Konflik in Oekraïne sal oral gevoel word – ook in SA

Tenks van die Oekraïnse weermag neem deel aan ‘n oefening in die Dnipropetrovsk-streek. (Foto verskaf deur Oekraïnse gewapende magte/AFP)

Oekraïne is dalk duisende kilometers van Suid-Afrika, maar sou ʼn oorlog tussen Rusland en Westerse bondgenote van Oekraïne uitbreek, sal die rimpeleffek daarvan wêreldwyd gevoel word – ook op tuisbodem.

Rusland se troepe is die afgelope paar weke reeds op gereedheidsgrondslag langs die grens van Oekraïne geplaas, terwyl Amerika en Engeland dreig met sanksies en militêre aksie teen Rusland, sou hy die land binneval. Rusland is skynbaar vies oor die moontlikheid dat Oekraïne by Navo ingelyf gaan word.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging, sê ʼn volskaalse oorlog sal alles van internasionale handel tot oliepryse en die pryse van landbouprodukte negatief raak. “Dit kan ʼn tyd van wêreldwye spanning en konflik inlui wat wêreldwyd gevoel word,” sê Kleynhans.

“ʼn Oorlog veroorsaak ʼn versteuring in die globale ekonomie wat met die huidige herstel van die wêreldwye ekonomie baie sleg sal wees. Niemand kan sê ‘dit raak ons nie’, want dit sal die hele wêreld raak.

“Sommige van die wêreld se grootste moondhede is betrokke. Niemand weet regtig waar China staan nie, maar die werklikheid is tog dat daar die afgelope paar jaar groeiende spanning tussen lande soos Rusland, China en die VSA was.”

Kleynhans sê egter die kans op ʼn volskaalse soort derde wêreldoorlog tussen Rusland en die Weste is skraal. “Dit is hoogs onwaarskynlik. Die Amerikaanse burgery is negatief oor oorlog ná die oorloë in Irak en Afghanistan en daar is nie ʼn aptyt vir oorlog nie.

“En as die Amerikaners nie veg nie, sal die Europeërs nie veg nie.”

Talle Europese lande het die afgelope paar jaar boonop hul militêre begrotings besnoei.

Prof. Jo-Ansie van Wyk, ʼn kenner in internasionale politiek aan Unisa, stem saam dat pres. Joe Biden, die Amerikaanse leier, waarskynlik nie ʼn oorlog sal wil sien nie.

Soldate van Oekraïne wag in die dorp Avdiivka, te midde van hoop dat die spanning in die streek vreedsaam ontlont kan word. (Foto: Will Vassilopoulos)

Wat dalk moontlik is, is ʼn klein inval van ʼn gedeelte van Oekraïne waarmee Rusland “die water toets”, sê Kleynhans. Onder pres. Wladimir Poetin het die Russe dit in 2014 in die Krim-skiereiland gedoen en hy beset steeds gedeeltes van Georgië nadat hy die land in 2008 binnegeval het.

Van Wyk meen ook só ʼn scenario is eerder moontlik as ʼn volskaalse oorlog. “Ek dink daar kan ten minste ʼn skermutseling wees – iemand verloor dalk sy cool en trek ʼn sneller, of daar kan verbyvlugte of moontlik ʼn bom op Oekraïense grondgebied wees.

“Ek dink ook die uittarting gaan beslis voortgaan.”

Van Wyk noem dit ʼn kruitvat-scenario en maan dat dit nie goeie gevolge vir enigiemand gaan inhou nie. Sy sê verskeie individuele leiers, soos Frankryk se pres. Emmanuel Macron, is nou in gesprek met Poetin in ʼn poging om ʼn diplomatieke oplossing te vind. “Poetin hou daarvan, al die aandag is nou op hom.”

Oor die moontlikheid van ʼn inval waarsku Kleynhans egter ook: “Met Poetin weet ʼn mens nooit nie.”

Volgens hom is die Weste in ʼn moeilike posisie om sinvol op Rusland se optrede te reageer. “Die enigste remedie vir die Weste – omdat hy waarskynlik nie oorlog sal voer nie – is byvoorbeeld sanksies of die afsny van invoere.”

Rusland is egter een van die wêreld se grootste olie- en gasprodusente en enige oorlog waarby hy betrokke raak, sal ongetwyfeld lei tot prysstygings. Dieselfde geld vir prysstygings in gewasse soos mielies, koring en rys. Europa voer talle produkte uit na Rusland, en ʼn land soos Duitsland kry ʼn derde van al sy gas uit Rusland. Dit beteken daar is baie op die spel vir albei kante.

Invloed op Afrika

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

Suid-Afrika het hom sedert die eskalering van die konflik nie werklik uitgelaat oor die situasie tussen Oekraïne en Rusland nie. Die land is lid van die Brics-groep (wat ook Brasilië, Rusland, Indië en China insluit), en die regering het historiese struggle-bande met Rusland.

Suid-Afrika het hom vantevore ook nooit werklik uitgespreek teen Rusland se anneksering van die Krim-skiereiland nie – en doen dit nou ook nie.

“Ons regering is tjoepstil,” sê Van Wyk. “Terselfdertyd het Suid-Afrika in ander gevalle dikwels veel te sê oor lande wat mekaar nie respekteer nie.”

Kleynhans meen dit is waarskynlik veiliger vir Suid-Afrika om hom nie oor die situasie uit te laat nie. Hy sê Suid-Afrika staan tradisioneel nader aan Rusland, maar Suid-Afrika se rol in internasionale politiek – en sy invloed – krimp toenemend.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het Kenia, Nigerië en Senegal verlede jaar besoek – en Suid-Afrika oorgeslaan.

