Kontantlose Sassa-kitsbanke in Limpopo bekendgestel

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se nuwe kontantlose kitsbank in Ga Molepo, Polokwane (Foto verskaf/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ʼn nuwe kontantlose kitsbank Vrydag in Ga Molepo, Polokwane in Limpopo, bekendgestel.

“Die kontantlose kitsbank bied verligting aan huidige betaalpunte (poskantoortakke, kitsbanke en handelaars) en vergroot die getal Sassa [Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid]-betaalpunte ,” het Colleen Makhubele, woordvoerder van Sapo, in ʼn verklaring gesê. “Dit ondersteun dus ook die regering se vereistes wat sosiale distansiëring te midde van die Covid-19-pandemie betref.”

John Mpe, burgemeester van die Capricorn-munisipaliteit, het gesê die nuwe stelsel stimuleer plaaslike ekonomiese aktiwiteit, omdat begunstigdes hul toelaes plaaslik by handelaars kan spandeer en begunstigdes “rek die randwaarde van hul toelaag” omdat hulle nie meer iewers heen hoef te reis om die toelaes te ontvang nie.

Polokwane is die eerste plek waar dié diens beskikbaar is. “Ons is trots op die voordele wat die kontantlose kitsbank aan die mees kwesbare inwoners bied omdat hulle nie meer hoef te reis nie en dat ʼn bykomende kanaal beskikbaar gestel word aan Sassa-begunstigdes,” het Mpe gesê.

Die poskantoor voer aan die stelsel help ook om die verspreiding van Covid-19 te beperk omdat lang rye nie meer hoef te vorm vir die uitbetaling van toelaes nie. Die kitsbank reik ʼn geskenkbewys uit wat die begunstigde by ʼn plaaslike handelaar, insluitend informele winkels, kan verruil vir kontant of goedere.

Die poskantoor is van voornemens om 10 000 kontantlose kitsbanke reg oor Suid-Afrika te installeer. “Een van die belangrikste doelwitte van die poskantoor is om finansiële dienste na die mense toe te bring,” het Makhubele bygevoeg.

Handelaars wat graag ʼn kontantlose kitsbank wil installeer, kan die poskantoor per e-pos kontak by [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrè

Nou gaan van die handelaars weer ñ fooi vra om die sogenaamde vouchers te verruil

4ntj13

Ek hoop regtig die begunstigde se naam of ID nommer verskyn op die voucher, sodat handelaars ʼn bydrae kan lewer om SASSA- korrupsie hok te slaan!

Kobus

Die Masjiene is seker vir die R350 waarvoor so baie mense aansoek gedoen het en nog steeds voor wag.