig !!!!!!

Ben Prinsloo. ·

Frederik jy is reg. Kyk maar net na ons president se nuwe uitvindsel die stortkop om vigs te behandel dan sal jy sien hoekom is ALLES in goeie werkende toestand.

Paul ·

Die kommissie wat so mooi seker gemaak het dat net die “regte” getuienis aan hulle voorgelê word, het bevind dat die getuienis wat aan hulle voorgelê is, niks misdrywe aantoon nie. Hoe uiters verrassend!

Basson ·

http://www.telegraph.co.uk/finance/newsbysector/industry/defence/8216172/BAE-Systems-timeline-of-bribery-allegations.html

“2007: In January, the SFO starts another investiagtion, into payments made by BAE to a South African defence minister in connection with a £1.5bn contract BAE won there in 1999.
In February, the UK confirms there are six probes under way against BAE, with the SFO looking at deals done in Romania, Chile, the Czech Republic and Qatar, as well as South Africa and Tanzania.”

http://mg.co.za/article/2014-07-30-arms-deal-seven-facts-that-arent-going-away

ens ens ens ens ens x100

Rynhardt ·

ELKE kommissie in SA beluit reeds agter die skerms wat die uitslag gaan wees, voordat n “show” vir die publiek opgesit word.Dan word belastingbetalers opgesaal met die astronomiese rekening.Seriti-kommissie dien as voorbeeld.Hul speel die “brainwashing game”met publiek! Die wapenskandaal se volle verhaal word nie vertel, want plaaslike en internasionale regerings en wapenmaatskappye het baie om te verloor met hierdie uiters omstrede transaksie.Almal het n lekker vet kontant-pakkie ontvang, daarom is alle wapen-voetspore doodgevee! Die uitslag-geen ongerymdhede nie!Sodoende word al die grootmenere gelukkig gehou plaaslik en oor die wereld!

Loeis ·

Julius Malema is reg oor een ding: hierdie land is BAIE ongelyk, hy mis net die punt as hy dit ‘n suiwer rasse kwessie maak. Dit is daardie selfde kiessers wie die meeste baat kan vind by opleiding en werkskepping, maar wie daarvan dit ontneem word, wie weer die grootmenere van wie jy praat instem, verkiesing na verkiesing. Dis die gemors met demokrasie: die massas – en in hierdie geval onopgevoede massas – regeer, en die speletjie duur maar net voort.

alida ·

Die enigste verslae wat geloofwaardig is is diè opstel deur Thuli Madonsela die ander is almal gekook deur skelms om skelms te beskerm!!!

Joann ·

En da wen die graad 3 oudjie weer en shame hy dink ons is net so dig soos hy.

Henk Venter ·

Ek glo dat vele mense, self Seriti, sal verstaan wat ek se as ek se hy wat Seriti is, moet dalk by regter Mogoeng gaan aanklop……..

GLO ·

SLIM Vang ALTYD sy BAAS. dis nie meer lank nié die Here gaan die regverdige mens nog bly maak oor die onreg gedoen..Stel jul VERTROU In HOM moenie vrees of bang wees. LOOF en PRYS HOM!

Neewat ·

R110 mil + … Vie 4 jaar lekker gevreet en gesuip en geskep net om die hele ding te “whitewash”. Vir net R10 mil het ek die hele ding binne ‘n week ge”whitewash”.

Dan ·

Seriti het nou soveel geld gemaak, hy kan nou gemaklik agteroor gaan sit, of dalk gaan hy n minister word, of n raadgewer vir Zuma, vir hulle sal geld nooit genoeg wees nie.

Natie ·

Nou kyk dit is so snaaks dat die 20 % van die nasie wat belasting betaal met sulke verskonings tevrede moet wees. Maar dit is heel duidelik dat die bom gaan val terwyl ons salig sit in Nkandla en lag vir die res van die nasie. Dit is moeilik om ñ Kind van die Here te wees in vandag se tyd

griet ·

Snert man! Hy maak nou net nog n groter gek van homself. Probeer als in sy vermoë om plek te kry vir verkiesing. Smyt hom uit! Hy mors met ons land en geld. Hy is nie ‘n president se gat nie!

Jan ·

Ek is baie bly dat alles so eerlik verloop het, gee my hoop vir die toekoms! Weet nou waar om kruisie te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.