“Suid-Afrika is nie meer so invloedryk nie en ons het ons internasionale geloofwaardigheid ingeboet, veral onder die Zuma-regering. Ons het nie eintlik meer ʼn baie relevante stem nie.

“Suid-Afrika sal ʼn groot risiko loop om enigsins kant in die konflik te kies.”

Kleynhans sê enige groot konflik tussen Rusland en die Weste sal ook die fokus van Afrika wegneem. “Ons moet dit nie onderskat dat Afrika tans enorme uitdagings, soos die opkoms van Islamitiese terreur, het nie. ʼn Oorlog sal kapasiteit van moondhede soos Amerika en Europa wegneem om konflik in Afrika te help bekamp.”

Van Wyk sê eindelik is Oekraïne dalk ʼn klein land, maar een met groot geo-strategiese belang vir talle lande. Enige destabilisering daar sal dus in die res van die wêreld gevoel word.

Die land se mense het ook ʼn groot drang na onafhanklikheid en is gekant teen oorheersing, ʼn begrip waarmee talle Suid-Afrikaners hulle moontlik kan vereenselwig, sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Windhond ·

Rusland sal ongetwyfeld staatmaak op SA se 2 Gripens en 2 Rooivalke , asook ons 4 Rubber ducks en 6 werkende Ratels – veral ons fikse weermag kaders

Vrijburger ·

Nee wat, die bedreiging word deur die Biden administrasie en hoofstoom media op en aan geblaas om die aandag af te lei van die probleme tuis.

Jaco ·

“Suid-Afrika het hom vantevore ook nooit werklik uitgespreek teen Rusland se anneksering van die Krim-skiereiland nie – en doen dit nou ook nie.”
Kan Rusland ASSEBLIEF die Wes-Kaap annekseer. Eks seker daarvan dit sal beter gaan dan. Onthou, Rusland is nie meer kommunisties nie en dis SONDER beurtkrag, swak vuil staatshospitale, slaggate in paaie, hemelhoë werkloosheid, lae standaard onderwys en en en.

ES ·

Ek weet nie Jaco, Putin regeer maar nog op ‘n redelike kommunistiese manier – maar dit gaan definitief baie beter met Rusland as met SA.

Hoekom ·

Rusland gebruik die swak en onseker leierskap, van Biden, in amerika tot sy eie voordeel.

annie ·

‘n Groot opvoering so in ____ ? die president van die Ukraïne se kraal, spesiaal gekies omrede sy onvemoë en vrugbare verbeelding om te val vir die oorlogsgrap dat ‘hy’ bedreig word deur Rusland terwyl Biden (ditto) weer moet glo dat ‘hy’ in beheer is. Wie was eerste in die Ukraïne met sy leër? Navo. As Putin die land wou inval sou hy nie gewag het tot die hele Weste eers slaggereed is nie en dan ietsie probeer nie. Almal het die nuwe CIAwood-slaptick war-rated fliek gekyk en glo nou sowaar Biden is die nuwe 007.

Phil ·

‘Wat dalk moontlik is, is ʼn klein inval van ʼn gedeelte van Oekraïne waarmee Rusland “die water toets”, sê Kleynhans.’

Rusland het dit effektief lankal gedoen deur die separatiste in die ooste van Oekraïne, in die gebied wat wat bekend staan as die Donbas, wat die streke Luhansk en Donetsk insluit, teen Oekraïnse magte te steun met wapentuig en ander voorraad – en heel waarskynlik mannekrag. Daar woon baie etniese Russe wat eerder deel wil wees van Rusland (soos ook die geval was in Krim), en Rusland buit die sentiment in daardie gebiede uit.

Swerwer ·

Rusland het klaar sy brood aan beide kant gebotter en wag net vir die regte tyd.

Marthinus W ·

Die prof se aanname dat Poetin van die aandag op hom hou, is foutief. Dan wys die prof dat sy Oekraine se standpunt insien, maar wys nie dat sy Rusland s’n insien nie, wat basies dieselfde is: Ons is n soewereine staat en wil onsself bestuur, nie wassalstate van Amerika wees nie. Rusland is nie “vies” omdat Oekraine by Navo wil aansluit nie, hulle voel Navo is n bedreiging van die Balties tot by die Swart See.

Oor Georgie kan lank gedebatteer word, maar die Amerikaanse Ruslandkenner, wyle prof Stephan F Cohen, was duidelik: Georgie, met aanmoediging van Navo, het die eerste skote gevuur; Rusland het in verdediging opgetree om te help.

Die afgelope paar maande is $1 bijoen in Oekraine gepomp, met miljoene dollar se wapens. Dis Navo en die EU wat die situasie onstabiel maak. En China het die afgelope week dit duidelik gemaak dat hulle by Rusland staan.

Piet parys ·

Ek verstaan eerder dat Okraïne op gereedheidsgrondslag geplaas is agv die Russe se dreigende houding op die grens om der duisende soldate soontoe te stuur . Dink die berig moet net eers gekorrigeer word in daai opsig.

Eidel ·

SA kan nie klaarkom sonder moedertjie Rusland en China nie, SA is klaar ‘n voorstad van China. Wonder wat sal gbeur indien die regering die stryd verloor en ander partye regeer.

Pieter jacobus theron ·

Die kenners het duidelik nie Siener van Rensburg se boeke gelees waarin hy die 3e wereldoorlog haarfyn voorspel nie. Gaan lees dit en vlg dit met wat voor ons oë plaasvind en elke haar op jou kop sal regop staan. N man wat reeds in 1926 oorlede is beskryf die oorlog en meer spesifiek die verloop daarvan asof hy vandag na you tube gekyk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.