Kontrakteurs wat staat besteel, moet op swart lys verskyn

Sihle Zikalala (Foto: KZN-regering/Facebook)

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Sihle Zikalala, het ʼn streng waarskuwing gerig aan konstruksiemaatskappye en ontwikkelaars wat infrastruktuurprojekte nie voltooi nie. Hy sê dié maatskappye sal op die swart lys geplaas en verbied word om verder sake met die regering te doen.

Zikalala het dié waarskuwing Vrydag tydens toesigbesoeke aan Parys en Bloemfontein uitgereik.

Die minister het die onvoltooide korrektiewe dienssentrum in Parys, ter waarde van R232 miljoen, asook die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein besoek.

Zikalala is vergesel deur die LUR vir openbare werke en infrastruktuur in die Vrystaat, Dibolelo Mance, asook die LUR vir gemeenskapsveiligheid vir paaie en vervoer, Maqueen Letsoha-Mathae.

Volgens Zikalala is dié twee fasiliteite onvolledig, met die voltooiingsdatum wat meer as vier jaar gelede verstryk het.

Dit is weens ʼn neiging dat konstruksiemaatskappye toenemend om likwidasie aansoek doen en dan sodoende nie die projek kan voltooi nie, al het die maatskappye reeds gedeeltes van die projekfondstoekenning geëis.

“Die werk word dan aan ʼn nuwe maatskappy oorgegee, wat die staat verder geld uit die sak jaag en tot vertragings in die lewering van sleutelinfrastruktuur lei,” sê Zikalala.

“As regering kan ons nie langer hierdie neiging duld dat projekte gestaak word weens konstruksiemaatskappye se onbevoegdheid nie. Ons moet projekte betyds afhandel. Dit verg behoorlike beplanning, monitering en gevolgebestuur.

“Ons behoort nie ʼn projek te hê wat in 2017 begin is en in 2023 nog onvoltooid is nie.”

In een projek is drie verskillende maatskappye aangestel, maar die projekte is nog onvoltooid.

Volgens Zikalala is die vertraging in konstruksie veral kommerwekkend wanneer fasiliteite ter sprake is waar dienslewering deur die polisie gelewer word om gemeenskappe veilig te hou.

“Dit is hoog tyd dat ons swak projekbestuur in regeringsprogramme aanpak.”

Min. Zikalala het ʼn oudit aangevra oor al die gestaakte en onvoltooide projekte, geskat op miljarde rande.

“Die departement van openbare werke en infrastruktuur moet die vertroue van departemente verdien as die eerste skakel in die werkverskaffingsketting en ons sal nie toelaat dat ons naam skade ly deur swak beplanning, projekbestuur en onbevoegdheid nie. Ons sal ons nie verbind met enige maatskappy wat swak presteer nie.”

Die minister sal binnekort met die infrastruktuur-teenkorrupsieforum vir die boubedryf vergader om maatreëls te beoordeel wat reeds ingestel is om die gevaar van korrupsie en bedrog binne die konstruksie- en infrastruktuursektor te bekamp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andries ·

“Show me…” Sulke BBBBB EEEEE besighede moes in 1e plek aangestel gewees het ni

Piet 6 ·

Dieselfde besigheid begin maar net onder ń ander naam besigheid doen. Ek het dit al baie gesien.

Papsak ·

Daar moes nooit so iets soos BEE gewees het nie hulle skrik bietjie laat wakker hoekom nou eers ag asb

JohanR ·

Dan moet die ANC homself op die swart lys gaan. Dink net hoeveel het Gwede Mantashe se vrou gemaak deur ‘n maatskappy op die been te bring, en dan steenkool aan Eskom te verkoop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.