‘Kommunikasiefout’ oorsaak van noodlottige treinbotsing

Die toneel kort nadat die botsing tussen die twee treine plaasgevind het. Foto: Twitter via @Abramjee

ʼn Voorlopige ondersoek na die treinongeluk in Pretoria wat vroeër vandeesweek die lewe van drie pendelaars geëis het, toon dat ʼn kommunikasiefout tussen die treinbeheerbeampte en die masjinis die rede vir die botsing was.

Die ongeluk het Dinsdag gebeur toe ʼn Metrorail-trein van agter teen ʼn ander trein gebots het. Volgens Madelein Williams, algemene kommunikasiebestuurder van die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR), het albei die treine by die Mabopane-stasie vertrek en het hulle passasiers vervoer. Die trein wat op pad was na die Pretoria-stasie het van agter gebots teen ʼn trein wat op pad was na die Belle Ombre-stasie.

Williams sê die gedeelte van die spoornetwerk tussen Pretoria-Noord en die Mountain View-stasie, waar die ongeluk plaasgevind is, se goedkeuring word al sedert November 2018 met die hand gedoen.

Volgens die voorlopige bevindinge was daar Maandag ʼn kommunikasiegaping tussen die treinbeheerbeampte en die masjinis op pad na die Pretoria-stasie. “Nadat die masjinis die magtiging verkeerd herhaal het, het die treinbeheerbeampte die verkeerde magtiging bevestig. Dit het daartoe gelei dat die trein die gedeelte tussen die Pretoria-Noord‑ en Mountain View-stasie verkeerdelik binnegegaan het,” sê Williams.

Die beheerbeampte en masjinis het volgens die voorlopige bevindinge ook nie aan Prasa se taalbeleid voldoen toe hulle gekommunikeer het nie.

Die toneel by die Mountain View-treinstasie in Pretoria waar twee treine gebots het (8 Januarie 2019). Foto: Verskaf

“Die skade aan die treinwaens van beide treine wat in die botsing betrokke was, dui daarop dat die trein na die Pretoria-stasie teen ʼn aansienlike spoed gery het. Onder abnormale bedryfsomstandighede, veral wanneer treine met die hand goedgekeur word, word daar van die treine verwag om teen 30 km/h te ry. Die presiese spoed wat die trein gery het, sal egter eers bevestig kan word wanneer die voorval-opnamedata bekom en deur die RSR geanaliseer is.”

Volgens Williams dui hierdie tipe ongelukke daarop dat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) nie net sy eie bedryfsprosedures oortree nie, maar ook die voorskrifte van die RSR. “Die RSR beklemtoon voortdurende die risiko’s verbonde aan lang periodes waartydens treinmagtiging met die hand gedoen word en dwing Prasa om die behoorlike beheer en bestuur oor handmagtigings te handhaaf. Ons sien egter die herhaling van voorvalle wat toegeskryf kan word aan hierdie bedryfsmetode.”

Volgens RSR gaan Prasa voort om hulle blind te hou vir spoorwegveiligheid in hulle bedrywighede.

Die RSR in steeds besig met sy ondersoek om bydraende faktore en die wortel van die probleem ten opsigte van die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

Maroela Media het vroeër berig drie mense is dood en honderde beseer in die botsing wat omstreeks 09:15 plaasgevind het.

Khanyisile Kweyama, die raadvoorsitter van Prasa, het Woensdag saam met die bestuur van Metrorail van die pendelaars wat beseer is in hospitale besoek. Kweyama het buite die Steve Biko-hospitaal gesê die dood van twee gesinslede in die ongeluk is uiters tragies. Sy het verwys na ʼn egpaar wat saam in die ongeluk gesterf het, terwyl hul twee kinders slegs geringe beserings opgedoen het.

Tans is daar ook twee mense in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die hospitaal. Volgens Kweyama is sy bekommerd dat een van dié pasiënte, wat bewusteloos is, nog nie deur ʼn familielid of kennis geïdentifiseer is nie.

Metrorail het vanaf vandag ʼn instapsentrum by die Pretoria-stasie beskikbaar gestel vir pendelaars wat in die ongeluk betrokke was om hulp en ondersteuning te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

zoeye ·

so almal was reg, onbekwaam………..
nogsteeds dit gaan nie mense se lewe terug bring
of enigsins die help wat dalk nou vir altyd met ‘n gebrek of besering sit

toy ·

Hul kommunikasiefout kos lewens en miljoene Rande. Onaanvaarbaar.

