Koningin van Zoeloes sterf óók

‘n Argieffoto van wyle Zoeloekoningin Mantfombi Dlamini Zulu. Sy was 65. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die koninklike familie van die Zoeloes het die dood van koningin Mantfombi MaDlamini Zulu bevestig. Sy is net sowat ʼn maand gelede, ná die dood van haar man koning Goodwill Zwelithini, as regent aangestel.

“Dit het ons onkant betrap en diep bedroef gelaat. Dit is inderdaad so dat die Here alleen weet hoeveel dae Hy aan elkeen van ons gegee het,” het prins Mangosuthu Buthelezi, tradisionele eerste minister vir die Zoeloemonarg en -land, gesê.

Buthelezi het namens die koninklike familie gesê hoewel almal in rou gedompel is, daar geen “leierskapsvakuum” sal wees nie.

Geen opvolger vir die Zoeloevolk met sy nagenoeg 11 miljoen lede is nog ná die koning se dood in die openbaar bekend gemaak nie. Wyle koning Zwelithini het wel in sy testament uitgestippel wie hy as opvolger benoem. Die koning is op 12 Maart in die ouderdom van 72 in ʼn hospitaal in Durban dood. Hy was Afrika se langsdienende monarg.

Die koningin sou ná haar man se dood na verwagting een van haar seuns aanwys as nuwe koning. Sy het agt kinders, insluitend vyf seuns, by Zwelithini gehad. Daar is bespiegel dat sy waarskynlik haar oudste seun, prins Misuzulu Zulu, sou aanwys as die volgende Zoeloekoning.

Luidens berigte is die 65-jarige koningin vroeër in ʼn hospitaal opgeneem. Sy was glo geruime tyd siek. Geen besonderhede oor watter hospitaal of die aard van haar siekte is bekend gemaak nie.

MaDlamini is die suster van koning Mswati III, die huidige koning van eSwatini (Swaziland) en Afrika se enigste absolute monarg.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy diepe medelye betuig.

“Persoonlik en namens die regering en alle Suid-Afrikaners, betuig ek my diepe medelye met die koninklike familie en Zoeloevolk.

“Ons gedagtes, gebede en harte is by die koninklike familie wat te midde van hul rou oor die heengaan van die geliefde koning, nou ook die regent so gou daarna moet groet.

“Ons staan saam met die koninklike familie en die volk in hierdie uur van smart,” sê Ramaphosa.

Verdere aankondigings oor die koningin se begrafnis sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maggies ·

‘n Statige dame. Mag sy in vrede rus. Innige meegevoel aan haar familie. Om ‘n moeder te verloor is nie maklik nie en sy was ook die moeder van haar volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.