Konsultasieproses oor afleggings by SAUK afgehandel

(Argieffoto: Karen Sandison/ANA)

Die SAUK sê hy het die konsultasieproses oor afleggings by die openbare uitsaaier ná ses maande afgehandel en dat selfs minder werkers nou geraak gaan word.

Die uitsaaier sê die getal geraakte werkers staan nou op 303, net minder as helfte van die oorspronklike 600 poste wat geraak sou word.

Mmoni Seapolelo, SAUK-woordvoerder, sê egter die finale getal oortollige poste hang af van die aanvaarding van voorgestelde alternatiewe, asook die hoeveelheid werkers wat vrywillige skeidingspakkette of vroeë aftrede gaan aanvaar.

Seapolelo sê die openbare uitsaaier is vol vertroue dat die afleggingsproses nou enige geregtelike ondersoek sal deurstaan en dat die arbeidshof in Desember verlede jaar bevestig het dat die SAUK genoegsaam oor die proses beraadslaag het.

“Die SAUK besef dat die afleggingsproses moeilik vir alle belanghebbendes was en emosies by tye hoog geloop het. Die verlengde proses het ook onsekerheid uitgerek,” het Seapolelo gesê.

“Dit was egter nodig as deel van die SAUK se omkeerplan om die openbare uitsaaier te herposisioneer, sy bestendigheid en finansiële volhoubaarheid te verseker en die SAUK toe te laat om sy openbare mandaat na te kom om alle Suid-Afrikaners in al ons tale en op alle platforms te bedien.”

Die afleggingsproses is in November tydelik opgeskort vir verdere onderhandelings tussen vakbonde en die bestuur, maar is later weer hervat.

Bemawu het die SAUK verlede maand boonop hof toe gesleep in ʼn poging om die hele afleggingsproses te stuit, maar die aansoek is van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.