ʼn Kontrakteur wat by die Johannesburgse parke-afdeling en dieretuin gewerk het, is Maandagoggend doodgeskok toe hy per ongeluk aan ʼn kragdraad geraak het terwyl hy bome gesnoei het.
Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê die kontrakteur en sy kollega was besig om die bome onder ʼn 88 kV-kragdraad te snoei in ʼn woongebied in Bedfordview in Johannesburg. Terwyl hulle besig was om die bome te snoei, het die kontrakteur aan die lewendige kragdraad geraak en is hy doodgeskok.
Die kragtoevoer na inwoners in dié woongebied is vir ʼn paar minute onderbreek, maar toe weer herstel.
City Power het ʼn permit aan die kontrakteurs uitgereik om die werk te doen, maar dit was vir ʼn ander gebied. Volgens die kontrakbestuurder was die kontrakteurs nie veronderstel om in die gebied te werk waar die kontrakteur die bome onder die lewendige kragdraad gesnoei het nie.
City Power asook die Johannesburgse parke-afdeling en dieretuin werk saam met wetstoepassers om die voorval te ondersoek.