Konvokasie reageer op ‘slegs Engels’ by Maties

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch. (Argieffoto)

Die uitvoerende komitee van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het voorvalle veroordeel waar studente glo deur studenteleiers verbied word om Afrikaans op die kampus te praat.

“Die komitee doen ʼn beroep op die universiteitsbestuur om studenteleiers wat hulle hieraan skuldig maak, aan te spreek en studenteleiers op te lei om ʼn positiewe taalomgewing te vestig,” het die komitee Dinsdag gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat verskeie studente die afgelope paar dae by Maties se verwelkomingsweek glo voor stok gekry is wanneer hulle Afrikaans praat, na bewering selfs in informele gesprekke of wanneer almal in die groep Afrikaanssprekend is. Verskeie klagtes is ook reeds by die organisasie StudentePlein hieroor ingedien.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is boonop reeds in 2021 getaak om ondersoek na ʼn beweerde verbod op Afrikaans op die US-kampus in te stel nadat die DA ʼn klag by die kommissie aanhangig gemaak het.

“Hoewel die komitee kennis neem dat die eerste sodanige geval waaroor tans berig word, plaasgevind het in ʼn koshuis [Isa-dameskoshuis] wat nie aan die universiteit behoort nie, neem studente van die koshuis ten volle deel aan die studenteleweprogramme van die universiteit.

“Daarbenewens stem dié klagtes ooreen met vertroulike inligting wat komiteelede intussen oor soortgelyke insidente by ander koshuise ontvang het. Sulke voorvalle by die universiteit, gegewe die hangende ondersoek na soortgelyke beweringe sedert 2021 deur die MRK, moet in ʼn baie ernstige lig beskou word.”

Die eerste voorval waarna die komitee verwys het op 4 Februarie plaasgevind toe die primaria van die Isa-dameskoshuis eerstejaars op pad na ʼn kampusaktiwiteit glo op ʼn “aggressiewe wyse” gewaarsku het dat hulle slegs Engels mag praat. “I don’t care if your mammie and pappie speaks Afrikaans at home, you’re in Isa now,” is daar glo aan die student gesê.

Die komitee stem voorts saam met die standpunt van die MRK by monde van André Gaum, kommissaris van dié kommissie, dat sodanige verbod op tale benewens Engels ongrondwetlik is, en op ʼn skending van menseregte neerkom.

Die komitee sê dit is “noodsaaklik en dringend dat studenteleiers wat hulle skuldig maak aan taaluitsluitende gedrag aangespreek word, en dat koshuis- en studenteleiers opgelei word om ʼn taalpositiewe omgewing te help skep eerder as ʼn eentalige omgewing af te dwing”.

Die US-bestuur moet ook voor oë hou dat die studenteleiers ampsdraers van die universiteit is, meen die komitee.

Hulle sê verder dat herhaaldelike bewerings en klagtes soos hierdie die universteit in ʼn slegte lig by alumni plaas, en die US se saak by die MRK aansienlik kan verswak.

Die komitee versoek nou om op die hoogte gehou te word van verdere stappe wat deur die US gedoen sal word om die bewerings en klagtes te hanteer.

AfriForum Jeug het intussen ook aangedui dat hy ʼn brief aan prof. Wim de Villiers, visekanselier van die US, gestuur het waarin antwoorde oor die jongste bewerings geëis word.

“Hierdie bewerings oor Maties, asook die onlangse insident by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, spreek van die toksiese omgewing wat op Suid-Afrika se universiteitskampusse geskep word,” het René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Taalminderheidsgroepe word geboelie en studente word op grond van hul ras uitgesluit. Dit is ontstellend dat daar by Afrikaanssprekende studente ʼn vrees gesaai word om hul moedertaal te praat.”

Die universiteit het onderneem om Maandag reeds op navrae te reageer, maar het teen Dinsdag laatmiddag nog geen kommentaar op die saak gelewer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dit is boeliegedrag en ‘n verdere skandvlek op die naam van wat eens ‘n uitsonderlike universiteit was. Ongelukkig is Stellenbosch onkeerbaar oppad om maar net nog ‘n vervalle Afrika-instelling te word – tot in die afgrond “getransformeer.”

