Kommoditeitspryse styg, maar SA word armer

Foto: Pixabay

Uitvoere is ʼn steunpilaar vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en kommoditeite maak die grootste persentasie daarvan uit. Kommoditeite se pryse groei mooi en daar was die afgelope drie jaar ʼn bestendige opwaartse kurwe in die wit- en geelmielie- asook in die soja- en koringprys. Buite die landbou het goud-, platinum- en ysterertspryse ook goeie groei getoon. Die steenkoolprys het ook ná ʼn vroeëre inploffing oor die afgelope nege maande gestyg.

Die vraag is dus waar het die Suid-Afrikaanse ekonomie vasgehaak? Ons is oor die dieselfde tydperk gebombardeer met afgraderings, swak ekonomiese groei, dalende huishoudingsinkomste, werkloosheid en groeiende skuldvlakke. Suid-Afrika word stadig maar seker armer, ten spyte van beter groei in ander ekonomieë wat swaar op kommoditeite steun.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag sy staatsrede en dit gaan ʼn moeilike een wees ná al sy beloftes van ʼn jaar gelede wat nie gerealiseer het nie. Buiten die ekonomiese ontwrigting wat Covid-19 veroorsaak het, skuil daar baie ernstiger strukturele probleme in die ekonomie.

Daar sal wel ʼn uitkoms wees as die regering sy beleid en optredes handomkeer verander. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die president moet gehoor gee aan die noodkreet van die kommersiële sektor.

“President Ramaphosa sal die rol van die kommersiële sektor baie duidelik moet uitstippel in sy staatsrede. Die faktore wat dié sektor se bydrae tot die ekonomie en die land se vooruitgang in die breë ondermyn, moet ook belig word en aandag kry.”

Die president het wel beperkte suksesse gehad, soos om internasionale beleggings na Suid-Afrika te lok. “Internasionale maatskappye soos Ford gaan R15,8 miljard belê en PepsiCo, wat vroeër vanjaar Pioneer Foods gekoop het, gaan R5,5 miljard belê. Telkom gaan R8 miljard belê om infrastruktuur regoor die land uit te brei en Google het bevestig dat hy R2,2 miljard gaan bestee om sy optiese internetverbindings regoor Suid-Afrika uit te brei,” sê Van der Rheede.

Hy het ook erkenning gegee rakende die vordering met die geïntegreerde hulpbronplan wat vir bykomende kragopwekking voorsiening maak. Maar daar is volgens hom nog aansienlike ruimte vir verbetering en verskeie kwessies moet in hierdie staatsrede aandag kry. “Van die faktore behels politieke stabiliteit, beleidsekerheid, bekostigbaarheid en buigsaamheid van arbeidsmag, veiligheid en sekuriteit, gewaarborgde eiendomsreg, mededingendheid van die ekonomie, kwaliteit van infrastruktuur en die staat se diensleweringsvermoë,” sê hy.

Agri SA waarsku teen die onsekerheid wat deur die Onteieningswetsontwerp en voorgestelde verandering aan artikel 25 van die Grondwet veroorsaak word. Ekonomiese teorie en geskiedenis dui daarop dat sekerheid oor eiendomreg ʼn belangrike rol speel om beleggings te lok. Dit lei weer tot ekonomiese groei en wydverspreide welvaart op lang termyn. Dit geld ook vir ander sektore. Suid-Afrika het die afgelope twee dekades die twyfelagtige reputasie verwerf dat, ten spyte daarvan dat die land ryk is aan minerale bronne, die land nie in staat is om voordeel te trek uit stygende pryse van kommoditeite nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vlooitjie ·

Maar helaas moet lockdown nog steeds in sy volle mag op ons afgedwing word, for ever and another day. Die is maar net die begin van die ekonomiese ellende wat SA op sy kniee gaan dwing, families en vriende van mekaaŕ gaan vervreem en armoede wat mense gaan dwing om krìmineel op te tree.

Jaco ·

Hier kom nog groot nonsens. Sommer aan die begin van inperking het ramaphosa meer as eenkeer gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop.

Tino ·

Sou witmense stop sal die hele ding plat val. Dalk moet ons, want dan is daar niks oor om oor te stry of te vat nie.

Mrs H ·

‘Non Demokratiese’ arbeids wette, te kort aan ‘skilled’ empowerment, grond grype, kriminele rekord van werkers wat geensins gemonitor word of verantwoordelik gehou word vir performance ( ons almal weet hoe lyk die diens en rye mense by bv verkeer, munisipaliteite en binnelandse sake…) in staat, beter beheer van kriminele oor grense en nasionale sekuriteit van burgers en regerende unies… grootste probleem wat ‘radical transformation’ in n ware demokratiese deffinisie nodig het. Persoonlik dink ek dat alle ‘Zuma’ geimplimenteerde wette geskrap moet word – sal klaar n goeie begin wees. Verklaar ouens soos EFF en BFLF terroristiese rebelle groepe wat onwettig, onregeerbaar en krimineel is. Dit bedreig ware demokrasie en verjaag enige vrede en veiligheid tussen burgers. Nie om eers te praat van die skaamte wat hulle oor ons land internationaal bring nie!

Anoniem ·

My kosmandjie se inflasiekoers is definitief nie Statistiek SA se 3.3% nie. Kospryse, veral vars vleis, groente en vrugte verhoog bykans weeksliks. Avo’s bv het binne 3 maande van R12-00 tot R27-00 gestyg. Dis slegs die paar basiese voedsel soorte se pryse wat min of meer stabiel bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.