Kommissie soek stappe teen maatskappye wat glo oor maskers saamspan

Van BabyBug se gesigmaskers wat op Takealot verkoop is.

Die Mededingingskommissie het aanbeveel dat die mededingingstribunaal twee maatskappye weens beweerde sameswering vervolg nadat hulle gesigmaskers gedurende die Covid 19-pandemie glo teen opgeblaasde en bedrieglike pryse op Takealot verkoop het.

Die kommissie beweer dat Medmart Health (Pty) Ltd en BabyBug saamgespan het om pryse te knoei en die mark te verdeel deur klante teenstrydig met die Wet op Mededinging toe te wys. Die maatskappye het die beweerde bedrieglike ooreenkoms glo in naastenby Desember 2020 aangegaan.

“Hierdie soort sameswering is skadelik vir verbruikers aangesien dit hulle ontneem van die voordele wat uit mededinging spruit. Sulke ooreenkomste is ook inherent skadelik vir mededinging en die kommissie het die tribunaal versoek om ʼn maksimum straf op te lê,” het Sipho Ngwema, woordvoerder van die kommissie, gesê.

Medmart en BabyBug het die persoonlike beskermingstoerusting (PPE), waaronder gesigmaskers, op die aanlyn platform Takealot verkoop.

Mededingers plaas hul produkte op dié platform wat dan deur ʼn algoritme, wat veranderlikes soos prys en voorraadbeskikbaarheid in ag neem, aan klante op die platform sigbaar is. ʼn Verskaffer met ʼn goedkoper produk en beskikbare voorraad, sal waarskynlik meer sigbaar wees as ʼn verskaffer met ʼn duurder produk en minder voorraad.

BabyBug en Medmart het na bewering tydens ʼn telefoniese gesprek op 3 Desember 2020 ooreengekom om hul onderskeie pryse op so ʼn wyse te manipuleer sodat hulle meer wins uit hul weggooibare drielaaggesigmaskers op Takealot maak.

Die maatskappye het glo dae aan mekaar toegeken waarop elke maatskappy sy onderskeie pryse en voorraadbeskikbaarheid dienooreenkomstig aanpas om mededinging onderling te beperk.

Hulle het glo ook ingestem om die dae af te wissel waar elkeen dan ʼn hoër prys vir sy produk sal vra, gevolg deur ʼn dag waar ʼn laer prys weer gevra word. Dié oorskakeling het elke dag om 17:00 plaasgevind.

Volgens die kommissie het Medmart en BabyBug glo verder ooreengekom om van tyd tot tyd te kommunikeer oor wat die hoër en laer pryse sal wees. Die pryse het gewissel van R79 tot R90 per pak van 50 pakke drielaaggesigmaskers.  Takealot het snuf in die neus gekry en het Medmart op 14 Junie 2021 van sy platform afgeskop, terwyl BabyBug op 8 Desember ook die trekpas gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

Nou ja en dit vir ‘n produk wat absoluut GEEN WAARDE teen enige siekte gehad het nie

Agge nee ·

Ek weet dat Aunty Kopdoek baie gebaat het by die sigarette verbod, die vraag is nou: Watter kader het gebaat deur die gesigmasker gebod?

annie ·

Ons mededingingskommissie is baie flukser as die Falke en die OB en al die speurders en polisiebeamptes om enige oortreding uit te snuffel en voor die guillotine te laat buk. Wys nou net wat gedoen kan word as iemand buiten politieke kaders ‘n voet verkeerd sit. Gaan ons nou vir die res van die eeu nagte moet wakker lê en wonder oor die pyn en lyding van maskervervaardigers en wens ons kan weer so ly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.