“Die kommissie sal kommentaar weerhou tot ons deur die relevante dele van die transkripsie gegaan het waarna daar verwys word,” het William Baloyi, woordvoerder van die kommissie, gesê.
Die Sunday Times het Sondag berig dat Zuma in 2000 omkoopgeld van R500 000 per jaar van Ajay Sooklal aanvaar het, deur die kodewoord “Eiffeltoring” te gebruik. Sooklal is glo ʼn “fixer” vir Thales.
Thales se Suid-Afrikaanse filiaal, Thint, is een van die maatskappye wat verbind word aan die omstrede wapentransaksie. ʼn Multi-miljard rand kontrak is in 1997 aan Thint toegeken om vier nuwe fregatte van die vloot uit te rus.
Die bewerings in die Sunday Times het aan die lig gekom uit getuienis tydens ʼn vertroulike arbitrasieverhoor tussen Sooklal en Thales oor ʼn fooidispuut.
Die president het intussen gesê daar is niks nuuts in die bewerings nie. Op ʼn vraag aan Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, oor hoekom Zuma nie die bewerings openlik ontken nie, het Maharaj gesê die saak word deur die kommissie ondersoek. “Ons gaan nie deur die media die saak aanspreek nie. Daar is slegs een amptelike ondersoek,” het hy gesê.
Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het die berig vroeër as “hoorsê” beskryf. “Die storie is nie waar nie. Dit probeer agterdog wek oor Zuma en die ANC.” Volgens die berig het Mendi Msimang, voormalige tesourier-generaal van die ANC, ʼn tjek van €1 miljoen van Thales ontvang. Kodwa het die bewering ontken en gesê dit poog slegs om die indruk te skep dat die ANC “verbind is aan sekere gewetenlose organisasies, verenigings of maatskappye”.
Zuma het die Seriti-kommissie van ondersoek in 2011 op die been gebring om bewerings van korrupsie in die wapentransaksie te ondersoek. Die regering het onder andere 26 Gripen-vegvliegtuie en 24 Hawk-vegvliegtuie vir die lugmag, en fregatte en duikbote vir die vloot aangekoop.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in April 2009 aanklagte van korrupsie teen Zuma laat vaar met betrekking tot die wapentransaksie. Die NVG het aangevoer dat daar ʼn politieke sameswering teen Zuma was en dat dit gevolglik onmoontlik was om voort te gaan met die saak.
ag hulle beskerm mekaar nou net weer.
Indien daar twyfel is oor die ontvangs, moet daar vas gestel word of die bedrag deur die Reserwe bank na SA gekom het, en op welke rekening dit gedeponeer was. Indien ‘n groot bedrag die land binne kom moet die Reserwe bank bewus wees daarvan. Maar indien die bedrag in ‘n belasting vrye buitelandse rekening betaal is, kon dit ook in ‘n kind/vrou se rekening gaan, dus het die President bank rekeninge oorsee, want dit moet hy verklaar.