Kontaksport, kultuur mag by skole hervat word

Argieffoto: pixabay.com

Kontaksport en kultuuraktiwiteite mag weer by skole hervat word nadat dit in Mei weens die derde koronavirusvlaag gestaak is.

Geen toeskouers word egter nog toegelaat nie.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het dié wysiging aan die regulasies Sondag in die Staatskoerant gepubliseer.

Die regulasies bepaal nou dat kontaksportsoorte, nie-kontaksportsoorte en oefening, asook kultuuraktiwiteite mag voortgaan en dat leerders weer teen mekaar en ander skole mag meeding.

Leerders word ook weer toegelaat om na ander skole of provinsies te reis om aan sport of kultuuraktiwiteite deel te neem indien die regulasies vir vervoer steeds nagekom word.

Kooroefening en koorkompetisies mag ook voortgaan mits dit in goed geventileerde areas of buite sonder enige toeskouers plaasvind en leerders ’n gesonde afstand handhaaf.

Ander voorwaardes sluit in

  • Die aantal leerders in venues waar die sport of kultuuraktiwiteite plaasvind, mag nie meer as 50% van die venue se kapasiteit oorskry nie.
  • In die buitelug is die perk op deelnemers (wat amptenare insluit) 100 mense en binnenshuis 50.
  • Maskers is verpligtend in die venues waar sport of kultuuraktiwiteite plaasvind indien leerders nie aan die aktiwiteite deelneem nie.
  • Geen drankies soos water of sportdrankies mag gedeel word nie.

Terug na gewone skoolrooster

Luidens die Staatskoerant keer laerskoolleerders van graad R tot graad 7 sowel as leerders met spesiale behoeftes van graad R tot 12 Maandag terug na die gewone skoolroostermodel wat voorsiening maak vir daaglikse bywoning.

’n “Risiko-aangepaste gedifferensieerde strategie” sal wel gevolg word wat daarvoor voorsiening maak dat aanpassings gemaak kan word sou die land se Covid-19-situasie dit noodsaak.

Skole wat nie in staat is om hierdie bepalings na te kom nie word versoek om die departementshoof van hul betrokke distrikskantoor teen Vrydag omtrent hul situasie in te lig.

Dié skole sal egter ’n geldige rede moet verskaf waarom hulle nie soos gebruiklik die rooster kan volg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blomme ·

Ek wonder net hoe sosiale afstand beheer gaan word met oorvol klasse in baie van die skole. Nie ń wyse besluit nie.

Fae Fubar ·

Jdb, ja en daar gaan sekerlik ‘n “maltitude” sportmanne aansteek op die veld…

Boerkind ·

Ek verstaan nie… spelers moet maskers dra as hulle op pawiljoene sit of langs die veld is, maar geen maskers is nodig tydens die spel nie…

Lionel ·

@Boerkind – hoe in die lewe wil jy ‘n sport beoefen met ‘n masker op?????

Venessa ·

Hoekom kan die mense wat wil betrokke wees nie ook maskers dra en afstand beheer toepas nie

Anel ·

Nou wonder ek maar net hoekom hulle altyd hulle aankondigings op ‘n Sondagaand maak? Hulle het mos al in die week geweet hulle gaan dit doen! En hoe kan iemand wat nou moeg gespeel us ‘n madker dra!! Hy het juis nou suurstof nodig! En al die bakterieë wat in geasem word!! Maskers is die groot broeiplek van virusse en suurstof tekorte. Laat die mense vry asemhaal. Dit is verniet!! Ek is bly die kinders kan weer begin doen waarvan hulle hou en geniet. Dit is so nodig vir hulle, geestelik en fisiek!

SwartBees ·

Asseblief moet my nie kruisig nie, maar hier kom die begin van die 4de golf.

Oom Kaspaas ·

Swartbees – Die Oostelike Provinsie het so 2 maande terug teen die Griekwas in ‘n rugbywedstryd gespeel, die Sondag na die wedstryd het 11 OP spelers en nog van hulle bestuur positief getoets vir Covid. Vir 80 min het hulle mekaar geduik, geskrum ens ens en daar het sleg EEN van die Griekwa spelers aangesteek … So moet asb nou nie slapende honde wakker maak waar dit nie nodig is nie.

SwartBees ·

Oom Kaspaas – Watch this space. Ek wil glad nie slapende brakke wakker maak nie, ongelukkig is realiteit ons nie goed gesind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.