Koperdiefstal is ekonomiese sabotasie, sê Mbalula

Fikile Mbalula (17 Februarie 2020) (Foto: Bongani Shilubane/African News Agency/ANA)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag in die parlement aangevoer koperdiewe moet van ekonomiese sabotasie aangekla word, en nie gewone diefstal nie.

Mbalula het aan die portefeuljekomitee oor vervoer gesê koper spoorwegkabels word deur Mosambiek na Indië uitgevoer deur sindikate en om eenvoudig die verdagtes van diefstal aan te kla, takel nie die probleem wat die spoorweë lamlê nie.

“Vir hierdie misdade moet jy tronk toe gaan. Dit is ekonomiese sabotasie,” het hy gesê.

Volgens hom word die verdagtes vinnig op borgtog vrygelaat en sal waarskynlik “dieselfde middag nog” weer kabels steel, omdat dit so ʼn winsgewende praktyk is. Hy meen werknemers van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) werk ook saam met die diewe en sindikate.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid beraam kabeldiefstal kos die ekonomie tussen R5 miljard en R7 miljard per jaar.

Mbalula versoek ook behoorlike intelligensie-ondersoeke om te bepaal wie die meesterbreine is wat verantwoordelik is daarvoor dat treine aan die brand gesteek word. Hy het verwys na tieners wat in November verlede jaar in Kaapstad aangekeer is ná hulle 18 treinwaens aan die brand gesteek het, aan polisie gesê het hulle het “gespeel”. “Dis 03:00 en hulle sê hulle het gespeel. Om 03:00?!” Skade uit dié brandstigting het meer as R60 miljoen beloop.

Albert Fritz, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, het in daardie stadium gesê persone, wat betrokke is by aanvalle op die spoorwegstelsel, sal in die toekoms vervolg word kragtens die onlangse Wet op die Beskerming van Kritieke Infrastruktuur wat vonnisse van tot 20 jaar kan beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan Venter ·

Dis baie erger, ek sal hulle eerder van ekonomiese verraad aankla!

henndrik ·

Daar moet wette ingestel word dat koper nie deur skrootmetaal werwe aangekoop of vrkoop mag word nie. Indien hulle met koper betrap word moet daar groot boetes wees en die skrootwerf gesluit word. Skep ‘n gereguleerde mark soos met goud

Sarel ·

Ekonomiese Sabotasi e ….. het hy nuwe woord geleer. Die volledige Regeringstelsel van die Parlement tot by Munisipaliteite pleeg die soort Sabotasie.

Snowball ·

Staatskaping en korrupsie in staatsondernemings is ekonomiese sabotasie, o intellektuele reus.

Nell ·

Plaasmoorde is ekonomiese sabotasie en verraad in die ergste graad, want dit ondermyn voedselsekerheid en sakevertroue. Dit behoort as ‘n halsmisdaad verklaar te word!

twaalfboor ·

Om ñ onbevoegde minister te wees is ook sabotasie. Ek skryf minister met ñ klein letter want dis wat die amp werd is deesdae.

Jannie van Niekerk ·

Dit is so, maar die huidige Suid Afrikaanse Parlement is nog groter saboteurs van ons land se Ekonomie met hulle hoë slarisse en byvoordele wat hulle glad nie behoort te verdien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.