‘Kommissie soek langtermyn oplossing vir #FeesMustFall’

Regter Jonathan Arthur Heher, voorsitter van die kommissie van ondersoek na universiteitsfooie. Foto: ANA

Regter Jonathan Arthur Heher, voorsitter van die kommissie van ondersoek na universiteitsfooie. Foto: ANA

Die kommissie van ondersoek na universiteitsfooie is op die been gebring om ʼn langtermyn oplossing te vind, nie om die huidige onluste op universiteitskampusse te hanteer nie, het regter Jonathan Arthur Heher Woensdag gesê.

“Dr. Blade Nzimande [die minister van hoër onderwys] het dit duidelik gemaak dat die kommissie op die been gebring is om ʼn langtermyndoelwit te bereik. Dit is nie by magte of versoek om kwessies van onmiddellike belang te ondersoek nie,” het Heher, die voorsitter van die kommissie, aan verslaggewers in Pretoria gesê.

Heher het gesê slegs die regering is by magte om die huidige uitdagings in die tersiêre onderwyssektor aan te spreek. Hy het gesê die kommissie se ondersoek is in ʼn vroeë stadium.

“Aangesien die kommissie ʼn langtermyndoelwit het, is die voorwaardes van ons kommissie so gestruktureer dat die werklike vraag eers teen die laaste stadiums van die ondersoek beantwoord kan word. Die vraag is, is gratis onderrig uitvoerbaar? Die eerste deel van ons ondersoek was inleidend en ontwerp om ideologiese en beginselkwessies te ondersoek en ʼn begrip te kry van die werklike probleme,” het Heher gesê.

“Ons het baie belanggestel om deelnemers se menings oor gratis onderrig te hoor en indien gratis onderrig ingestel word, hoe ver dit sal strek. Ek moet sê die instellings het graag deelgeneem, maar die studente was minder geneë.”

Heher het gesê hoewel die kommissie nie by magte is om te besluit oor die struktuur van onderwys in Suid-Afrika nie, het deelnemers tot dusver die kommissie aangepor om binne ʼn finansiële konteks te kyk na die herstrukturering van die kollege- en universiteitstelsel.

“Deelnemers meen ons het tans ʼn piramiede-struktuur, waar universiteite op die onderste vlak is, met ʼn baie breër basis van studente en die TVET kolleges bo, met ʼn beperkte studentebasis. Byna almal wat enigiets van onderwys af weet, het aan ons gesê hierdie struktuur sal nie werk nie en is nie in die beste belang van die land nie,” het Heher gesê.

Hy het gesê voorlopige aanduidings is dat die kollege-stelsel vergroot moet word om die fundamentele praktiese vaardighede te bied wat die Suid-Afrikaanse ekonomie so dringend nodig het. Dit sal nie beteken dat universiteite uitgeskuif word nie, maar eerder dat die universiteite na die bokant van die piramide geskuif word sodat daar minder, maar hoogsgekwalifiseerde individue is.

Betogings in protes teen studiegeldverhogings het vandeesweek op kampusse regoor die land vlamgevat, waar talle universiteite se lesings ontwrig is en geweld op die kampusse uitgebreek het. Nzimande het Maandag aangekondig universiteite kan self besluit oor die verhoging van hul klasgeld vir 2017 tot ʼn maksimum van 8%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

popeye ·

O julle is snaakse narre, rerig….ek lag my gat af….langtermyn, het julle 22 jare gehad. Medium termyn het julle, ummm ook gehad. Korttermyn sien julle, julle gat!

Johann Marx ·

Dis eenvoudig. Slaag matriek, skryf in by ‘n Universiteit, doen jou plig……en slaag jou kursus. As jy die dag jou graad kry, en al jou eksamens met 75% geslaag het….kan jy al jou geld terug kry…Dit beteken die Universiteit het jou fooie wat hulle kan belê vir 4 of 5 jaar, en dit beteken jy sal op jou boude sit met jou neus in die boeke….en slaag, as jy jou fooie wil terug hê. AL die student wat nou so skree en afbreek oor “No fee education” is ook ALMAL studente wat NIKS deurkom nie!! As alles vir “gratis” is waarom sal ‘n student sy kursus in die voorgeskrewe tyd voltooi? Daar is geen motivering nie, met ander woorde ek bly op kampus vir 9 jaar om ‘n 3 jaar graadkursus te voltooi…..en dis gratis.

snoefie ·

jy het geen idee waarvan jy praat nie. pleks van “koop mense porches en as hulle bewys hulle kan ry kry hulle hulle geld terug. k.k en betaal nes die res of bly weg.

Jan maak n Plan ·

Johann jy dink soos ek. ‘n Student moet sy eie kursus betaal. Indien die student sy kursus deurkom gee die staat sy klas en boekgelde terug en hy moet dan moinstens ook drie jaar in SA werk saam wees. Al die student pluk of opskop of selfs van kursus verander dan is alles op sy onkoste.

Lance ·

Johann dit is n wonderlike plan wens iemand lees dit en stel dit voor….wow !

Johan Fourie ·

Johann jy slaan die spyker op die kop,dit is werklik die oplossing.

WitBlits ·

Gee hulle gratis universiteitsonderrig en die volgende is gratis GRADE omdat hulle op universiteit is!

