Kontant vir stemme: ANC-raadslid ontken omkopery

Argieffoto

Argieffoto

Dan Bovu, burgemeesterskomiteelid van die ANC, het gerugte deur die EFF, dat hy kontant aangebied het vir opposisiepartye om seker te maak die ANC behou die Johannesburgse metro, verwerp.

Bovu het ook aangedui dat hy regstappe teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gaan onderneem.

“Ek neem met groot kommer kennis van die ernstige, lasterlike en valse bewerings van omkopery wat die EFF teen my gemaak het om hul Johannesburgse raadslede om te koop,” het Bovu Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Ek het nooit met enige EFF-raadslid vergader of enige omkoopgeld vir enigiemand aangebied om vir die ANC te stem nie. Ek beplan om ʼn saak van naamskending aanhangig te maak,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, beweer die burgemeesterskomiteelid het lede van sy party gekontak en hulle tot R500 000 aangebied in ruil vir ʼn stem vir die ANC by Maandag se raadsitting waar die nuwe burgemeester en speaker verkies moet word.

Bovu het gesê die ANC was al sedert die uitslag van die plaaslikeregeringsverkiesing bekend gemaak is, in gesprek met ander partye “wat dit duidelik maak dat hulle nie ʼn agenda verteenwoordig wat die veld wat ons as die ANC vir demokrasie sedert 1994 gewen het, ongedaan wil maak nie. Hierdie aandagsoekery deur die EFF kom ná dit wat Vrydag in Rustenburg gebeur het, toe kleiner partye saam met die ANC gewerk het om ʼn vennootskap van samewerking te vorm en die EFF te verwerp.”

Ndlozi het gesê die EFF beplan om ʼn strafregtelike saak teen Bovu oop te maak. “Die EFF in Johannesburg sal ʼn saak van omkopery teen die ANC-lid aanhangig maak, wat dink ons demokrasie is te koop. Die ANC in Johannesburg moet weet dat geen bedrag hulle ooit sal versoen met die mense wie hulle in ʼn openbare stem verwerp het nie. Die ANC moet sy nederlaag erken en nie probeer om verkiesing deur korrupsie te wen nie.”

Partye in Johannesburg moet ʼn burgemeester en speaker aanwys ná die plaaslikeregeringsverkiesing op 3 Augustus waar die ANC grond verloor het en versuim het om ʼn algehele meerderheid te bekom. Die Demokratiese Alliansie het intussen opposisiepartye uitgedaag om die ANC te ontsetel.

Die ANC het 121 setels in Johannesburg bekom teen die DA se 104. Die EFF het 30 setels tot sy beskikking. Die res van die 270 beskikbare setels is aan kleiner partye toegeken.

Parks Tau, burgemeesterskandidaat vir die ANC, het Sondag gesê alhoewel hy nie meer die burgemeester is nie, is sy party gereed om die opposisieparty se banke in die metro in te neem. Hy het aan verslaggewers gesê koalisiegesprekke met opposisiepartye duur voort en die uitslag sal Maandag bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zirk ·

En so sit dié breedsprakige, huigelagtige Parks Tau ewe kordaat op TV en vertel aan die hele SA dat hy Jhb soo goed bestuur het. En hy kan konsuis nie alles wat Apartheid opgemors het in die enkele 22 jaar kon regmaak nie. Nou wat het hy op sy wagbeurt gedoen.? Net op sy hande gesit.? Gaan kyk hoe lyk Commissionerstraat, die hele middestad asook Hillbrow. ‘n Morsige slumsbuurt.!

Jordaan ·

Daar is seker baie tendergeld op die spel as hulle soveel omkoopgeld kan bekostig

Lance ·

Waar n rokie is is daar …..ja n vuurtjie …hoekom is niemand verbaas oor dit nie …anc reputasie loop hulle vooruit !

Jan maak n Plan ·

Ja nee benoude katte maak benoude spronge ne. Ek hoop die DA begin n hekse jag op alles wat die ANC verkeerd gedoen het sodat diegene aanspreeklik gehou sal word.

Justice ·

‘n Blanke DA lid is ook in Potchefstroom vir R 150,000 gekoop! Politiek is ‘n vuil speletjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.