Koop weer jou brandstof in ʼn kan

Vulstasies mag nou amptelik weer brandstof in kanne aan die publiek verkoop. (Foto: Nguyen Minh, Unsplash)

Vulstasies mag mense nou weer wettiglik help wat brandstof in kanne en houers wil koop. Agt maande nadat die departement van mineraalbronne en energie dié regulasie afgekondig het, is dit teruggetrek, hoewel met ʼn groot gesukkel.

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het kort nadat die aankondiging gemaak is, druk op die departement uitgeoefen om die verbod op die kleinhandelverkope en verspreiding van petrol en diesel in houers terug te trek.

“Op 15 Julie 2021 het Saai se prokureurs aan die minister geskryf en gevra dat dié irrasionele regulasies dringend teruggetrek word. Op 16 Julie 2021 het die minister aangekondig dat hy gehoor sal gee. Dit is egter nooit gedoen nie,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Gevolglik het Saai se prokureurs op 22 Julie 2021 en 4 November 2021 weer aan die minister geskryf en hom versoek om die departement se belofte gestand te doen en die regulasies terug te trek. In Desember 2021 het Saai hofstukke teen die minister uitgereik om die terugtrekking van die regulasies af te dwing.”

Rossouw het aan Maroela Media gesê boere in KwaZulu-Natal en Mpumalanga het verlede week vir Saai gebel en gesê daar is steeds vulstasies wat weier om brandstof in kanne aan hulle te verkoop.

“Ons het toe die hofstukke formeel aan die minister beteken, waarop die minister onderneem het om die regulasie terug te trek. Die terugtrekking is in vandag se Staatskoerant afgekondig.”

Dié verbod is tydens die nasionale onluste en plundering in Julie verlede jaar ingestel om paniekaankope te verhoed en lede van die publiek te beskerm.

“Die onrus is nou lankal iets van die verlede. Brandstofvoorraad in die land is lankal stabiel. Daar is nie meer ʼn behoefte aan enige beperking nie. Die verbod het reeds ʼn nadelige uitwerking gehad op die bedrywighede van baie boere wat nie soos voorheen brandstof in houers kon koop nie. Dit is jammer dat ons op die ou end die hof moes nader om die departement te dwing om dié irrasionele en nadelige regulasies terug te trek,” sê Rossouw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Useless, wat soek hul in poste as die Hof namens hul moet besluit en opdrag gee??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.