Konstitusionele Hof: Waar is die uitsprake?

Deur Nurina Ally en Mbekezeli Benjamin, GroundUp

ʼn Ondersoek van hofverslae toon dié hof, die land se hoogste hof, se stadige begin vanjaar is ongekend. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die tweede kwartaal van die jaar het reeds begin en die Konstitusionele Hof het nog nie ʼn enkele uitspraak gelewer nie.

ʼn Ondersoek van hofverslae toon dié hof, die land se hoogste hof, se stadige begin vanjaar is ongekend.

Die Konstitusionele Hof lewer gewoonlik binne die eerste twee maande van die jaar reeds uitsprake in beslissende sake en moes teen hierdie tyd al goed op dreef gewees het.

In dieselfde tyd verlede jaar het die Konstitusionele Hof in die eerste paar maande reeds tien uitsprake gelewer. Die jaar voor dit, in dieselfde tydperk, is minstens 13 uitsprake al gelewer.

In minstens 15 sake is uitspraak al sedert verlede jaar hangend. In agt gevalle word uitspraak al langer as ses maande voorbehou.

Daar is talle litigante wat reeds maande lank angstig wag op uitspraak van die hof – en intussen word die agterstand al groter.

Vir diegene wat die howe fyn dophou is die situasie nie net verbysterend nie, maar ook kommerwekkend. Kommer oor die doeltreffendheid van die Konstitusionele Hof neem al geruime tyd toe.

ʼn Onlangse ondersoek van die Universiteit van Kaapstad het getoon dat die tyd wat dit die hof neem om ʼn uitspraak te lewer van 2010 tot 2021 meer as verdubbel het.

Hierdie neiging het ʼn parallelle toename getoon met die aantal aansoeke wat in dié tydperk by die hof ingedien is.

Regters van die hof het self ook al toegegee dat die werklas die stelsel onder groot druk plaas.

Hoofregter Raymond Zondo het selfs, tot sy krediet, die probleem openlik erken.

Die planne om die situasie te pak boesem egter nie veel vertroue in nie. Die hof het sy interne prosedures aangepas om oor nuwe aansoeke te besluit, maar sonder noemenswaardige sukses. Dit is wel moeilik om ʼn behoorlike assessering te doen, omdat die inligting oor hoe lank dit neem om oor nuwe aansoeke te beslis, nie geredelik beskikbaar is nie.

ʼn Onlangse plan om afgetrede regters te gebruik om te help met die hantering van nuwe sake is ook laat vaar nadat dit kritiek ontlok het.

Nog ʼn voorstel was dat regters ʼn verkorte verklaring van redes gee in gevalle waar ʼn aansoek van die hand gewys word. Die hof lewer gereeld sulke uitsprake agter geslote deure waar aansoeke van die hand gewys word sonder dat ʼn gepubliseerde uitspraak gelewer word.

Dit sal egter ʼn nuutjie wees om uitsprake op dié wyse te lewer in aansoeke wat geplaas is vir ʼn volledige verhoor. Daar moet dus gewaak word oor watter aansoeke sulke verkorte uitsprake sal kry.

Strukturele verandering binne die Konstitusionele Hof is dus belangrik om te verseker dat geregtigheid steeds geskied.

Die hoofregter sal daadwerklik hier die voortou moet neem, maar ander rolspelers in die hof sal ook hul deel moet doen.

Daarom kan daar net gehoop word dat wanneer die Regterlike Dienskommissie vandeesweek vergader hy nie net bloot die rekord van aansoekers tot die regbank sal oorweeg nie, maar ook die belange van die Konstitusionele Hof in ag sal neem.

Nurina Ally is die direkteur van die Sentrum Reg en Samelewing en ʼn senior dosent by die Universiteit van Kaapstad. Mbekezeli Benjamin is ʼn navorsing- en bewusmakingsbeampte by Judges Matter.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Die dame van Nedbank het die waarheid gepraat, al is sy toe nou afgedank!

koos10 ·

Dis omdat alles in SA “negotiate” moet word met almal. Niemand mag meer ‘n besluit neem nie, en so het die vermoeë om besluite te neem by die venster uitgewaai.

Andries ·

Hey! Ek is by die werk, is ingeklok by die werk en kry elke maand ‘n salaris . Maar niemand het gesê ek MOET werk nie.

Antionette ·

Uiteindelik is d KH ook gekaap net soos d hele Departement v Justisie.

Di ·

Hoekom? Want onbevoegde mense sit in poste maar doen nie hulle werk nie! Wag net vir die volgende salaris. ANC regeer alle howe asook die NVG

annie ·

In die antieke tye is kleingeld van sulke regter gemaak deur hul by die kranse af te gooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.