Willie J ·

Diegene wat studente viktimiseer om net Engels te praat weet baie goed hulle oortree die basiese regte van studente in terme van die grondwet. Skors hulle en die nonsens sal onmiddellik stop.

david ·

As die bewerings oor die insident by die ISA koshuis waar is, moet die betrokke “boelie” se naam openbaar gemaak word.
Die Universiteit het nie gehuiwer om die student betrokke by die urine voorval te identifiseer nie, dus behoort die skuldige by Isa ook geidentfiseer word. Hierdie was ‘n vorm van haatspraak.
Daar was al hoevele klagtes oor diskriminasie teen Afrikaans,en telkensword beweer dat Maties “ondersoek” sal instel…..en daar eindig dit.
Identifiseer die skuldige taal boelie , dan sal hierdie tipe insidente dalk einde kry.

Samuel ·

Die US stel nie belang in die welstand van jong Afrikaanse studente nie; slegs hulle geld en die MRK is ‘n nuttelose instelling. Malema Regskommissie.

Wildemien ·

Haai nee man, hoe is jy nou? Hulle “ondersoek” darem nie net nie; hulle “veroordeel” ook……whoopee!
En moenie die pers gesigte destyds op elke voorblad vergeet nie. Wys daai Engelssprekende dame van Isa! Ek dare julle.

Conraad ·

Ek kwoteer: “Die komitee doen ʼn beroep op die universiteitsbestuur om studenteleiers wat hulle hieraan skuldig maak, aan te spreek en studenteleiers op te lei om ʼn positiewe taalomgewing te vestig.”
Nou hoekom dink ek dat, as daar studenteleiers was wat ander sou forseer om Afrikaans te praat, daardie sin sou lees “Die komitee dring daarop aan dat universiteitsbestuur vir studenteleiers wat hulle hieraan skuldig maak, te vervolg en vir sulke studenteleiers te skors”?

Paul ·

Want Wim weet as hy sover gaan om taal boelies se name te openbaar en te vervolg en te skors, dan beteken dit “vowlence” op kampus en die boelies weet dit.

Adam ·

Hulle praatjies en dade verskil
Ek gee reeds my bydrae aan Academia
Baai US.
Julle sal weldrae tot terug in die steentydperk getransformeer wees. Die res v SA het aanbeweeg.

Cornel ·

My dotgter sou in maties studeer ,nou Sal dit nie gebeur nie,al hoe die institute leer is as geld opdroog

annie ·

Wim de Villiers is ‘n hergebore Ingelsman en getroud met ‘n Ingelse Lady. Sy hond verstaan ok net English. Wim is seker in ‘n Engelse kerk tensy die US ge-new-age gewôrre is. Vir seker sal ‘n Afrikaanse wat nog enigsins na Afrikaner ruik, nie in die US-nes inspraak mag lewer nie ooreenkomstig die verloop van ons geskiedenis sedert Engeland die Kaap+ gevat het. Die grootste diamant in die kroon wat Charles glo gaan dra met sy kroning kom uit Cullinan.. Geskenk deur die Britte ná Transvaal oorwin is en 28 000 Afrikanervroue en -kinders eers in kampe moes sterf. Sien?

Nico ·

Hierdie probleme het alreeds in die 1800s gebeur, kinders wat Afrikaans gepraat het op skool se boude het gebrand, met Angloboere oorlog het die Britte hoeveel vrouens en kinders in die Egelse moordkampe gruwelik mishandel. Die Britte was behep met die grond stowwe wat hier ontdek is, hulle het net eending voor oë gehad en dit is geld. Die mense moet ophou met hierdie dinge, dit diskriminasie, wat het die Engelse het niks hier verloor nie, gaan terug Engel land toe.

christo ·

Afrikaanse universiteite gebou met Afrikaner geld. Nou is Afrikaanssprekendes onwelkom. As dit die teenoorgestelde was, was daar oproer en die geriewe afgebrand.
Wys my universiteit wat post 1994 deur ons liewe ANC regering gebou is, waarvan die kwalifikasies erken word in die buiteland soos bv. Europa?

Wildemien ·

Ooee daarsy nou! Oom Wim begin nou die vervreemde alumni aan sy sak voel! Vatso katvis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.