Konstitusionele Hof gee ‘ja’ vir Afrikaans by Unisa

Die Unisa-kampus in Sunnyside. (Foto: Izelle Jacobs/Unisa)

Die Konstitusionele Hof het bevind dat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se besluit om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal by die instelling ongrondwetlik is – ʼn uitspraak wat as ʼn reuseoorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en taalregte in die algemeen bestempel is.

Die saak is in Mei vanjaar in die land se hoogste hof aangehoor en uitspraak is voorbehou nadat Unisa verlede jaar geappelleer het teen ʼn uitspraak in die appèlhof dat sy Engelse taalbeleid, wat die universiteit reeds in 2016 aanvaar het, ongrondwetlik is.

Die burgerregtegroep AfriForum het die saak aanhangig gemaak en het onder meer aangevoer Unisa het die beleid op ʼn onregmatige manier aanvaar.

Die Konstitusionele Hof het die appèlhof se bevinding, dat Unisa se huidige taalbeleid ongrondwetlik is, bekragtig. Die hof het wel meer tyd toegelaat vir die inwerkingstelling van die uitspraak.

Die volledige uitspraak was ʼn kort ruk gelede nog nie beskikbaar nie, maar volgens AfriForum het hy die “grootste waardering vir die Konstitusionele Hof se standpuntinname oor studente se reg op moedertaalonderrig”.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by die organisasie, sê die uitspraak is van reusebelang vir nie net Afrikaanssprekende studente nie, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.

“Dit is goed en wel om te sê dat private onderriginstellings vryheid het om onderrig in enige taal van hul keuse aan te bied, maar om as taal van onderrig aan ʼn tersiêre instelling gebruik te word, is van groot belang vir die voortbestaan en volgehoue ontwikkeling van enige taal,” sê Bailey.

Sy sê juis daarom kan die uitfasering daarvan aan enige instelling nie sonder meer aanvaar word nie.

“Die hof het vandag hierdie punt met die uitspraak bevestig en die reg op toegang tot Afrikaanse moedertaalonderrig aan openbare en private instellings vir studente van alle inkomstegroepe bevestig,” sê Bailey.

Die DA het intussen die kop van Unisa se rektor, Puleng LenkaBula, én van die hele universiteitsraad geëis.

Chantal King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, sê die party dring daarop aan dat LenkaBula en die raad aanspreeklik gehou word vir die manier waarop hulle die grondwetlike regte van Afrikaanssprekende studente vertrap het.

LenkaBula is vroeër vanjaar as rektor en visekanselier by Unisa aangestel, maar King sê dit is onder haar leiding dat die universiteit besluit het om te appelleer teen die vroeëre uitspraak van die appèlhof.

“Die hofuitspraak bevestig dat Unisa op ʼn agterbakse en onwettige wyse probeer wegdoen het met Afrikaans, ten spyte daarvan dat nagenoeg 30 000 studente by hierdie universiteit in Afrikaans studeer. As gevolg van die uitspraak moet Unisa Afrikaans nou tot sy regmatige plek as volwaardige en gelyke onderrigtaal herstel,” sê King.

“Dit is egter onmoontlik vir die Afrikaanssprekende gemeenskap om vertroue te hê dat LenkaBula en haar kollegas – wat die Grondwet verbreek het om Afrikaans te ondermyn – hieraan gehoor sal gee.”

King sê die uitspraak is ook van groot belang vir die DA se voortgesette stryd teen die Universiteit Stellenbosch (US) se pogings om “Afrikaans aan daardie universiteit te vernietig”.

Sy sê nes Unisa is die US blykbaar weens politieke redes vasbeslote om ontslae te raak van Afrikaans ten spyte daarvan dat die oorgrote meerderheid van die inwoners van die Wes-Kaap Afrikaanssprekend is.

“Om hierdie soort agterbakse optrede teen te staan, het die DA vroeër vanjaar klagtes teen die US ingedien by die Menseregtekommissie (MRK), wat tans steeds ondersoek word. Ons sien uit na die uitslag van hierdie ondersoek, asook om die US-bestuur verantwoordbaar te hou.

“Ons vertrou dat geregtigheid ook op Stellenbosch sal seëvier soos wat dit by Unisa geseëvier het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Pieter9 ·

Baie geluk AfriForum, weet nie hoe hierdie land sou geyk het sonder julle!

Kokerboom ·

Welgedaan. Klein stap in die regte rigting. Tragies dat ons moet veg teen owerhede vir basiese regte!!Kan verpligte reg om belasting te betaal dan ook sommer so van tafel gevee word?

Hardekwas ·

Ons het dan Unisa begin. Hoe kon die uitslag enigeiets anders wees?

JM ·

Was nog nooit in staat om iets tot stand te bring nie, maar is fluks om oor te neem en hul wil af te dwing.

annie ·

Ons moet vertrou dat die universiteit self beïndruk is met die hofuitspraak want daar was wit Afrikaanse lektore wat baie stief behandel is in die verlede wat die pad gevat het.

Boon ·

ons sal noe opgee op ons stryd teen onderwysinstellings wat Afrikaans wil vernietig nie. Die taal is nou die slagoffer van politieke en kerklike beleid om nie-wit Afrikaanssprekenedes uit te sluit. adis n drog argument.

4ntj13 ·

Wow! Ek hoop dit lei tot beter bestuursbesluite elders ook, en dat die skenders van ons regte verwyder sal word uit belangrike posisies. Ek wil graag weer trots raak op my Unisa kwalifikasies!

Agie@toeka ·

Wel gedaan!!! Daai klomp dink mos hulle kan met als weg kom.

Christel ·

Baie geluk aan Alana en haar span ek het die voorreg gehad om haar te ontmoet in 2016 oor n koppie koffie in Bfn juis om Unisa se verengelsing te bespreek. Ek was een van die dtudente wat gekla het daaroor. Wat n fenominale vrou. Haar passie is onbeskryflik groot sy gee nie op nie. Nou kan my kinders ook daar leer as hulle wil.

ES ·

Wonderlik – ons taal is net so belangrik soos enige van die ander 8 ampterlike tale in ons land.

Carolina ·

Nou moet julle asseblief van slim Wim by US ook ontlslae raak!!

Jaco ·

Voordat almal nou te bly word: onthou tog net dieselfde Konstitusionele Hof regverdig regstellende aksie, wat eintlik openlike rassisme teenoor wit mense is.
Waar dié hof met sy een hand 1 mensereg gee, vat hy more oormôre net weer 2 ander menseregte met sy ander hand weg.

Tino ·

Welgedaan! Baie trots op hierdie uitspraak, dit vol soos n uitklop hou met die tande wat spat

fs ·

Ek sal hul gratis help tik en vertaal om die leer materiaal weer in Afrikaans beskikbaar te maak – ek is seker meer mense sal my help !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.