Kontrakwerkers betoog steeds by Pta-universiteite

Die situasie vroeër by die Universiteit van Pretoria. Foto: @RRuffiez/Twitter

Die situasie vroeër by die Universiteit van Pretoria. Foto: @RRuffiez/Twitter

Bedrywighede by die Universiteit van Pretoria en die Unisa word steeds ontwrig deur betogende kontrakwerkers onder die vaandel van #OutsourcingMustFall.

Die werkers betoog sedert verlede Dinsdag teen die uitkontraktering van werk en vir hoër salarisse. Die gevolg was dat die universiteite hul registrasieproses moes staak.

Die werkers, wat na berig word skoonmaakdienste en veiligheidspersoneel insluit, dring daarop aan om onmiddellik deur die universiteite in diens geneem te word, asook ʼn minimum loon van R10 000 per maand. Sommige van die werkers beweer hulle verdien tans R2 500 per maand.

Tuks en Unisa het reeds interdikte teen die stakers bekom. Teen Maandag was Tuks steeds gesluit weens dreigemente van geweld en intimidasie nadat gesprekke oor die naweek ʼn dooiepunt bereik het. Aanlyn-registrasies gaan egter voort. Die universiteit sal direk met studente en hul ouers in verbinding bly.

Unisa het Maandag weer sy deure vir registrasie op sy Sunnyside-kampus oopgemaak. Swaar gewapende polisie- en veiligheidsbeamptes is egter op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat betogers vroeër daar byeengekom het.

“Al ons kampusse is weer oopgemaak. Ons sal aanhou om ons studente te registreer en die situasie te monitor,” het Martin Ramotshela, Unisa se woordvoerder, gesê.

Ntando Sindane, die studenteverteenwoordiger van die EFF by Unisa, het egter gesê hulle sal nie die kampus verlaat alvorens daar aan al die werkers se eise voldoen is nie. “Ons sal die polisie en universiteit se bestuur konfronteer as ons moet en ons sal seker maak dat registrasie nie plaasvind nie,” het Sindane gesê.

Intussen het die Universiteit van die Witwatersrand gesê registrasie op die kampus duur voort en dat daar teen Maandagmiddag nie enige ontwrigtings was nie. Sommige studente op dié kampus het verlede week daar betoog en registrasie ontwrig onder die #FeesMustFall-vaandel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bella ·

Begin sommer iets soos #TerroristsMustFall! Die mense terroriseer mos nou die ander wat wil registreer en studeer! Hoekom geniet hulle reg om te betoog voorkeur bo die studente se regte? Nee jong. Bedank en soek ander werk as jy nie gelukkig is nie.

Frederik ·

Die personeelagentskappe wat die huidige kontrakwerkers geplaas het, kom nie tans hul kontrakte na nie, want hul werkers staak. Hoekom kanselleer die universiteite nie hul huidige kontrakte nie, want daar moet seer sekerlik ‘n klousule in die kontrakte wees wat dit moontlik maak.
In so ‘n geval sal die personeelagentskappe die persele, waar veronderstel is om ‘n diens gelewer te word, onmiddelik moet ontruim, personeel en al. Dan kan geen staker meer aandring op ‘n permanente pos by die betrokke instansie nie, want hy/sy werk nie meer op die perseel nie.
Kry dan volgende week ‘n ander kontrakteur.

DPJ ·

Stutente wat nie kan/wil betaal nie kan mos beurte maak om die dienste by werkers oor te neem. Hulle is dan nie so swaar las op die staat nie.

CHRISTA ·

I rest my case!! Waar moet die universiteit fondse kry om salarisse te betaal as die studente VERNIET wil studeer?!!

Henri ·

Hoe werk ‘n Interdik nou weer? My gat se deksel. Ek verstaan niks meer nie……….seker dir ouderdom, geheue nie meer so goed nie.

pop ·

Nou ja toe, vir wat wil die kinders gaan leer. Word n skoonmaker en verdien R10,000 n maand en dan werk jy net helfde van die jaar want die res van die tyd betoog jy lekker met” song and dance”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.