‘Koppe moet rol’ by sukkelende Landbank – Agri SA

Die landbouorganisasie Agri SA het Vrydag vir dringende ingryping gevra nadat dit onlangs bekend geword het dat Landbank ’n finansiële verlies van R2,8 miljard vir die jaar tot 31 Maart 2020 gely het vergeleke met ʼn verlies van R902 miljoen in die vorige jaar.

“Koppe moet rol op bestuurs- en regeringsvlak. Dit geld ook vir die nasionale tesourie wat verantwoordelik is vir toesig,” meen Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Volgens Van der Rheede is dit onwaarskynlik dat die tesourie onbewus was van Landbank se finansiële krisis aangesien dit nie oornag plaasgevind het nie.

Hy wys daarop dat die ouditeur-generaal (OG) in ’n verslag bevind het dat die probleme by Landbank toegeskryf kan word aan ʼn uittog van bekwame bestuurders, ʼn gebrek aan toesig deur die nasionale tesourie, wat die Suid-Afrikaanse regering as enigste aandeelhouer van die bank verteenwoordig, die afgradering van die bank se kredietgradering asook droogtetoestande wat dit moeilik gemaak het vir boere om hul lenings terug te betaal.

Die OG se verslag verwys ook na ʼn gebrek aan interne beheermaatreëls wat deur die bestuur geïmplementeer is om vir kredietverliese te kompenseer.

Die OG noem ook dat die finansiële state wat tydens ʼn oudit ingedien is, nie volgens die voorgeskrewe finansiële verslagdoeningsraamwerk aangebied is nie. Die state is ook nie deur volledige rekords soos die wet vereis gesteun nie. Volgens die OG was daar boonop ʼn gebrek aan voldoende, toepaslike ouditbewyse om as basis vir ʼn ouditmening te dien.

Van der Rheede glo diegene wat verantwoordelik was vir die opstel van die state, moet verantwoordelik gehou word.

“Dit beteken dat die leierskap nie voldoende toesig gehou het oor finansiële verslagdoening, nakoming en verwante interne beheermaatreëls nie.”

Hy wys verder daarop dat die OG in haar verslag na onvoldoende interne beheer oor en bestuur van instrumente en modelle vir die monitering van verwagte kredietverliese verwys. Die kredietverliese is nie gereeld opgedateer met betroubare kredietinsetdata nie wat beteken dat die OG nie die beoordeling van verwagte kredietverliese op alternatiewe maniere kon bevestig nie.

“Die bestuur het dus nie voldoende toesig gehou oor die ontwikkeling, implementering en monitering van aksieplanne om aandag te gee aan tekortkominge in terme van interne beheer rakende die sekuriteit wat lenings benodig nie, soos voorgeskryf deur internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde.”

Volgens Van der Rheede is dit dus nie verbasend dat Landbank se kontantreserwes wat vir korttermyn- en noodfinansieringsdoeleindes eenkant gehou word met byna 80% afgeneem het tot R700 miljoen vergeleke met R3,2 miljard in die vorige jaar nie.

“Hierdie vlak van onbevoegdheid kan nie misgekyk word nie. Koppe moet rol,” sê Van der Rheede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.