Korkie: Regering betuig simpatie

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Sondag hulle medelye met die Korkie-familie uitgespreek nadat Pierre Korkie Sateroggend dood is tydens ʼn poging om gyselaars in Jemen te bevry. Lees meer hier.

“Die Suid-Afrikaanse regering betoon hul innige medelye met mnr. Korkie se familie en vriende vir hulle verlies,” het Dirco in ʼn verklaring gesê. Hulle het ook hul medelye betoon teenoor die geliefdes van die oorlede Amerikaanse gyselaar.

Dirco het gesê die Suid-Afrikaanse regering het “verskeie inisiatiewe” deur die voormalige adjunkminister en die ambassadeur in Saoedi-Arabië van stapel gestuur om Korkie se vrylating te verseker.

“Daarom is ons hartseer dat die ontvoering op die tragiese dood van mnr. Korkie uitgeloop het – ʼn man wat nie skuldig is aan enige misdaad nie,” het Dirco gesê.

“Min. Maite Nkoana-Mashabane spreek namens die Suid-Afrikaanse regering hul ferm en onvoorwaardelike veroordeling uit teenoor alle vorms van terrorisme wat gereeld lei tot sinnelose lyding en die verlies van onskuldige lewens.”

Nkoana-Mashabane het Sondag ʼn telefoniese gesprek met haar Jemense eweknie gehad oor Korkie. Volgens Dirco het die Jemense minister sy regering en mense se meegevoel met die regering en mense van Suid-Afrika uitgespreek.

Korkie se liggaam sal na verwagting Maandag in die land aankom.

Volgens die stigter van Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, het die militante beoog om Korkie Sondag vry te laat, terwyl die Amerikaanse president, Barack Obama, gesê het die Amerikaner, Luke Somers wat saam met Korkie dood is, se lewe was ernstig bedreig.

Die Sunday Times het egter berig die woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, Nelson Kgwete, sê die bewering dat Korkie se vrylating op hande was,was net ‘n gerug.

Volgens Kgwete hou die Amerikaanse magte Korkie se liggaam op ʼn geheime plek in Jemen en dat die departement reëlings wil tref om die liggaam huis toe te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.