Koperdiewe kom hul moses teë in Orania

Theuns, Peet, Ettienne en Hennie van die OVD (Foto: Orania-dorpsraad/Facebook)

Lede van Orania Veiligheidsdienste (OVD) het saam met plaaslike boere en die SAPD Donderdag in die vroeë oggendure ʼn suksesvolle reaksie-operasie uitgevoer en drie vermeende koperdiewe, wat die omgewing met kriminele aktiwiteite geteister het, in hegtenis geneem.

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê OVD is ‘n professionele en geregistreerde veiligheidsmaatskappy en ʼn vol filiaal van Orania-dorpsraad. Die OVD se personeel bestaan uit ʼn kombinasie van professionele en vrywillige lede waarvan sommige spesialisopleiding ontvang om hulle take te kan uitvoer.

“Lede van die OVD het die afgelope week die aktiwiteite van ʼn kriminele bende wat die omgewing met misdaad geterroriseer het, gemonitor,” sê Strydom.

“Ná verskeie voorvalle waar veral koperkabels van spilpunte op omliggende plase gesteel is, het OVD se spanne en vrywilligers ʼn hommeltuig, honde, nagsigtoerusting en voorafopgestelde kameras op plase rondom Orania ingespan. Lede van die OVD, wat die OVD-taakspan, reaksiespan, reserwegroep en AfriForum Protospan insluit, het Donderdag weer inligting ontvang van ʼn misdaad en spanne is met hulle toerusting ontplooi.”

Van die spanne het as stoppergroepe opgetree, terwyl ander die verdagtes deur nagsigtoerusting dopgehou het, en deur radio-kommunikasie die spanne tot by die verdagtes gelei het.

“Toe die veiligheidspanne inbeweeg het vir die inhegtenisneming, het die vermeende diewe probeer ontsnap en is deur veiligheidspersoneel ingehaal. Drie verdagtes, twee diewe en die bestuurder van die wegkomvoertuig, is in hegtenis geneem. ʼn Saak is by die Suid-Afrikaanse polisie aanhangig gemaak.”

Die verdagtes word volgens SAPD inligting ook moontlik aan ander rooftogte en dwelmbedrywighede verbind.

“Orania se veiligheidsgroepe werk goed saam met ander rolspelers, insluitend die plaaslike boerderygemeenskap, ander veiligheidsgroepe en die SAPD.”

Theuns Wessels, weerbaarheidsbestuurder by die OVD, het gesê dat die verskillende spanne goed saamgewerk het tot ʼn gemeenskaplike doel. “Ons kon daarin slaag om met samewerking en die aanwending van tegnologie doeltreffend te ontplooi en weereens ʼn goeie wen vir die veiligheidspoging in die streek te kry.”

Ettiene de Lange, hoof van die OVD, het hierby aangesluit. “Deel van Orania se veiligheidstrategie lê daarin om die streek te help beveilig. ʼn Veilige streek beteken ʼn veilige Orania.”

Verteenwoordigers van die gemeenskap het hulle dank teenoor die spanne uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Dit is soooooo bakgat goed om te lees ……. Baie geluk…. en meer as dit … Baie dankie Manne van Koper !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.