Konstitusionele hof steek stokkie voor onafhanklike kandidate

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Die konstitusionele hof het ʼn stokkie gesteek voor onafhanklike kandidate se poging om in die provinsiale en nasionale verkiesing aanstaande Woensdag verkiesbaar te wees deur die besluit dat die saak nie dringend is nie.

Die land se hoogste hof het trouens korte mette gemaak van Chantel Revelle, wat haar as ʼn Korana-prinses beskryf, se pogings om as onafhanklike op die stembrief te verskyn sodat sy “haarself as vrou en as Khoi kan uitleef”, soos haar hofstukke beweer.

Revelle se regspan wou hê volgende week se verkiesing moes uitgestel en nuwe stembriewe gedruk word, ten spyte daarvan dat – soos vanaf die regbank uitgewys is – Suid-Afrikaanse kiesers oorsee reeds die afgelope naweek hul kruisies op die bestaande stembrief getrek het.

Eerder as om haar en haar regspan gelyk te gee, het die hof beslis die saak is nie dringend nie en die verhoor uitgestel tot 15 Augustus. Die regters het ook krities gereageer op sekere stellings wat Revelle se regspan oor die parlement en sy ampsdraers gemaak het.

In die praktyk beteken dit die verkiesing kan voortgaan, en slegs die name van partye wat by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer is en vir die verkiesing in die betrokke landwye of provinsiale jurisdiksie geregistreer het, sal as keuses op die stembrief verskyn.

Revelle het vroeër haar aanvanklike hofsaak in die Kaapse hooggeregshof verloor toe regter Siraj Desai beslis het daar is niks wat haar keer om haar eie politieke party met haarself as leier en kandidaat by die OVK te registreer nie – onafhanklike kandidate is dus vir die doel van nasionale en provinsiale verkiesings onnodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Dit sal nou waardeer word as die aantal partye op die stembief sommer BAIE kan krimp. Ek het idee die gewildste beroep in die land is om President te wees, die tweede-gewildste, om ‘n politikus te wees.

Alida ·

Elke jan rap wil in die parlement gaan sit net om moles te maak. Kan hulle mos nie gedra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.