Komplikasies ná 9-jarige anemielyer se beenmurgoorplanting

Gidion du Toit in die hospitaal. (Foto: Facebook)

Die vreugde was van korte duur nadat die negejarige anemielyer Gidion du Toit Woendag sy lank verwagte beenmurgoorplanting in Kaapstad ontvang het  –  Gidion het kort na afloop van dié prosedure  komplikasies ontwikkel.

Gidion het Donderdag, ’n dag ná sy beenmurgoorplanting waarna sy ma, Tuscka Reynders, as die “dag van wedergeboorte” verwys, begin bloed opbring.

Reynders vertel dat ’n dreineringspyp noodgedwonge ingesit moes word om bloed uit sy maag te dreineer. Gidion het dié dreinering teëgesit. “Ek het nog nooit vir Gidi gehoor huil soos toe hulle die pyp ingesit het nie. Hy het geskree en gesmeek om dit eerder te verwyder, terwyl hy aanhou opgooi het. Ek dink dit was die ergste 20 minute van my hele lewe,” het Reynders gesê.

Klein Gidion weier nou om te beweeg, te sluk of te praat aangesien dié take eenvoudig te seer is om uit te voer. Volgens Reynders fluister Gidion bloot om te vra wanneer die dreineringspyp verwyder kan word. “Hy staar net voor hom uit,” vertel Reynders.

Gidion se witbloedselle het ook sedert Woensdag aansienlik gestyg. Reynders vertel dat sy baie bekommerd was hieroor. “Hoe is dit moontlik? Hy het dan nie witbloedselle nie?” Sy vertel dat Gidion se dokter egter nie verbaas is nie en dat dit waarskynlik is weens  die hoë oorplantingsvolume wat hy ontvang het.

Gidion se dokter is tevrede met die dreinering van die buis, maar wil seker maak dit word op die regte tyd verwyder aangesien hy bang is dat Gidion kan aspireer indien hy bloed hoes of opbring. Gidion het ook intussen koors opgedoen. Reynders sê dat hoë koors egter “normaal” is na ’n beenmurgoorplanting.

Die stamselle wat Gidion ontvang het. (Foto: Facebook)

Sy vertel verder dat dié tyd veral moeilik is aangesien sy nie in dieselfde kamer as Gidion kan wees nie. Reynders kan slegs haar seun deur ’n glasvenster dophou en met hom oor ’n selfoon praat. Reynders sal hopelik teen Sondag in sy kamer kan gaan en hom vir die eerste keer sedert sy beenmurgoorplanting kan vashou. “Dan sal niks ons ooit weer skei nie.”

Gidion is by geboorte met Fanconi-anemie gediagnoseer, ʼn genetiese siektetoestand wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie.

Hy het Woensdag ’n beenmurgoorplanting ondergaan nadat sy skenker se stamselle vroeër die dag by die hospitaal aangekom het.  Dié stamselle is vooraf gekontroleer om die lewensvatbaarheid daarvan te verseker. Reynders vertel dat dokters blykbaar ongeveer drie keer meer stamselle van die skenker geoes het as wat nodig was. Dié stamselle is gevolglik deur middel van ’n drup ingesit waartydens Gidion se dokter hom heeltyd gemonitor het.

Gidion moes voor die beenmurgoorplanting ook ’n reeks chemoterapie ontvang. Reynders verduidelik dat Gidion se skenker se bloedgroep aanvanklik van syne verskil het, wat beteken dat sy bloedgroep na die beenoorplanting verander het.

Hy moes vroeër die week deur “bloedwassingsproses” gaan waar ’n lyn in sy lies ingesit is om sy bloedgroep na die van sy skenker te verander. Gidion se bloed is gedurende dié prosedure van 30 minute uitgepomp, “skoongemaak” en toe weer in sy liggaam teruggepomp.

Maroela Media het vroeër berig dat Reynders ʼn paar weke gelede voor ʼn kruispad te staan gekom het en moes besluit of Gidion wel ’n beenmurgoorplanting moes kry nadat Gidion hepatitis opgedoen het as gevolg van die medikasie wat hy voor die oorplanting moes inneem.

Indien hulle nié voortgegaan het met die oorplanting nie, was daar niks meer wat dokters vir Gidion kon doen nie. Om voort te gaan het egter die moontlikheid ingehou dat hy spontane breinbloeding kan opdoen en dit dalk nie oorleef nie. Hy kan ook infeksie kry of iewers seerkry en doodbloei. “Ek het besluit op my gut feeling. Ons het voorgegaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Santie ·

Dit is darm ‘n vreeslike besluit vir ‘n ouer om te moet maak……Gidion, ons bid dat jy blankend gesond anderkant sal uitkom. Sterkte ook aan die ouers en en geneeshere. MM hou ons asb op die hoogte,

Dries ·

Baie dankie Here, vir my 4 wonderlike, woellige, gesonde kleinseuns!
Amen

Lollie ·

Sterkte aan die ouers! Glo en vertrou net en los dit in God se hande.
Seker maklik vir my om te sê maar daar is baie gebede vir julle!!!!
Glo daar wag ń blink toekoms vir hom!

GidionFan ·

Gelukkig is sy regte pa dag en nag by hom. Hy is ‘n wonderlike pappa wat alles gee vir sy kind.

Anoniem ·

Mag die Here jou styf vashou, Gidion. En as dit Sy wil is, jou deur die dal van doodskadu na die warm sonlig lei.

Erica ·

My hart breek vir die seuntjie en waardeur hy alles moet gaan. Hou moed Gidi xx

Dorothy ·

Baie sterkte Gidion En sy ouers! Ken die pad wat Julle stap, die bekommernis, die angs En die baie Vrae! Wees net stil En laat God toe om n wonderwerk vir Julle te doen.. Sterkte seun by is n yster!!!!

Bewonderaar van Gidion ·

Hierdie kind is n Positiewe kind soos min.
Hy sal gesond word en nog baie speel.
Hy is ‘n groot voorbeeld aan baie baie mense.

René ·

Tuscka….. Ek verstaan jou angs… Dis nou 16 maande na my seun se stamseloorplanting, elke dag, uur minuut het ons maar gevat soos dit kom…….. ons veg steeds die goeie stryd. Hou moed!!!

Gelukkig was ek 24/7 saam my seun in Pretoria Oos Hospitaal. Dr Brittain en sy span was en is steeds ongelooflik.

Die gebed wat ons aan die gang hou:
God, skenk ons die gemoedskalmte om te aanvaar wat ons nie kan verander nie.
Moed om te verander wat ons kan.
En wysheid om die verskil te ken.

Of jy nou ‘n ingroei toonnael of siek kind het, moeilikheid is moeilikheid. Maar ek kies om gelukkig te wees. Ten spyte van…..

Tuscka, mag jy bonatuurlike krag en berusting ontvang en jou seun die nodige moed en deursettingsvermoë. Sterk staan my liewe mensies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.