Kopgekrap oor Zuma se ‘groot aankondiging’

Jacob Zuma (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrikaners is behoorlik aan’t gons oor oudpres. Jacob Zuma wat later vandag (Saterdag) ʼn “spesiale aankondiging” oor sy politieke toekoms gaan maak.

Die land krap egter kop oor wat dié aankondiging gaan wees, maar talle bespiegel dat Zuma hom weer aktief by die politiek gaan betrek.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê daar is in hierdie stadium gerugte dat ʼn nuwe party by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer is en dat dit die naam van die militêre vleuel van die ANC dra, uMkhonto weSizwe.

“Dit is moontlik dat Zuma vandag gaan aankondig dat hy die leisels van dié party gaan neem en dat hy in volgende jaar se nasionale verkiesing gaan deelneem,” sê Duvenhage.

Zuma het vroeër vandeesweek aangekondig dat hy die media Saterdag in Soweto oor die aangeleentheid gaan toespreek. Die Jacob Zuma-stigting het dit ook bevestig.

“Dit is nie die Suid-Afrika waarvoor ons geveg en baie mense gesterf het nie,” lui die amptelike uitnodiging.

Die “groot aankondiging” beloof dat almal teenwoordig “getuies gaan wees van die begin van ʼn nuwe hoofstuk in die politiek”.

“Dit is die begin van ʼn nuwe Suid-Afrika wat ons almal verdien,” lui die uitnodiging.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen gesê dat hy en die ANC “kennis sal neem” van Zuma se aankondiging.

Skommeling kom

Duvenhage sê die politiek het onlangs verskeie herposisionerings gesien deur Mavuso Msimang, die ANC-veteraan wat verlede week aangekondig het dat hy sy lidmaatskap van die ANC opsê en toe sy bedanking teruggetrek het.

Dieselfde met Ace Magashule wat sy eie party gestig het en Carl Niehaus wat by die EFF aangesluit het.

Sou Zuma die aankondiging maak dat hy wel ʼn nuwe party op die been gebring het en aktief daarby betrokke gaan wees, gaan dit dalk ʼn skommeling – veral in KwaZulu-Natal – veroorsaak.

“Ons weet dat Zuma ʼn sterk man is met aansien in KwaZulu-Natal en sou hy die besluit neem en ʼn nuwe party tot stand bring, is dit moontlik dat hy ondersteuning in dié provinsie kan mobiliseer. Dit is reeds bewys met die geweld wat in 2021 kort voor sy inhegtenisneming uitgebreek het,” sê Duvenhage.

“Dit sal wel ʼn ongelooflike slag vir die ANC in KwaZulu-Natal wees, wie se ondersteuning reeds bietjie wankelrig in die provinsie is.”

Volgens Duvenhage het die ANC reeds baie ondersteuning teen die IFP en ʼn moontlike koalisieregering in die provinsie verloor. Dit beteken dat die ANC die risiko loop om in die komende verkiesing sy greep op KwaZulu-Natal te verloor.

“Die stigting van ʼn nuwe party, veral een waarby Zuma betrokke is, sal hierdie scenario nog meer laat realiseer.”

Zuma sal na verwagting om 14:00 sy aankondiging by die Ipelegeng-gemeenskapsentrum in Soweto maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.