Konstruksiemaatskappy verdwyn glo met R21 miljoen in Mpumalanga

einde-padwerke

Argieffoto (Foto: Frederick Tubiermont/Unsplash.com)

ʼn Konstruksiemaatskappy in Mpumalanga het glo met ʼn bedrag van R21 miljoen, wat vir rehabilitasie van ʼn pad geoormerk is, verdwyn en die LUR van openbare werke, paaie en vervoer word gepols oor antwoorde.

Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus, het gesê tydens ‘n oorsigbesoek van Mpumalanga se wetgewer-portefeuljekomitee vir die betrokke departement aan die Nkomazi-streek, is bevind dat die rehabilitasie van die D2950-pad tussen Mtata en Mananga, toegeken is aan ‘n kontrakteur wat ʼn betaling van meer as R21 miljoen ontvang het. Die maatskappy het egter minder as R1 miljoen se werk gedoen.

“Die VF Plus het ernstige vrae hieroor, aangesien die staat nie mag betaal vir werk wat nog nie gedoen is nie, tensy die projekingenieurs skriftelik toestemming gee dat die voltooide werk van goeie gehalte is en dat die hoeveelheid werk wat aan die projek gedoen is, die betaling regverdig,” het Weber bygevoeg.

Die party het ook ʼn skrywe gerig aan die LUR van die departement, Gillion Mashego, oor watter maatreëls getref is om die geld van die kontrakteur te verhaal, aangesien die projek weer op tender uitgesit is en in Mei 2021 aan ʼn nuwe kontrakteur toegeken sal word.

“Daar sal ook vrae gestel word rakende die departement se projekbestuurspan wat in die beste belang van die staat moet optree en dié spesifieke betaling gemotiveer het. ʼn Klag gaan ook ingedien word by die Ingenieursraad van Suid-Afrika teen die raadgewende ingenieursfirmas weens die onreëlmatige betaling aan die kontrakteur.”

Weber het gesê op grond van dié antwoorde, sal die VF Plus die Valke vra om die saak volledig te ondersoek en die nodige stappe teen die skuldige partye te doen.

“Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om korrupsie met wortel en tak uit te roei en die skuldiges aan die pen te laat ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cecilia ·

D Projekbestuurspan het sekerlik n paar miljoen ontvang vd sogenaamde konstruksie maatskappy.. Dis te maklik om Maatskappye te stig en BBEEE te registreer

Samuel ·

Wat kan mens van die spul verwag? Korrupsie is mos endemies.

JM ·

Hierdie land stik aan al die korrupsie. Sal dit waaragtig dan nie ophou nie? Dít is wensdenkery.

Androclus ·

Konstruksiemaatskappy verdwyn glo met R21 miljoen in Mpumalanga.Hoe kan ‘n maatskappy verdwyn.Bog weer een van daardie dinge .Skelms

Elize ·

Net nog ‘n betalingtjie om ‘n kader se sak vol te stop.

Pieter ·

Dui die name van die projekbestuurders wat sulke valse betalings goedkeur aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.