Konstabel in hof vir polisieman se moord

Lt. kol. Reinier Lagois. Foto: Verskaf

Lt. kol. Reinier Lagois. Foto: Verskaf

Konst. Rishen Rampashard van die Pretoria-Wes-polisiestasie verskyn weer Maandag in die Pretoria-landdroshof vir die moord op lt.kol. Reinier Lagois.

Lagois (42) is verlede maand koelbloedig by sy huis in Pretoria doodgeskiet, glo weens ʼn beweerde liefdesdriehoek.

Maroela Media het vroeër berig Rampashard is op 29 Januarie in verband met die moord in hegtenis geneem.

Lagois se liggaam is op 18 Januarie by sy huis in die Pretoriase Moot gevind. Altesaam 14 patroondoppies het op die toneel gelê en sy blougrys Toyota Corolla was vermis. Die motor is op 20 Januarie ongeveer 7 km van sy huis verlate langs die pad aangetref. Lagois was die hoof van ondersteuning by die Leote-polisiestasie.

Hennie Lagois het ná Rampashard se inhegtenisneming aan Maroela Media gesê sy broer het saam met sy voormalige vriendin gebly, hoewel hulle nie meer in ʼn verhouding was nie. “Hy en [sy vriendin] het saam die huis gekoop waarin hulle gebly het. Nadat hul verhouding op die rotse beland het, het hulle ooreengekom dat sy in die huis sou aanbly en dat hy sou uittrek sodra sy dan sy gedeelte van die eiendom gekoop het,” het hy gesê.

Volgens Hennie was Rampashard die aand van die moord op die toneel, glo as ʼn familievriend. Hy het hom egter nie geken nie. Hy vermoed Reinier se voormalige vriendin ken egter wel vir Rampashard, aangesien sy glo voorheen ʼn bevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisiestasie was, waar Rampashard gevestig is.

Volgens Hennie is Reinier se voormalige vriendin waarskynlik nog nie deur die Valke se ondersoekspan ondervra nie omdat sy tans in ʼn psigiatriese hospitaal behandel word. Hy kon nie sê waarvoor sy behandel word nie.

Lees alle vorige berigte oor lt.kol. Reinier Lagois op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

wims ·

Ja en die voormalige vriendin se eerste man is ook dood geskiet. Die polisie ondersoek dit en ook bedrog sake teen haar. So haal jou verlede jou in. Net jammer nog n man moes met sy lewe boet. Innige meegevoel met die familie met hul groot verlies!

Nuuskierig ·

Daar is n Piketberg koerant berig wat se dat haar eerste man aan n hartaanval oorlede is, waar kom jou inligting vandaan. Wonder of die koerant hul gegewens nagegaan het voor publikasie of net geglo het wat die stasiebevelvoerder vir hul vertel het.

Sad ·

So SAD SAD SAD, ek het gedink daar is meer om die vreemde dood, ‘n goeie Polisie man net so uitgevee, omdat dinge nie meer na jou speletjie gedoen word nie. Ek hoop regtig die 2tjies word behoorlik ondersoek en vervolg en haar kamma Psigiatriese hospitaal stories kan sy maar los, Wims maak seker die ondersoek beamptes weet alles wat jy weet en op rekord het. Sulke vroue en natuurlik die Rampashard. Hul is Polisie beamptes en moet ‘n voorbeeld wees, wens hul kon dubbeld en harder gestraf word!

DPJ ·

Korrek Sad, polisie wat korup is moet dubbel die straf ontvang as ander misdadigers.
Met aanstelling moet elke polisie beampte daartoe toestem dat sou hulle misdaad kurupsie pleeg dubbel straf ontvang met skuldig bevind word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.