Kontrakteur ontvang miljoene vir onvoltooide pad

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Openbare Beskermer (OB) het bevind dat die Mahikeng- plaaslike munisipaliteit in Noordwes ʼn kontrakteur onregmatig vergoed het vir die teer van ʼn pad wat hy ná agt jaar nie kon voltooi nie. Die kontrakteur het byna R4,5 miljoen vir die projek ontvang.

Volgens adv. Busisiwe Mkhwebane het die munisipaliteit die kontrakteur R4 439 436,54, 14% BTW ingesluit, betaal om ʼn grondpad tussen Kaalpan en die Nooitgedacht-nedersetting (ʼn gebied tussen Mahikeng en Sannieshof) te teer. Dié projek is in Augustus 2011 van stapel gestuur en nooit voltooi nie. Die munisipale bestuurder moet nou met stappe begin om die betrokke amptenare te vervolg en geld wat vermors is, terug te kry.

Volgens die OB het haar kantoor in Oktober 2015 ʼn klagte van ene MW Tsatsimpe hieroor ontvang, waarna ʼn ondersoek van stapel gestuur is.

“My ondersoek het op drie kwessies gefokus. Eerstens of die munisipaliteit sedert Augustus 2011 onbehoorlik versuim het om die pad te teer. Tweedens of die munisipaliteit die kontrakteur onreëlmatig betaal het vir die onvolledige konstruksie van die pad wat tot onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes gelei het en laastens of die klaer en die gemeenskap van Kaalpan benadeel is deur die munisipaliteit se optrede,” het Mkhwebane verduidelik.

Die OB het nou bevind dat al drie aantygings gegrond is. Mkhwebane het haar bevindings Maandag gedurende ʼn mediakonferensie bekend gemaak.

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Volgens Mkhwebane het die voormalige hoof van die departement van paaie, AP Kembo, die betrokke bedrag wat aan die kontrakteur betaal is aan haar kantoor bevestig. Die munisipaliteit het egter versuim om die name van die betrokke munisipale amptenare wat die pad geïnspekteer en die betaling aan die kontrakteur gemagtig het, aan die OB se kantoor te voorsien.

Die OB het verder bevind dat die gemeenskap van Kaalpan in die proses benadeel is aangesien die onvoltooide pad gereeld oorstroom gedurende die reënseisoen. “Dit hou gevaar in vir die gemeenskap en het die potensiaal om skade te veroorsaak aan voertuie wat die pad gebruik,” het Mkhwebane verduidelik.

Die OB het nou die munisipale bestuurder versoek om binne 90 werksdae ’n volledige ontleding van haar verslag te doen om die volgende te bepaal: Die hoeveelheid werk wat nog aan die pad gedoen moet word, die koste daarvan en ʼn tydlyn waarin die uitstaande werk voltooi sal word.

Die bestuurder moet verder binne 120 werksdae van die OB se verslag vasstel hoeveel van die bedrag wat reeds aan die kontrakteur betaal is, hom nie toekom nie aangesien die projek nooit voltooi is nie. Daar moet ook met ’n regsproses begin word om die geld terug te kry en binne 60 werksdae dissiplinêre stappe teen diegene betrokke gedoen word.

Volgens die OB moet die bestuurder ook binne 60 werksdae van haar verslag die name van die betrokke amptenare wat die pad geïnspekteer en die betaling aan die kontrakteur gemagtig het, aan die Valke deurgee.

Die munisipaliteit moet laastens binne 30 werksdae van die OB se verslag skriftelik om verskoning aan die klaer en die gemeenskap van Kaalpan vra vir die onvoltooide pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Burgermeester ·

Dit is wat jy kry met BBBEEE. Ek wonder of daar een eerlike persoon in die regerende party is?

gatgogga ·

Die vermoede is, ja, daar is een eerlike persoon in die regerende party. Ondersoekbeamptes werk nou al jare volstoom om te probeer bepaal wie daardie verraaier is.

Jaco ·

Lyk my die praktyk is in werking in baie plekke. Ons reis gereeld vir werk Marblehall toe en die pad daar is ook nie klaar nie.

Martie Smartie ·

Ag nee wat as die OB dit bevind het, is dit waarskynlik foutief. Haar bevindings is nie die papier werd waarop dit staan nie.

Magda ·

ANC alweer – Hoelank gaan hulle nog aangaan met Korrupsie voor die NVG / Solidariteit / VF / AfriForum / gaan opstaan en se tot hier na toe en nie verder nie. Hoekom KAN daar niks aan hulle gedoen word nie, NIEMAND IS ONAA TASBAAR NIE – STAAN OP EN KRY HULLE UIT VOOR DAAR NIKS MEER OOR IS VAN SA NIE. STAAN OP – STAAN OP – NVG MAN UP – KOM SA STAAN SAAM EN KRY HULLE UIT ASB.

Die Wolf ·

Ewe Skierlik begin sy die ander van korrupsie beskuldig, maar wanneer dit by ou kekke laggie kom is sy doodstil

Kerneels ·

Ondersoek sommer ook die pad wat Juliasss in Limpopo moes bou.

Zacahara ·

Die OB was maar self nie baie haastig om die saak af te handel nie – amper 5 jaar..!!! Sou dit nou onvermoë wees, of bloot net onbevoegdheid?

Alida ·

Nou gaan dit nog 5 jaar vat en die skelms is lankal oor die grens!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.