Konstabel vas vir dronkbestuur; video’s van bakleiery

‘n Skermskoot uit een van die video’s.

ʼn Konstabel van Khayelitsha in die Wes-Kaap is in hegtenis geneem toe polisiebeamptes van die Lingelethu-Wes-polisiekantoor Woensdagmiddag in kennis gestel is van ʼn motorongeluk in Ilitha Park waarin ʼn polisievoertuig betrokke was.

Die 33-jarige konstabel het glo rondgeslinger toe polisiebeamptes op die toneel aangekom het, sê brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder. Sy bloedalkoholvlak is getoets en hy is daarna aangekla van dronkbestuur sowel as roekelose en nalatige bestuur. ʼn Interne dissiplinêre ondersoek is intussen van stapel gestuur.

Intussen het video’s van die voorval aan die lig gekom op sosiale media waarin gesien kan word hoe ʼn polisiebeampte in volle uniform ʼn taxibestuurder konfronteer en hoe hy en die bestuurder dan in ʼn gewelddadige onderonsie betrokke raak. Padgebruikers, voetgangers en passasiers van die minibustaxi het die voorval gesien gebeur en video’s geneem.

Die identiteit van die taxibestuurder is ook aan die polisie bekend en hy sal ondervra word as deel van die ondersoek.

‘n Skermskoot uit een van die video’s.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, het die inhegtenisneming van die konstabel verwelkom en sy gedrag ten sterkste veroordeel.

“Hierdie beampte behoort nie in die polisiediens nie. Polisiebeamptes kan nie so optree en verwag dat daar geen gevolge gaan wees nie. Die beampte het besluit om sy blou uniform vir ʼn oranje een te ruil die oomblik toe hy dronk by die werk opgedaag het.”

Die minister het polisiebeamptes gemaan om hul plig teenoor die land na te kom.

“Tydens die Covid-19-pandemie is die SAPD se taak om nie net die landswette toe te pas nie, maar ook die regulasies van die rampbestuurwet af te dwing. Ons kan dit nie bekostig dat beamptes misdrywe pleeg nie. Diegene wat dit doen sal die gevolge dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.