Veritas ·

Professers dink uit boeke uit. Die kommissie gaan tyd mors met die ondersoek want die basis van hul ondersoek lê by die universiteite. Die fout lê egter in die onderwysstelsel op skool. Die hoë uitvalsyfer by eerstejaars getuig hiervan. Dit kan net beteken dat universiteitstoelatingsvereistes te laag is. Dit wil voorkom asof enigeen wat ‘n matrieksertifikaat kan voorlê, universiteit toe kan gaan. Kinders wat nie eers op skool die pyp behoorlik kan rook nie, se kans om suksesvol op universiteit te wees, is uiters gering. Dit veroorsaak dat baie ‘gegradueerdes’ vandag nie kan werk kry nie of nie die werk wat hulle wel kry kan baasraak nie. Indien die toelatingsvereistes strenger gemaak word, sal die studentegetalle drasties afneem en slegs diegene wat wíl leer sal dan universiteit toe kan gaan. Die herinstelling van tegniese- en onderwyskolleges asook die sg technikons is die antwoord op dié probleem.

hoor hoor ·

Nou, ek was destyds die eerste student wat beide grade, swakstroom & swaarstroom (gelyktydig) ingeneurswese baas geraak het . Was op tegnikon ook, laagste was 80% hoogste 100% (wiskunde) vir T1.

chris ·

Veritas, ‘n baie goeie opmerking!! Ek hou van die instelling van tegniese kolleges waar die student vaardighede kan aanleer om met sy hande te werk. Meeste van die studente studeer in ‘n administratiewe rigting soos en ek persoonlike dink daar is nie meer plek vir hulle nie. As jy met jou hande kan werk, werktuigkunige , elektrisiën, bouer ensovoorts kan jy jou eie werk skep en ander bemagtig om dieselfde te doen . Ek dink daar is ‘n groot tekort aan opgeleide ambagsmanne en vroue.

Kobus ·

In kort, soos ek by ‘n ander berig oor die studenteoproer geskryf het, begin by Angie Matsekgo, maak die matriek standaard weer wat dit toenterjare was, daar is hordes mense die afgelope klomp jare wat op universiteit beland het, wat nie daar hoort nie.

Dis asof almal ‘n manie vir ‘n graad ontwikkel het, asof dit die oplossing vir werkloosheid in die land is, dis net die uitstel van die werklikheid dat daar nie werk is met hul kwalifikasie nie, dit hou hulle net tydelik van die straat af, vul die maag, dis ‘n droom, elke instansie het net plek vir ‘n sekere aantal gegradueerdes en dit in sekere poste, dis maar ‘n klein persentasie. Dis nou die sosiale beroepe, klerikaal, afdelingswinkels, die openbare sektor, banke, versekering, edm.

Natuurlik moet die Technokons teruggebring word, dringend, dit was ‘n kollosale fout om dit tot niet te laat gaan het, dit is waar meeste se vaardighede in ontsluit word, hulle kan vir groter instansies gaan werk, of hulle kan op klein skaal hul eie besigheid begin, innoverend wees, dalk ook ander mense indiens neem en so bydrae tot werkskepping. Nou het hulle niks, hulle kan nie eens vir hulle self help nie.

Tegnologie is antwoord ·

Gaan kyk na wat van die wereld se beste universiteite doen op Edx en Coursera, ons kan dieselfde doen om kwaliteit onderwys baie goedkoper te maak.

Veritas ·

Prof julle slaan die bal vêr mis. Die probleem het sy oorsprong op skoolvlak. Leerders wat vandag matriek slaag is gladnie universiteitsgereed nie. Matriekstandaarde is sò laag dat die gemiddelde leerling nie kan aanpas by die eise wat universiteite aan hulle stel nie. Dit veroorsaak ook dat enige Jan Rap en sy maat by ‘n universiteit kan inskryf en nie net diegene wat wel daarvoor kwalifiseer nie. Die hoë eerstejaar druipsyfer is bewys hiervan. Kry matriekstandaarde en universiteits toelatingsvereistes reg en die probleeem sal homself uitsorteer.

leon - Centurion ·

Regter Heher, jy mors jou tyd. Die kommissie is slegs skyn. Gratis studie vir die massas die uiteinde. Die resultaat powere universiteite met nuttelose grade deur gedekoloniseerde instellings. Lekker man lekker.

Jean ·

Daar word kommissies vir alles aangestel. Dit is net twak om mense te laat dink die probleem word aangespreek en dat iemand aandag daaraan skenk. Dit rek vir jare uit, as hulle in 20 jaar nog nie die probleem kon oplos nie, gaan ‘n kommissie dit nie in ‘n kort tydperk oplos nie . daar is GEEN oplossing vir FREE Education nie, dit was van die begin af nie haalbaar nie. Daar is NIE genoeg belastingbetalers om daardie kostes ook nog te dra vir duisende studente wat verniet daar wil gaan studeer (en droogmaak) nie.

Connie ·

Johann Marx ek dink jy moet dit vir Oom stomp Lemmetjie sê. Dit kan hulle dalk, net dalk daaroor laat dink.

Jan ·

Mnr. Heher. Bepaal die maksimum, en verminder dan die fooie op ‘n glyskaal. Die regering moet dan vir die tekort instaan. So kan ons almal bydraers wees. Ouers se eerlike bewyse sal noodsaaklik wees.

Helene smuts ·

As leiers van ons land die geld wat hul vir sosiale funksies gebruik los sal daar n oplossing wees by die universiteite. Kyk na partyjies, duur motors, bonusse, mal hoĕ salarise, so kan ons aangaan.

peter ·

Daar is ‘n baie eenvoudige oplossing. Betaal self vir jou eerste jaar. Indien jy deurkom, sal die staat jou 2de jaar betaal. As jy dop, betaal jy self.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.