Kontantbetalings van Sassa-toelae binnekort by Poskantoor gestaak

(Argieffoto: SA Post Office/Twitter)

Ontvangers van maatskaplike toelae sal binnekort nie meer kontant by Poskantore of fisieke kontantbetalingspunte kan onttrek nie, het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en Posbank Maandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die uitfaseringsproses sal in Januarie 2024 geïmplementeer word. Daar word beplan dat alle betalings by fisieke kontantbetalingspunte en poskantore teen 31 Maart uitgefaseer sal wees.

Die aankondiging is deel van ʼn strategie om transitorooftogte, ongunstige toestande by fisieke kontantbetalingspunte, sowel as kapasiteit-uitdagings wat die poskantoor in die gesig staar, te verminder.

“Deur begunstigdes na ander nasionale betalingstelseltoegangskanale te skuif, los ons hierdie uitdagings proaktief op,” lui die verklaring.

“Ongeveer 98% van Sassa-begunstigdes gebruik reeds verskeie nasionale betalingstelselkanale om hul toelae te onttrek. Die meeste Sassa-begunstigdes sal dus nie deur hierdie verandering geraak word nie.”

Volgens die verklaring kan ontvangers van maatskaplike toelae – met ʼn goue kaart – wat kontant by poskantore of kontantbetalingspunte onttrek het, nou hul kaarte by enige bank of enige van die vyf vennootkleinhandelaars (Boxer, Pick n Pay, Spar, Shoprite, Usave en Checkers) gebruik.

“Dit sluit in die aankope by enige kleinhandelaar wat ʼn verkoopspunt het, of die onttrekking van fondse van enige kleinhandelaar wat ʼn kontantterugfunksie verskaf.”

Sassa en Posbank het benadruk dat die oorgang sinvol geïmplementeer sal word om te verseker dat niemand uitgelaat word nie.

“Die doel is om kontinuïteit in die betalings vir almal te verseker, en dat elke persoon sy en haar toelae op die mees doeltreffende, veiligste, betroubare en gerieflikste manier ontvang,” lui die verklaring.

“Ons wil graag die versekering herhaal dat Sassa-gouekaarte nie sal verval nie en ten volle geldig en operasioneel sal bly om maatskaplike toelaes te ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Die trek van Sassa geld by enige ander instansie as ‘n bank moet gestaak word. Almal het bankrekening en jy kan mos met jou Sassa kaart betaal

Yvonne ·

Alles maar alles waaraan die regering raak stort in duie….die armsters is die lydende party…hoe bitter tragies

annie ·

Ons het afgeleer om briewe en pakkies te pos op die ou manier. Dit is verby. Die sg redders van poskantore weet dit goed en sal lekker skep en dan maar weer stop… En weg is die reddingsboei…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.