Kontrak vir e-tol glo verleng

Argieffoto

Sanral se e-tol-invorderingsoperateur, Electronic Toll Collection (ETC), het die DA se uitsprake oor die omstrede Gautengse e-tolstelsel as “onverantwoordelik en irrasioneel” bestempel.

ETC het Donderdag ʼn verklaring uitgereik nadat Solly Msimanga, die DA se leier in Gauteng, aan joernaliste gesê het die ANC mislei Gauteng-inwoners oor die e-tolstelsel wat geskrap gaan word.

Msimanga het gesê terwyl die ANC, die Gautengse premier, David Makhura, en die SAKP ʼn protesoptog “teen hulself gehou het” om te eis dat die e-tolstelsel geskrap word, het hulle reeds ETC se kontrak verleng om voort te gaan met die invordering van e-tolgeld.

“Eerder as dat hulle eerlik is, het ons gesien hoe Makhura en die ANC op die emosies van die inwoners van Gauteng speel deur te beweer dat e-tol nie ʼn plek in die provinsie het nie en dat dit geskrap sal word,” het Msimanga gesê.

“[Panyaza] Lesufi [Gautengse LUR vir onderwys] het gesê die e-tolstelsel sal nie voortgesit word nie en hulle sal met die president gaan praat. Dit het intussen aan die lig gekom dat terwyl ons luister na die ANC wat sê die kontrak gaan geskrap word, het hulle dit laat hernieu.”

ETC sê op sy beurt dat totdat daar “volhoubare alternatiewe vir die stelsel gefinaliseer en op ooreengekom is”, sal eenvoudige skrapping van die stelsel lei tot die verlies van “al die tegniese kundigheid en toonaangewende infrastruktuur”, asook 1 300 werksverliese.

Volgens ETC is sy kontrak met Sanral in April 2017 heronderhandel. Die maatskappy se agt jaar lange operasionele kontrak en vyf jaar lange “agter die skerms”- kontrak is verander na kontrakte van ses jaar elk. Volgens ETC het dit “kommersieel en operasioneel sin gemaak” om die twee kontrakte te laat strook.

“ETC glo dit is onverantwoordelik en irrasioneel vir politieke partye soos die DA om te eis dat e-tol geskrap word totdat werkbare alternatiewe vir die stelsel gefinaliseer en op ooreengekom is.

“As die stelsel geskrap word, sal dit een van die besigste paaie in Afrika suid van die Sahara sonder slim verkeersbestuur of instandhoudingsdienste laat. Die hoogs gevorderde, slim stelsel wat op hierdie e-tolpadnetwerk opgerig is, is ontwerp om die vloei van verkeer te maksimaliseer en afskakeling van die stelsel sal lei tot erge verkeersopeenhopings in Gauteng,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

WW ·

Waarvan praat julle tog ETC? Daar is GEEN verskil wat betref die verkeersopeenhopings, ens nie. As julle praat van die elektroniese borde wat vir ons sê hoeveel minute nog tot by die volgende afrit – dankie man!

JohanL ·

Ekskuus tog – vertel my asb watse “slim verkeersbestuur” stelsel is daar? Sal graag wil weet?

Chris Ws ·

Wel ek weier steeds om te betaal.Ek bly in Noordwes en maak bitter min van die etol paaie gebruik.
Ek was gedwing om by ‘n paar geleendhede die etol roetes te ry agv spesialis besoeke vir my vrou vir die Pad Ongelukke Fonds se doel eindes.
Hulle is welkom om die geld wat ek kastig skuld by my op die plaas te kom haal.

Pieter ·

Ek sal nie `n sent betaal nie. Ek betaal reeds belasting op elke liter petrol.

Bollie ·

Wonder hoe die “slim verkeersbestuur” netwerk veronderstel is om die verkeer te laat verbeter, dis nie asof hul nog bane kan bou met die geld nie, daars is maatskappye al langs die pad van Pretoria tot Johannesburg, hulle bedoel seker om dit onbekostigbaar te maak en motoriste van pad af te hou ja

Gerhardb ·

Ek is ook ‘n Baie Trotse Nie-Betaler…..Stem saam met Pieter, Ek betaal reeds belasting op brandstof.

Snowball ·

Gaan kyk hoe lyk Giloolys, die R21 en die R24 in spitstyd en wys dan vir ons waar is die vloei van verkeer en dat die tolstelsel verkeersopeenhopings verhoed. Toltjol man!?

Pieter ·

En so gaan ons voort. Betaal al van die begin van etol met my skyfie. Wag nog al die jare om te sien wat gaan die staat doen met wan betalers. Weer ‘n paar mense wat betaal vir die meerderheid. Net soos met inkomstebelasting. Moeg vir SA en sy streke

Domvraag ·

Ja Pieter jy moet lekker betaal want jy is een van die wat om die bos gelei is. Pleks dat jy saamgestaan het tèen die betaling van etol dan kon die stelsel lankal al gevou het. So hou maar aan betaal met jou skyfie

Snowball ·

“Civil disobedience becomes a sacred duty when the state becomes lawless and corrupt.” – Mahatma Gandhi.
Ek glo nie iemand gaan sukkel om die korrupsie van die huidige regering te bewys nie Pieter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.