Kommissie van ondersoek oor onrus in Lesotho

Argieffoto (Foto: SAUK)

Argieffoto (Foto: SAUK)

‘n Kommissie van ondersoek is deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) op die been gebring om die moord op Maaparankoe Mahao, Lesotho se voormalige weermag­bevelvoerder, te ondersoek.

Pakalitha Mosisili, Lesotho se eerste minister, het ná Vrydagaand se SAOG-beraad gesê die kommissie moet onder meer vasstel of die omstrede huidige weermag bevelvoerder, genl. Tlali Kamoli, vroeër vanjaar in sy posisie heraangestel moes word.

Opposisiepartye in Lesotho het die moord op Mahao en ander geweld in die land voor Kamoli se deur gelê. Mahao en Kamoli was teenstanders. Tom Thabane, voormalige eerste minister van Lesotho en sy bondgenote moes in Augustus verlede jaar na Suid-Afrika vlug nadat Thabane vir Kamoli afgedank het en hom met Mahao vervang het. Kamoli het toe ʼn staatsgreep probeer uitvoer.

Thabane is later terug na Lesotho waar hy heraangestel is in sy amp en adjunkpresident Cyril Ramaphosa het gehelp om ʼn politieke ooreenkoms te fasiliteer dat die verkiesing van 2017 na Februarie vanjaar vervroeg is.

Ramaphosa het ook ‘n veiligheidsooreenkoms bemiddel wat bepaal dat Kamoli, Mahao en die kommissaris van die polisie, ‘n bondgenoot van Thabane, almal uit hul posisies verwyder word om die veiligheidsmagte te depolitiseer en Lesotho se politiek te stabiliseer. Mosisili het Mahao egter afgedank en Kamoli heraangestel as weermaghoof nadat hy in Februarie die verkiesing gewen het.

Mosilili, pres. Jacob Zuma, pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, pres. Ian Khama van Botswana en verteenwoordigers van Namibië en Malawi het Vrydagaand se beraad bygewoon. Die beraad het spesifiek gefokus op die krisis in Lesotho.

Die kommissie sal ook die aanstelling van Mahao ondersoek sowel as sy verwydering uit sy pos vroeër vanjaar. Die kommissie sal in Maseru gesetel wees en ʼn regter van Botswana sal die kommissie lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Ja, hierdie is beslis weer politiekery. Moet die Nasionale Vervolgings Gesag van Lesotho nie hierdie moord ondersoek nie? Hoe kan `n kommissie wat op die been gebring is, deur `n liggaam wat deur politieke ooreenkomste tussen lande ontstaan het, `n moord ondersoek? Hierdie lyk en ruik nou weer vir my na bollie wat die ANC aangejaag het.

Christie Joubert ·

Pleks hulle plaasmoorde ondersoek, nou gaan druk hulle hul neuse in n ander land se sake!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.