Korkie-gesin sal donasies gebruik vir “nuwe begin”

Pieter-Ben, Yolande en Lize-Marie Korkie. Foto: Werner Beukes/SAPA

Pieter-Ben, Yolande en Lize-Marie Korkie. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Korkie-gesin sal die R1,7 miljoen wat ingesamel is vir Pierre se vrylating in Jemen, gebruik om ʼn “nuwe begin” te maak.

“Dis net Yolande en die twee kinders wat oor is en hulle moet ʼn nuwe begin maak,” het Daan Nortier, woordvoerder van die familie, gesê. Volgens Nortier was die geld wat in Suid-Afrika ingesamel is nooit deel van die finale ooreenkoms wat tussen Gift of the Givers en Korkie se ontvoerders bereik is nie en was dit nie nodig om sy vrylating te verseker nie.

Nortier het gesê die donasies het wel ten doel gehad om by te dra tot Pierre se terugkeer en die gesin se hervestiging in Suid-Afrika aangesien hulle in Jemen gebly het. Volgens hom is die geld al voor Korkie se dood na Jemen gestuur maar is dit nou in Suid-Afrika beskikbaar vir Yolande en die twee kinders.

Nortier het gesê Yolande, Pieter-Ben (17) en Lize-Marie (15) is steeds in skok na Pierre se dood. “Yolande is ‘n vrou van geloof en sy word deur haar geloof gedra,” het hy gesê.

Korkie en die Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers is op 6 Desember dood na ʼn mislukte poging om hulle van Al-Kaïda-militante te bevry.

Gift of the Givers, wat gehelp het met onderhandelinge om hom vry te laat, het gesê Korkie is dood ʼn dag voordat hy veronderstel was om vrygelaat te word.

Pierre en Yolande is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het. Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis.

Klik hier vir vorige berigte oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.