Koos Human se afsterwe betreur

Koos Human. Foto: Verskaf

Koos Human, een van die invloedrykste figure in die ontwikkeling van die Afrikaanse uitgewerswese, is verlede week in die ouderdom van 87 in sy huis in Kaapstad oorlede na ʼn lang siekbed.

NB Uitgewers het gesê Human is aan longontsteking dood.

Human het die uitgewershuis Human & Rousseau saam met Leon Rousseau in 1959 gestig, nadat hy sedert 1954 by Nasionale Boekhandel naam gemaak het as uitgewer van algemene publikasies.

Human & Rousseau het in die 1960’s die toonaangewende uitgewer van Afrikaanse literêre publikasies geword. Werke deur NP Van Wyk Louw, DJ Opperman en Elisabeth Eybers en later Etienne Leroux, André P Brink en Breyten Breytenbach het bygedra tot dié uitgewer se dinamiese groei.

Volgens Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, was Human veral bekend vir die besonderse manier waarop hy die uitgewer se verhouding met skrywers tot ’n fyn kuns vervolmaak het.

“Onder Human se leiding het Human & Rousseau nie alleen die klem sterk laat val op die inhoudelike versorging van boeke nie, maar ook op hul voorkoms en die gehalte van drukwerk.”

Volgens Wessels was Human ’n leiersfiguur vir sowel skrywers as uitgewers. Hy was in die vroeë  1980’s bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, waar hy gesorg het vir baanbrekerswerk ten opsigte van tantième aan skrywers, asook bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging in die 1980’s en 1990’s.

Nadat Human & Rousseau in 1977 aan Nasionale Pers verkoop is, het Human aangebly as besturende direkteur. Ná sy aftrede aan die einde van 1994 was hy ’n tyd lank redakteur van die meningstydskrif Insig.

Human was ook as musiekliefhebber en kenner van ballet bekend. Hy was lank betrokke by die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste as voorsitter van die musiek- en balletkomitee. Hy het radio- en musiekrubrieke vir Die Burger geskryf.

Hy is in 1959 getroud met Nakkie, dogter van NP Van Wyk Louw, en drie kinders, Joan, Maria en Jacobus, is uit hul huwelik gebore. Nadat Nakkie hom in 1984 ontval het, is hy in 1986 getroud met Trewhella Cameron.

“Human was ’n kleurryke persoonlikheid wie se aandeel aan die ontwikkeling van die uitgewersbedryf in Suid-Afrika onvolprese is. Ons gaan jou verskriklik mis,” het Wessels gesê.

Reëlings vir ’n gedenkdiens sal aangekondig word sodra dit gefinaliseer is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. die eerste ·

Groot verlies. Besit baie boeke van die uitgewers en natuurlik sy eie bydrae Die A-Z van Klasieke Musiek is heerlik om in naslaanwerk te doen oor komponiste ens.

Charles ·

R.I.V. Mnr Human-, u teenwoordigheid en groot gees sal gemis word, maar hopelik sal daar ‘n nog groter persoonlikheid opstaan om die vaandel namens Afrikaans by u oor te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.