Gert ·

Mens kan nie voorstedelike treine met die hand magtig nie, daar is te veel spore en treine, en menslike foute sal altyd gebeur. Daar moes werkende sinjalering gewees het. Ongelukkig kan tegnies komplekse sinjalering nie in stand gehou word deur onbevoegde ongekwalifiseerde mense wat weens velkleur aangestel is nie.

thelsa ·

Kommunikasiefout ??? Is dit nou die nuwe terminologie vir TOTAAL ONBEVOEG (Willing but not able)

Anoniem ·

So word ons mense doodgemaak ONAANVAARBAAR Mnr Ramaphosa !!!!!!!!!???

Willehond ·

Wat se jy nou ou Blade? Kabel diefstal? Se alie!! Niemand skrik vir jou kastige woede nie. Leer eerder jou boeties hoe dinge werk!

reguit ·

dit sal beslis nie die laaste kommunikasiefout wees agv swak instandhouding wees nie. Die ANC wil die onmoontlike dinge moontlik maak en hulle sal dit nooit vermag nie.

Nonnie ·

Het jy al hulle Engels gehoor………. Ek weet, ek moet daagliks daarna luister……..o genade, berge val op my en heuwels bedek my……..

ne ·

Jammer daar is mense dood en beseer. Lei asseblief die personeel op. Dit wil sê as dit moontlik is!

Gemaskerde Sopbeen ·

As ek nalatig bestuur en iemand se dood veroorsaak word ek aangekla van strafbare manslag. As ek ‘n onbevoegde bestuurder agter die stuurwiel van een van my voertuie toelaat, en hy veroorsaak iemand se dood…..word ek aangekla van strafbare manslag. Gaan hierdie amptenare wat sulke “foutjies” maak wat mense hulle lewens kos, ook aangekla word?

Piet Pompies ·

Duitse boot stuur nood sein uit… “We are sinking, we are sinking”
Engelse kuswag… “What are you thinking about”
Lost in translation… communication

Boet ·

Die beheer word per hand gedoen van November 2018. So die sinjale is al maande buite werking. Wonder wie is aanspreeklik daarvoor?

zoom zoom ·

Waar is die betogers wat so aangaan oor die voorval by ‘n skool in NW. Ek hoop die famielies van die oorlede mense en die wat beseer is dien eise in op die “skuldiges” asook ons eie Blade min van Tranestort. Die “beskuldigdes ” moet ook geskors word soos die onderwyseres by die NW graad R debakel.

Koos ·

Dink ek mos aan dieselfde. Die skool het ook komunikasie of gebrek daaraan genoem, maar die EFF gaan betoog mos en die hele regering spring. Ek glo almal is lewendig en sonder beserings by die skool weg. WAAR IS ALMAL NOU DAT MENSE DOOD EN BESEER IS? O ja, geen politieke punte hier te kty nie!

Koos de Meyer. ·

In ons jare toe ek ‘n masjinis was moes jy ten minste 5 jaar ‘n drywers assistent wees voor jy Esselenpark toe kon gaan vir jou drywers eksamen op die elektriese treine. So gaan als maar agteruit, jy noem dit en aan die orde van die dag. Veiligheid bestaan net nie meer nie en onskuldige mense sterf en ly daar onder.

Wilma ·

Koos De Meyer jy praat waarheid. Vandag wil.niemand onder begin
.my xman was Treinbeheeramptenaar. Nooit ongeluk gehad. Opleiding ook seker nou al nie meer op standaard. Slaagpersentasie seker ook aangepas al.om mense te akkomodeer vi Regstellende Aksie persone. Oeeeee swak

Sandra ·

Geen wonder hulle bedryfslisensie het verval nie. Dit moet eenvoudig opgeskort word. Hulle bedryf ‘n besigheid met min of geen kennis en die pendelaars moet daarvoor boet

Pierre ·

Koos, in my tyd was ek minimum 8 jaar Drywers asst. Dan kollege toe. Nog 6 maande se roetes leêr. En dan mag jy net goedere treine ry. Na nog 2 jaar weer eksamen skryf en dan mag jy eers na ‘n passasiers trein gekyk het. Maw – 11 jaar voor ek passasiers treine kon ry. Maar nou ja, dit was 20 jaar gelede. Daardie reêls en nodige ondervinding moes NIE meer nodig in nuwe S.A. Kyk of ons kan uitvind hoeveel jare diens het hierdie betrokke persone. Ek twyfel nie eers 11 jaar gesamentlik nie.

Johan H. ·

Yes ou stomp Blade, ek ruik bbbbeeeee!!!!! Wil mos van die wittes ontslae raak , ek hoop die families dagvaar die hel uit julle uit!!

A Mac ·

O my aarde, hoeveel keer is die “kommunikasiefout” as verskoning gebruik vir foute? Net jammer dat party “komunikasiefoute” lewens kos. Maar dan klink dit beter om “kommuniasiefoute” die skuld te gee as mens se eie incompetence (verskoon my Engels – kommunikasie onbeholpenheid).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.