Konseptaalbeleid ondermyn vryheid van taal

Argieffoto

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Professionele Regslui sê in reaksie op die publisering van die konseptaalbeleid deur die Regspraktisynsraad, dat die raad met hierdie taalbeleid poog om die gebruik van amptelike tale in sy werksaamhede so te reguleer dat die beginsel van taalvryheid ondermyn word.

Alhoewel die konsepbeleid van die bevordering van veeltaligheid melding maak, stel die beleid dit ook prontuit dat die Regspraktisynsraad alleenlik Engels as taal van administrasie sal aanvaar.

“Die Regspraktisynsraad toon geen erns om die gebruik van amptelike tale in die regsberoep te bevorder nie, en poog in werklikheid om uitsluitlik Engels as enkele taal op die regsberoep af te forseer,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir Professionele Regslui.

Die Regspraktisynsraad se deurlopende pogings om Engels as uitsluitlike taal in die regsberoep te bevorder, is duidelik in hulle benadering tot die aflê van toelatingseksamens vir prokureurs wat hulle eensklaps in 2019 afgeskaf het, voeg Krüger by. “Dit was die hofaansoek van die Solidariteit Beroepsgilde vir die Professionele Regslui en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans wat hierdie eensydige proses stopgesit het. Die stryd hieroor is egter allermins verby.”

Ingevolge artikel 6(4) van die grondwet, saamgelees met artikels 30 en 31, moet praktisyns hul onderskeie gemeenskappe nie net in ’n taal van hul keuse kan dien nie, maar het hulle ook die reg om hul firmas op wyses in te rig wat vir hulle voordelig is.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die Regspraktisynsraad hul tentakels so laat uitbrei dat hulle toenemend sentrale beheer van die regsberoep wil toepas,” sê Krüger.

Die gilde is reeds besig om kommentaar hierop voor te berei.

Klik hier om die konseptaalbeleid te lees (vanaf p.38)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

akkedismis ·

Dit is TELEURSTELLEND. Ten minste 66% van alle inwoners van ons land het Afr. en Eng. as vakke op skool gehad terwyl 80% van inwoners in die Kaap Afrikaans sprekend is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.